Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Afrika-afdeling van CliMigHealth vind tuiste by US
Outeur: SU International
Gepubliseer: 05/05/2023

Om sy baanbrekerwerk in die stryd teen klimaatsverandering en die bou van veerkragtigheid verder te versterk, is die Universiteit Stellenbosch (US) nou ook die tuiste van die CliMigHealth-Stellenbosch Afrikasentrum, die Afrika-afdeling van 'n internasionale netwerk wat deur die Universiteit van Gent, België, gekoördineer word. Die bekendstelling van die sentrum is op Vrydag 24 Maart 2023 by die pas opgeknapte US Biblioteek aangebied.

Ter viering van die geleentheid het US Internasionaal as gasheer opgetree vir 'n senior afvaardiging van die Universiteit van Gent en die US se Skool vir Klimaatstudie, van waar CliMigHealth bedryf sal word. Die Gent-afvaardiging, waaronder viserektor prof Mieke van Herreweghe van die Universiteit van Gent en ander eregaste, was in Suid-Afrika as deel van die groter nasionale Belgiese staatsbesoek.  

Platform vir streeksamewerking

CliMigHealth is 'n Engelse akroniem vir 'klimaat', 'migrasie' en 'gesondheid'. Dié transdissiplinêre interuniversiteitsprojek wil die wisselwerking tussen hierdie drie gebiede van nader ondersoek. Die visie van die projek, wat in 2020 by die Universiteit van Gent gestig is, is om aanpassing by, die tempering van en gereedheid vir huidige en toekomstige uitwerkings van klimaatsverandering te verbeter, die rol en impak van migrasie beter te verstaan, en veerkragtige, inklusiewe en responsiewe gesondheidstelsels te skep.

Benewens die Afrikasentrum by die US, sal Latyns-Amerikaanse en Asiese sentrums ook in die loop van 2023 by onderskeidelik Lancet Migration in Lima, Peru, en die Verenigde Nasies Universiteit se Internasionale Instituut vir Globale Gesondheid (UNU-IIGH) in Koeala Loempoer, Maleisië, tot stand gebring word.

Die sentrum sal 'n platform vir streeksamewerking tussen universiteite, verskillende dissiplines en organisasies sonder winsoogmerk skep en dit sodoende moontlik maak om Afrikaspesifieke bevindinge onder mekaar uit te ruil. Op grond dáárvan sal die streek sy eie prioriteite vir onderwys en navorsing oor die klimaat, migrasie en gesondheid kan bepaal, wat op sy beurt in pasgemaakte plaaslike gemeenskapsgebaseerde inisiatiewe omskep kan word.

Brief van voorneme formaliseer samewerking

Sowel Robert Kotze, senior direkteur van US Internasionaal, as prof Guido van Huylenbroeck, direkteur van Internasionalisering by Gent, het by die bekendstelling hierdie nuwe fase van samewerking tussen die twee instellings en met die res van Afrika verwelkom om wêreld- en streeksuitdagings die hoof te bied. Die US se Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, prof Sibusiso Moyo, het dít beaam.  

Ander sprekers op die program was prof Guy Midgley, direkteur van die US se Skool vir Klimaatstudie, dr Christan Lueme van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, en dr Charlotte Scheerens, CliMigHealth-koördineerder by Gent.  

Daarbenewens het die Skool vir Klimaatstudie, die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe en die Universiteit van Gent ook van dié geleentheid gebruik gemaak om 'n brief van voorneme te onderteken om oor vak- en universiteitsgrense heen saam te werk om van die dringendste kwessies in die moderne samelewing te help oplos. 

Uitstalling beklemtoon menslike element

Die bekendstelling het ook die foto-uitstalling Strength and resilience in the Western Cape deur die bekende Suid-Afrikaanse fotojoernalis en visuele kunstenaar Gulshan Khan ingesluit. Haar werk toon hoe die klimaat, migrasie en gesondheidsorguitdagings mense se lewens raak, en hoe belangrik dit dus is om dringend oplossings te kry. Die hele US-gemeenskap sal nog geruime tyd toegang tot die uitstalling hê. 

Link to photo album:  CliMigHeath launch pics