Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe medisinale sampioenspesie endemies tot Knysnabos
Outeur: Wiida Fourie-Basson (media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 24/04/2023

​'n Nuwe medisinale sampioenspesie van die genus Hericium, is onlangs deur 'n derdejaarstudent in mikrobiologie en genetika aan die Universiteit Stellenbosch (US) ontdek en geïdentifiseer. Dit is die eerste endemiese spesie van hierdie hoogs gesogte medisinale sampioen wat in Suider-Afrika gevind is, en slegs die tweede op Afrikabodem.

Hericium fruiting bodies on tree.jpg

Breyten van der Merwe, tans 'n BSc-student in sy honneursjaar, het in Januarie 2021 tydens 'n staptog in die Knysnabosse​ op dié sampioen afgekom. Hy het 'n monster geneem, dit laat uitdroog en dit daarna onder die aandag gebring van Prof. Karin Jacobs, 'n mikrobiese ekoloog en mikoloog in die Departement Mikrobiologie aan die US.

Alhoewel dit raar is om hulle in die natuur te sien, is spesies in die Hericium-genus alombekend vir hulle uitsonderlike medisinale gesondheidseienskappe. Hericium erinaceus, die leeumaanhaarsampioen is byvoorbeeld al lank reeds deel van tradisionele Chinese en Asiatiese medisyne.

In Suid-Afrika, is hierdie “nuwe" opvallende sampioen voorheen dikwels verkeerdelik as koraalsampioen (Hericium coralloides) geïdentifiseer. Volgens Breyten kan die verskillende spesies in hierdie genus dikwels slegs deur middel van DNS-opeenvolging van mekaar onderskei word.

Hierdie sampioen wat nóú eers as nuwe endemiese spesie, Hericium ophelieae, geklassifiseer is, is vernoem na die gedig “Ophélie" deur Franse digter Arthur Rimbaud. Hy het op dié naam besluit, aangesien “long veils…a white phantom…beautiful as snow" uit die gedig na 'n gepaste beskrywing vir die “wit waterval van vruggies" in die donker Knysnabos was.   

Die enigste ander endemiese spesie − en ook Hericium ophelieae se naaste familielid − is Hericium bembedjaense wat in die Dja Biosfeerreservaat in Kameroen voorkom.

Hierdie koraalagtige fungus speel 'n belangrike rol in die afbreek van hardehout- en naaldbome. In die Knysnabos is Hericium ophelieae  byvoorbeeld slegs op hardehoutbome wat inheems tot die Knysna-Amatole Bos is, gevind: spesifiek op die Kaapse Beukeboom, die Waterboom, die Ysterhoutboom en Stinkhoutboom.

Breyten, 'n ywerige veldkosversamelaar, sê alhoewel dit die eerste endemiese Hericium -spesie van Suider-Afrika is wat beskryf is, is dit sekerlik nie die laaste nie: “Daar is waarskynlik ander wat nog ontdek moet word, aangesien mikologie as dissipline nog onderontwikkel is in Afrika en Suider-Afrika. Hierdie vonds belig vir seker die behoefte aan verdere navorsing oor swamdiversiteit in die Afro-gematigde woude van Suid-Afrika," sluit hy af.

Vir sy HonsBSc-graad, sal Breyten nou verdere ondersoek instel en die verbindings wat in hierdie Hericium-spesie voorkom, ondersoek – aangesien dit so duidelik verskil van ander spesies in hierdie genus. Daar kan dalk nog 'n paar nuwe “bevindings" op pad wees.

Prof. Jacobs sê die artikel belig die waarde van die amateurmikologiegemeenskap: “Die samewerking tussen universiteite en amateurmikoloë kan die aantal nuwe spesies wat in Suid-Afrika se vele verskillende biome beskryf word, vermeerder." 

Die artikel: Hericium ophelieae sp. nov., a novel species of Hericium (Basidiomycota: Russulales, Hericiaceae) from the Southern Afrotemperate forests of South Africa" is onlangs in die internasionale vaktydskrif, Mycology gepubliseer.

Op die foto is die nuutbeskryfde Hericium ophelieae van die Knysnabos. Foto: Peter Herrmann