Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US die gehalteversekeraar van internasionale skoolverlaterskwalifikasie IEB ISS
Outeur: SU International
Gepubliseer: 04/05/2023

Die Eenheid vir Internasionale Kwalifikasies by die Universiteit Stellenbosch is die eksterne gehalteversekeraar van die eerste Afrikagerigte internasionale skoolverlatersertifikaat, die Internasionale Sekondêre Sertifikaat (ISS). Die kwalifikasie is deur die internasionale afdeling van die Onafhanklike Eksamineringsraad (IEB-Internasionaal) ontwikkel.

'n Eerste kohort graad 12-leerders het die IEB se ISS-eksamen in Oktober en November 2022 afgelê. Die kohort het in graad 10 en 11 die IEB se Nasionale Senior Sertifikaat-kurrikulum gevolg en in graad 12 na die IEB ISS oorgeslaan. Altesaam 489 kandidate het die eksamen by 16 sentrums in Eswatini, Mosambiek en Namibië geskryf.

Om te sorg dat die eksamen billik, betroubaar en geldig is, het die US se Internasionale Kwalifikasie-eenheid 52 vraestelle en gepaardgaande assesseringsdokumente vir 32 vakke gemodereer en goedgekeur. Daarbenewens het hulle IEB-Internasionaal se eie interne gehalteversekeringsprosesse nagegaan en die ISS-uitslae gestandaardiseer en vir vrystelling goedgekeur.

Die IEB ISS word as 'n bekostigbare internasionale skoolverlaterskwalifikasie van gehalte beskou. Kandidate wat die ISS met lof of op 'n gevorderde vlak slaag, voldoen aan die minimum vereistes vir toelating tot die meeste tersiêre graadprogramme.