Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldhipertensiedag: Beleide om hipertensie, diabetes te voorkom moet gemeenskaps-behoeftes aanspreek
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 17/05/2023

Nieoordraagbare siektes (NOS's) soos hartsiektes, kanker, chroniese asemhalingsiekte en diabetes is die vernaamste oorsake van vroeë sterftes wêreldwyd. Mense wat aan hipertensie (hoë bloeddruk) en diabetes lei, het 'n groter waarskynlikheid om hartsiektes – wat jaarliks meer as 17,7 miljoen sterftes veroorsaak – op te doen. Ten einde die risikofaktore vir hipertensie en diabetes in Suid-Afrika aan te spreek, moet beleide en programme (ingrypings op bevolkingsvlak) op die onderliggende sosio-ekonomiese, omgewings-, gedrags- of kulturele omstandighede fokus waarin mense lewe en werk.

Dít is volgens 'n studie* deur navorsers by die Departemente Globale Gesondheid in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch. Die studie het onlangs in die eweknie-beoordeelde vaktydskrif BMC Health Services Research verskyn. Dit is deel van 'n groter studie  ̶   Medewerking vir bewysgebaseerde Gesondheidsorg en Openbare Gesondheid in Afrika (CEBHA+)  ̶  oor ingrypings op bevolkingsvlak om hipertensie en diabetes in die land in toom te hou.

Die navorsers het onderhoude gevoer met kundige besluitnemers soos bestuurders, direkteure en beleidsmakers wat deel was van die beplanning en ontwikkeling van beleide, programme of ondersteunende omgewings vir die voorkoming en bestuur van hierdie siektes. Hierdie besluitnemers was verbonde aan nasionale en provinsiale regeringsdepartemente, agentskappe wat by NOS-programme betrokke is, nieregeringsorganisasies, die voedselbedryf en akademiese en navorsingsinstellings.

Die navorsers het as deel van hulle studie die Wêreldgesondheidsorganisasie se Globale Strategie vir Dieet, Fisieke aktiwiteit en Gesondheid as 'n raamwerk gebruik en het op drie kategorieë gefokus – ondersteunende beleide, ondersteunende programme en ondersteunende omgewings. Ondersteunende beleide is fiskale, wetgewende en regulerende maatreëls wat risikofaktore vir hipertensie en diabetes kan teiken. Ondersteunende programme kan op nasionale, distriks- of gemeenskapsvlak aangebied word wat mense bereik waar hulle woon, studeer of werk. 'n Ondersteunende omgewing verwys na aktiwiteite wat die skep van omstandighede beïnvloed waarin gesonde keuses die makliker opsie vir mense is.

Die navorsers sê in die aanloop na Wêreldhipertensiedag (17 Mei) hulle studie toon sommige van die belangrikste instaatstellers en uitdagings aan vir die beplanning en ontwikkeling van geteikende intervensies op bevolkingsvlak om die risikofaktore vir hipertensie en diabetes te verminder.

Instaatstellers

“Die besluitnemers met wie ons gepraat het, het skakeling en medewerking tussen belanghebbendes, die kontekstualisering van beleide en programme, voortgesette monitering en evaluasie en organiese groei as van die belangrikste instaatstellers vir beleidsvorming beklemtoon. Hulle het die waarde van vennootskappe tussen gemeenskappe, bedrywe, die akademie en toepaslike regeringsdepartemente genoem.

“Hulle het ook gesê dit is belangrik dat beleide op die behoeftes van die gemeenskap moet reageer en 'n openbaregesondheidstelselbenadering gevolg moet word, aangesien dit noodsaaklik is vir die beplanning van intervensies en die skep van ondersteunende omgewings dat 'n balans gevind word tussen die ekonomiese en voedingsbehoeftes van mense wat 'n hoër risiko vir hipertensie en diabetes het.

“Deelnemers het ook die behoefte aan die monitering en evaluasie van beleide en programme beklemtoon ten einde byvoorbeeld positiewe verandering, inligting oor verbruikersperspektiewe en verdere inligting wat toekomstige beleidsformulering sal rig, vas te vang. Nog 'n instaatsteller was beplanningsprogramme wat organies kan ontwikkel uit kleiner inisiatiewe wat positiewe resultate in evaluasie toon."

Sleuteluitdagings

Volgens die navorsers is 'n gebrek aan tyd, hulpbronne en finansiering, 'n gebrek aan konsultasie met belanghebbendes, regulasies en wedywerende prioriteite, en ondoeltreffende monitering en evaluasie, ván die sleuteluitdagings in die formulering van ondersteunende beleide en programme en die instaatstelling van ondersteunende omgewings.

“Die besluitnemers het byvoorbeeld aangedui dat 'n gebrek aan tyd tot gevolg gehad het dat die Nasionale Strategiese Plan vir die Voorkoming en Beheer van Nieoordraagbare Siektes 2020–2025 (NOS-strategie) sonder veel konsultasie met belanghebbendes ontwikkel is. Hulle wys daarop dat beleidsformuleringsprosesse onder verdenking geplaas word. Die suksesvolle inwerkingstelling en aanvaarding deur belanghebbendes word ook in gevaar gestel indien daar nie met die belangrikste belanghebbendes, veral gemeenskappe, gekonsulteer word en hulle inkoop nie verkry word nie.

“Hulle sê ook mededingende belange tussen die regerings- en ander sektore het 'n nadelige invloed op beleide en programme wat gemik is op die vermindering van risikofaktore vir hipertensie en diabetes. Mededingende prioriteite het onetiese borgskappe tot gevolg gehad – soos bedrywe wat 'n ongesonde dieet deur borgskappe van regeringsgeleenthede bevorder en dan teenstrydige boodskappe aan die publiek uitstuur.

“Volgens hulle het mededingende belange, die gebrek aan aanvangsdata en elektroniese moniteringstelsels dit moeilik gemaak om die uitwerking van intervensies te meet en om beleide te verfyn en te verbeter, soos gesien in die Strategiese Plan vir die Voorkoming en Beheer van Nieoordraagbare Siektes 2013–2017 en die Regulasies oor die Vermindering van Natrium in Sekere Voedselsoorte en Verwante Sake."

Die navorsers sê die sienings van die besluitnemers dui daarop dat medewerkende beplanning en deelname, finansiering, betroubare evaluasiedata, asook 'n versigtige assessering van gemeenskappe se behoeftes en omstandighede noodsaaklik is om beleide en programme suksesvol te beplan en te formuleer ten einde die risikofaktore vir hipertensie en diabetes te verminder.

Hulle voeg by dat die haalbaarheid en volhoubaarheid van programme slegs verseker kan word wanneer die hulpbronne verskaf word en omgewings in staat gestel word om 'n gesonde leefstyl in gemeenskappe te bevorder.

  • Bron: Hendricks, L; Uwimana‑Nicol, J; & Young, T 2023. Decision makers perceptions and experiences of developing population‑level interventions targeting risk factors for hypertension and diabetes in South Africa: a qualitative study. BMC Health Services Research (2023) 23:146: doi.org/10.1186/s12913-023-09135-x

*Hierdie studie is deur die Medewerking vir bewysgebaseerde Gesondheidsorg en Openbare Gesondheid in Afrika-projek (CEBHA+) ondersteun wat deur die Duitse Federale Ministerie van Onderwys en Navorsing gefinansier is as deel van die Navorsingsnetwerke vir Gesondheidsinnovasie in Afrika suid van die Sahara-befondsingsinisiatief. CEBHA+ is 'n konsortium van nege vennote uit ses lande wat daarop gemik is om langtermynkapasiteit en infrastruktuur vir bewysgebaseerde gesondheidsorg en openbare gesondheid in Afrika suid van die Sahara te vestig, asook om navorsingsinrigtings in Afrika te versterk en om bekwaamheid in die begrip van vinnige opname van bewyse in gesondheidstelselinstellings te bou.