Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Liezel Frick: Hoe om kreatiwiteit deur doktorale onderrig te help ontsluit
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 02/05/2023

Prof Liezel Frick, Vise-dekaan: Navorsing en Nagraadse Studies in die Fakulteit Opvoedkunde aan die Universiteit Stellenbosch, het onlangs haar intreerede gelewer met die titel “'Not just another brick in the wall': The role of doctoral creativity in educating future generations of researchers".

Frick het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar werk ons begrip van doktorale onderrig help verbeter.

Vertel ons meer oor jou navorsing en wat jou belangstelling in hierdie spesifieke veld geprikkel het.

Al lê my navorsingsbelangstellings en dié van my studente breedweg in hoër en volwasse onderrig, beskou ek my werk oor doktorale onderrig as ʼn interessante intellektuele projek. Hierdie belangstelling spruit uit my eie doktorale studie, wat op die professionele ontwikkeling van lektore in die natuurwetenskappe gefokus het.

My data het getoon dat die doktoraat ʼn belangrike drempel na ʼn akademiese loopbaan in hierdie konteks is, wat my ook oor my eie doktorale reis laat nadink het. Ek het veral in die lewering van ʼn oorspronklike bydrae begin belangstel, wat van werk op ʼn doktorale vlak oor dissiplines en nasionale stelsels heen verwag word. Was my werk oorspronklik? Was dit oorspronklik genoeg?

Ek het baie min literatuur oor die onderwerp gevind, asook baie anekdotiese getuienis dat toesighouers (en eksaminators) dikwels ʼn onuitgesproke begrip van die konsep het, eerder as ʼn uitdruklike ooreenkoms wat gebruik kan word om doktorale studente leiding te gee. My vrae oor die regte wêreld het toe ʼn werklike en volgehoue navorsingsfokus geword.

Hoe sou jy die relevansie van jou werk beskryf?

Baie van my werk het gefokus op die ontrafeling van konseptuele en praktiese strikvrae in doktorale onderrig, met inagneming van die mense (studente en toesighouers) agter die navorsing.

Die werk vul gapings in ons begrip van doktorale onderrig, maar die relevansie daarvan word duideliker wanneer hierdie akademiese bydraes toegepas word – dikwels in die vorm van kortkursusse vir toesighouers oor dissiplines, instellings en nasionale hoëronderwysinstellings heen.

Ek het die voorreg gehad om kortkursusse, werksessies en hoofredes by konferensies wêreldwyd aan te bied aan wyd uiteenlopende akademiese gehore, wat doktorale studente en/of toesighouers ingesluit het. Ek meen die relevansie van my werk word binne hierdie interaksies duideliker.

Watter aspekte van jou werk geniet jy die meeste?

Ek geniet samewerkende navorsing, veral wanneer ons grense met sodanige werk kan oorsteek (hetsy dissiplinêre of nasionale grense). Ek geniet dit ook om deure vir ander oop te maak om saam te werk en te groei, veral vir vroeëloopbaan-navorsers. Netwerke laat die akademiese wêreld draai. Ek was nog altyd beter met samewerking as met mededinging.

Dit kan soms ʼn uitdaging wees om in hoër onderwys te werk. Wat hou jou gemotiveerd wanneer dinge rof raak?

Om te reis en belangstellings en ervarings met kollegas wêreldwyd te deel en mekaar op verskillende maniere te ondersteun. Dis maklik om te dink die gras is elders groener, totdat jy in ander kontekste begin werk en hulle uitdagings en bekommernisse leer ken.

Jy het jou stempel op die gebied van opvoeding afgedruk. Wat is jou boodskap vir die volgende generasie vroue-opvoedkundiges?

Om ʼn intellektuele projek te hê wat jou belangstelling kan aanhou prikkel en ander by jou navorsing sal betrek, is ʼn nuttige wegspringplek. Dit sal meebring dat jy jou fokus en jou mense vind; moenie orals alles vir almal probeer wees nie. Bou betekenisvolle verbintenisse en werk saam – jy hoef nie die wêreld op jou eie te verander nie. Moenie deure agter jou toemaak nie; as iemand jou ʼn guns bewys het, doen dieselfde vir iemand anders. Dink na oor hoe jou werk diegene kan bevoordeel wat ná jou kom. En ten slotte is daar geen plaasvervanger vir harde werk nie.  

Vertel ons iets opwindends oor jou lewe wat mense nie sou verwag nie.

As ek ʼn keuse gegun is, sou ek eerder wou skilder of vee op die rug van ʼn perd aankeer as enigiets anders.