Enigeen wat al die Universiteit Stellenbosch (US) se Departement Joernalistiek besoek het, sal weet Elizabeth Newman is die hart en siel van die kantoor. “Moederowerste”, soos haar kollegas haar goediglik noem, is al die afgelope 14 jaar die administratiewe beampte van die Departement.
Ons het Mei met die gedenking van Werkersdag ingelui en ons dra hierdie reeks artikels op aan ons personeel en hul belangrike bydrae tot die US. In hierdie onderhoud vertel Newman ons meer oor haar werk.
Wat behels jou rol by die US?
Ek is die administratiewe beampte van die Departement Joernalistiek, ʼn nagraadse departement van die US. Ek is nie net vir die administrasie van die studente en personeel verantwoordelik nie, maar ook vir die Departement se finansies. Ek maak seker al die studente is korrek geregistreer en ek verrig regdeur die jaar take soos die oplaai van punte, beursuitbetalings, kaarttoegang tot die gebou en algemene studente-administrasie. Ons programme word deur spesialiste in die joernalistieke veld onderrig en ek reël hul vlugte en sorg dat hulle huisvesting het gedurende hul tyd by die Departement. My werk is uitdagend, maar ek probeer altyd my bes vir almal doen, hetsy ʼn student, ʼn personeellid of iemand wat net oor ons programme en/of die Departement navraag doen.
Hoe lyk ʼn tipiese werkdag?
Nie een dag is dieselfde nie. Ek het gewoonlik ʼn doenlysie van die vorige dag af, maar ek ontvang dringende versoeke nog voor my dag begin. Dit wissel van papier wat in die drukker vassteek en nie deur studente of lektore reggemaak kan word nie, tot versoeke vir die uitteken van toerusting.
Die heen-en-weer-kommunikasie oor besprekings vir vlugte, reisdatums, huisvestingsversoeke en pendelvervoer-besprekings vir besoekende lektore verg baie van my tyd. Die Suid-Afrikaanse Leerstoel in Wetenskapkommunikasie het ook vanjaar by ons Departement aangesluit en ek help met die finansiële aspekte van dié Afdeling. Ek moet toesien dat hul besprekings en betalings vir navorsingseminare, spyseniersdienste en ander finansies betyds afgehandel word. Versoeke vir aankope en betaling van fakture is daaglikse take. My assistent maak seker ek kry elke nou en dan ʼn koppie koffie om my deur die dag aan die gang te hou.
Hoe het jou opvoeding of jou vorige ervarings jou vir hierdie rol voorberei?
Ek was ʼn onderwyser voor ek by die US aangesluit het. Ek neem aan my werk met jong kinders van 7-13 jaar het my geleer om geduld en deernis te hê. Studente kom menige dag na my kantoor om iets in vertroue te deel, hul hart uit te huil of sommer net informeel te gesels. Weens dié moederlike rol het prof Lizette Rabe, die vorige Hoof van die Departement, my die bynaam “Moederowerste” gegee. Om deel van ʼn span te wees het sy uitdagings, maar dis baie vervullend. Ons is ʼn klein departement, maar ons ondersteun mekaar en ek voel ek word waardeer vir wie ek is.
Wat geniet jy die meeste van jou rol en werk by die US?
Dit verskaf my groot vreugde om met en vir die studente te werk. Ek ontmoet elke jaar nuwe studente wat vir die BA Hons- en meestersprogramme inskryf. Die honneursstudente is heeltyds by die Departement en om met hulle interaksie te hê, die hoogte- en laagtepunte van die program saam met hulle te beleef, asook om hulle te sien sukkel en dan hul doelwitte te bereik, maak my werk die moeite werd. Ek geniet dit ook om mede-personeellede persoonlik te ontmoet wanneer ek op die kampus rondloop en ʼn gesig aan ʼn e-pos te kan koppel of die mens agter die e-pos te kan leer ken. Persoonlike kontak is belangrik in my werk, want ek weet nooit wanneer ek dalk iemand se hulp gaan nodig hê of andersom nie.
Vertel ons iets opwindend of interessant oor jouself wat min mense sou verwag?
Ek is die trotse ouma van twee: ʼn 10-jarige meisie en ʼn 7 week oue seuntjie. En dan is ek en my man baie lief vir padreise, hetsy per motorfiets op die Tuinroete of om ons land en buurlande soos Namibië met ons TT (Toyota Tazz) te verken. Ons ry eerder as om te vlieg. In 2015 het ons byvoorbeeld van Stellenbosch na Lesotho, Swaziland en al langs die kus van KwaZulu-Natal na Durban en terug gereis. Die reisgogga het my gebyt en ek wens ek het meer tyd en geld gehad om te reis.
Foto: Stefan Els