Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
‘Teiken spesifieke groepe wyndrinkers vir beter verkope’ – navorsingstudie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 25/04/2023

Wynmakers (en wynmaatskappye) kan hulle verkope verbeter deur ge

teikende strategieë te ontwikkel om verskillende groepe wynverbruikers te bereik. Marksegmentasie kan hulle help om 'n beter begrip van die eienskappe, voorkeure, belangstellings en behoeftes van verskillende groepe wyndrinkers te kry.

Dit is volgens Carna Myburgh wat onlangs haar meestersgraad in Ondernemingsbestuur aan die Universiteit Stellenbosch behaal het.

Weens die beperkte kennis van verskillende Suid-Afrikaanse wynsegmente, het Myburgh verskillende verbruikersgroepe volgens hulle betrokkenheid (kennis van wyn en bywoning van wynverwante geleenthede) by wyn, hulle motiewe vir die drink van wyn en hulle aankoopgedrag ondersoek.

Sy het fokusgroepbesprekings met 'n groep wynverbruikers gehou, 'n Switserse vraelys oor wynmarksegmentasie by ons plaaslike konteks aangepas en toegepas, en het ook data gebruik wat deur 'n Suid-Afrikaanse wynnavorsingsmaatskappy versamel is.

Myburgh kon vyf wynmarksegemente identifiseer, naamlik die winskopiejagter-wynverbruiker, die wyntradisionalis, die wynentoesias, die wynintellektueel en die basiese wynverbruiker.

Volgens haar kan hierdie segmentasie help om rigting te gee aan geteikende bemarkingstrategieë wat op die spesifieke behoeftes van hierdie onderskeie groepe gerig is.

Sy sê die wynverbruikers wat aan haar navorsingstudie deelgeneem het, het oor die algemeen 'n gemiddelde kennis van wyn gehad en het wynseminare bygewoon, wynkelders besoek, wynproeë gedoen en wyntoere meegemaak.

“Wanneer hulle wyn vir eie gebruik koop, skenk hulle aandag aan die intrinsieke aspekte van die wyn, die beoordeling daarvan, aanbevelings deur ander, die wyn se herkoms en of dit 'n winskoop is. Hulle oorweeg dus kenmerke soos die inligting op die etiket, die oesjaar, die oorsprong van die wyn, die druifsoort, die alkoholvlak, die vervaardiger of handelsnaam en die prys."

Myburgh wys daarop dat winskopiejagters wyn drink vir die pret en om sosiaal te verkeer. Hulle hou ook daarvan om wyn saam met kos te geniet. Wanneer hulle wyn koop, soek hulle hoofsaaklik na promosie-aanbiedinge.

“Wyntradisionaliste drink ook wyn vir die pret en om sosiaal te verkeer, maar doen dit ook omdat dit deel van hulle familietradisie of kulturele agtergrond is. Hulle skenk aandag aan intrinsieke aspekte, winskopies, erfenis en aanbevelings deur vriende, kennisse en verkoopspersoneel wanneer hulle wyn koop.

“Dit geld ook vir wynentoesiaste en wynintellektueles wat wynkenners is. Hulle waardeer egter die intellektuele uitdaging van wyndrink. Hulle drink wyn vir gesondheidsverwante redes. Afgesien van die intrinsieke aspekte van wyn, aanbevelings en die wyn se herkoms, oorweeg albei hierdie segmente die beoordeling wat 'n spesifieke wyn ontvang het.

“Basiese wynverbruikers drink net by geleentheid wyn vir pret of saam met kos. Wanneer hulle wyn koop, is hulle geneig om net aandag aan die 'intrinsieke aspekte' van die wyn te gee," voeg sy by.

Aanbevelings

Wynbemarkers moet in die toekoms pasgemaakte strategieë gebruik om die verskillende groepe wyndrinkers te teiken, beveel Myburgh aan.

“Hulle kan vir winskopiejagters koepons, beperkte afslag of 'promokodes' (promosie-afslagkodes) op sosiale media aanbied.

“Wynbemarkers kan vir hulle promosies in die winkels aanbied en wynkelders kan kompetisies en promosie-aanbiedinge skep wat vereis dat verbruikers besonderhede oor die wynkelder op sosiale media deel. Hulle kan ook hierdie verbruikers deur innoverende en stylvolle wynverpakking teiken.

“Aangesien wyntradisionaliste geneig is om lojaal te bly aan 'n spesifieke handelsnaam, moet bemarkers die langtermynlojaliteit by hierdie verbruikers kweek deur direk met hulle te skakel deur terugvoer en deur weeklikse of maandelikse nuusbriewe met inligting oor die bekendstelling van nuwe produkte, spesiale aanbiedinge en belangrike wynverwante nuus aan hulle te stuur. Bemarkers kan ook wyntradisionaliste met spesiale afslag en aanbiedinge beloon."

Myburgh voeg by dat wynentoesiaste wat gereeld wynverwante geleenthede bywoon, onder meer deur wynverwante boeke, tydskrifte, wynfeeste, wynklubs en aanlyn 'virtuele assistente' geteiken kan word.

“Wynintellektuele kan ook deur wynverwante boeke, tydskrifte en webwerwe geteiken word wat gedetailleerde inligting oor hulle handelsmerk en wyne, die wynkelder se geskiedenis, die druifsoorte, oesjaar, oorsprong en produksieproses verskaf. Bemarkers kan QR-kodes op die etiket van die handelsmerk se uitsoekprodukte plaas sodat wynintellektuele dit dan onmiddellik met hulle slimfone kan skandeer om hierdie inligting te bekom."

Myburgh sê bemarkers kan ook vasvrae-aande, unieke wynproegeleenthede en eksklusiewe, insiggewende wyntoere vir hierdie verbruikers aanbied.

Ten einde basiese wynverbruikers te lok, moet bemarkers die handelsmerk se persoonlikheid en storie binne-in winkels of aanlyn oordra, voeg sy by.