Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe verslag toon US se bydrae tot “die Afrika wat ons wil hê”
Outeur: SU International
Gepubliseer: 05/05/2023

Die Universiteit Stellenbosch (US) se heel eerste jaarverslag oor volhoubare ontwikkeling is amptelik in Maart 2023 bekend gestel. Dit het saamgeval met die viering van 30 jaar van internasionalisering by die Universiteit.

Die verslag, Sustainable development for the Africa we want 2021/2022, is teen die einde van 2022 gepubliseer. Dit beskryf die US se bydrae tot volhoubare ontwikkeling op sowel streeks- as wêreldvlak aan die hand van onderskeidelik die Afrika-unie (AU) se Agenda 2063 en die Verenigde Nasies (VN) se Agenda 2030.

Onbeplan, maar van onskatbare waarde

Die publikasie is 'n onbeplande neweproduk van die werk van US Internasionaal se SDG/2063 Impakkantoor, wat in 2021 tot stand gebring is om uitsluitlik op die Universiteit se volhoubare ontwikkelingswerk te konsentreer. (Lees hier onder vir meer oor die sentrum.) Kort nadat dit gestig is, het die kantoor met omgewings deur die hele US in gesprek getree om te bepaal aan watter gebiede en volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (SDG's) hulle die meeste in hulle navorsing, onderrig en sosiale-impakwerk aandag skenk. 'n Werkgroep met verteenwoordigers van US-afdelings soos Navorsingsontwikkeling, Inligtingsoorsigbestuur, Informasietegnologie, Sosiale Impak en Fasiliteitsbestuur het Universiteitswye bydraes help identifiseer en dokumenteer. 
 
Die hoofdoel was aanvanklik om 'n webtuiste te skep wat die US se werk per VN- en AU-doelwit ten toon stel. Die webtuiste, https://susdev.sun.ac.za, is intussen gebou en bied 'n oorsig van die Universiteit se inisiatiewe onder elke doelwit, die instelling se kampvegters vir volhoubare ontwikkeling, studiemoontlikhede op die terrein van volhoubare ontwikkeling, en algemene programme by die US wat volhoubare ontwikkeling bevorder. Nietemin het die proses ook 'n aantal interessante verhale en bewyse aan die lig gebring, wat 'n toegewyde publikasie oor die jaar se hoogtepunte geregverdig het.

Gestruktureerde verslagdoening

Die verslag paar elk van die 17 SDG's met hulle ooreenstemmende AU-doelwit(te) om 'n gestruktureerde oorsig van die Universiteit se volhoubare ontwikkelingswerk te voorsien. Onder SDG 2 (“Geen hongersnood") en AU-doelwit 5 (“Moderne landbou vir groter produktiwiteit en produksie") bied dit byvoorbeeld inligting oor die Universiteit se verskillende voedselsekerheidsprojekte, waaronder #Move4Food en die Spensprojek, AgriWetenskappe se graadprogramme in Akwakultuur en Volhoubare Landbou, en die openbare lesings van die US se Suider-Afrikaanse Voedsellaboratorium.

Onder die kombinasie van SDG 6 (“Skoon water en sanitasie") en AU-doelwit 7 (“Omgewingsvolhoubare klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe") wy die verslag uit oor die Universiteit se hipermoderne gryswaterstelsels en waterslim boupraktyke, en die werk van die US-gekoördineerde AUDA-NEPAD Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (SANWATCE).

Inisiatiewe onder SDG 13 (“Klimaatsaksie") en AU-doelwitte 6 en 7 (“Die blou/oseaan-ekonomie vir versnelde ekonomiese groei" en “Omgewingsvolhoubare klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe") sluit in die werk van die US se Skool vir Klimaatstudie, die Sentrum vir Hernubare en Volhoubare Energiestudie, en die waagmoedige strategieë in die Universiteit se Omgewingsvolhoubaarheidsplan. 

Werk aan die tweede uitgawe van die verslag het reeds begin.  

Meer oor die SDG/2063 Impakkantoor

Die SDG/2063 Impakkantoor in US Internasionaal se Sentrum vir Samewerking in Afrika wil die US se bydrae tot die AU se Agenda 2063 en die VN se Agenda 2030 versterk en 'geletterdheid' in volhoubare ontwikkeling bevorder. Hiervoor skep die kantoor bewustheid van bestaande SDG-verwante aktiwiteite, smee vennootskappe vir navorsing en onderwys, versamel en konsolideer data, meet die US se impak, en kommunikeer dié inligting so wyd moontlik. Die einddoel is dat die kantoor se werk die Universiteit sy doel van sistemiese volhoubaarheid sal help bereik.