Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US student na Universiteit van Cambridge met Gates Cambridge Beurs
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 18/04/2023

​Gregor Feierabend, 'n nagraadse student in wiskunde en rekenaarwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US), het 'n Gates Cambridge Beurs losgeslaan om sy Mphil-studies in rekenaarwetenskap by die Universiteit van Cambridge te gaan doen.

Die Gates Cambridge Beursprogram is die Universiteit van Cambridge se vlagskip- internasionale nagraadse beursprogram. Volgens 'n mediavrystelling, het die program in  2000 tot stand gekom met 'n skenking van US$210 miljoen van die Bill en Melinda Gates Stigting. Dit is tot op hede steeds die grootste enkele skenking aan 'n universiteit in die Verenigde Koninkryk.  

Gregor, oorspronklik afkomstig van 'n klein dorpie naby die Baltiese See in Noord-Duitsland, het 'n spesiale historiese band met die Universiteit Stellenbosch. Sy oupa, Kurt-Rüdiger Kannenberg, was 'n dosent in wiskunde aan die US vanaf 1960 tot met sy dood in 1971 op die ouderdom van 43. Gedurende hierdie tydperk was hy die studieleier van Henda Swart, wat in 1971 die eerste student geword het wat 'n PhD in wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch verwerf het.  

“My oupa het ook in die laat 1960s met die Universiteit se eerste IBM-rekenaar gewerk. Alhoewel ek hom nooit persoonlik geken het nie, is hy een van die redes hoekom ek wiskunde aan die Universiteit Stellenbosch kom studeer het," verduidelik Gregor.

Nadat Gregor sy skoolloopbaan in Duitsland voltooi het, het hy eers vir 'n paar jaar as vakman en gemeenskapswerker gewerk, aangesien hy hom nie 'n loopbaan in wiskunde kon voorstel wat ook kreatiewe werk of sosiale aspekte sou behels nie. As 'n student aan die Universiteit Stellenbosch het hy egter ontdek hoe beperk hierdie seining was: “Op skool het die fokus geval op hoe om wiskunde te gebruik, maar op universiteit het ek geleer hoe om wiskunde te doen. Om wiskunde te doen is inderwaarheid 'n baie kreatiewe proses, dikwels ook van 'n samewerkende aard," verduidelik hy.

In die algemeen hou hy daarvan om diep en deeglik oor 'n onderwerp na te dink: “Wiskundige denke is goed hiermee belyn en struktureer die denkproses. Wiskunde is 'n stuk gereedskap, maar terselfdertyd ook 'n navorsingsveld wat op filosofiese vlak aantreklik is én prakties toegepas kan word. Rekenaarwetenskap het aanvanklik as 'n vertakking van van wiskunde ontstaan, maar het intussen onafhanklik geword. Desnieteenstaande is wiskunde die grondslag van alle rekenaarwetenskap, en dit is hierdie grondslag waarin ek belangstel."

Hy is opgewonde om deel te wees van die Gates Cambridge-klas van 2023: “Die Gates Cambridge Trust bied vele geleenthede vir interaksie met ander studente en om op verskillende maniere 'n bydrae te lewer. Ek dink dat die verkryging van 'n opvoeding ook kom met die verantwoordelikheid om kennis te deel en iets aan die samelewing terug te gee. Ek kan sien hoe ek in so 'n omgewing sal floreer en wil graag deel word van hierdie gemeenskap."

Prof. Marcelo Fiore, 'n navorser in die wiskundige grondslae van rekenaarwetenskap by Cambridge, sal as sy studieleier optree. Gregor verduidelik: “Om abstrak te dink beteken om die essensie van 'n idee te identifiseer en konsepte te veralgemeen. Hoe meer algemeen 'n teorie is, hoe wyer is sy toepassingsveld in die regte wêreld. Die velde wat my tans die meeste interesseer is formele tale en proefassistente proof assistants. Formele tale word oral in rekenaarwetenskap aangetref − in programmeringstale of netwerkprotokolle. Proefassistente gebruik wiskundige logika om stellings oor sagteware of netwerkprotokolle te bewys. Byvoorbeeld: “jy kan die korrektheid van 'n end-tot-end enkripsieprotokol van kitsboodskappers verifieer deur sulke gereedskap te gebruik," verduidelik hy.

“Tegnologie is oral om ons en word in bykans elke akademiese dissipline gebruik. Ons alledaagse lewens raak al hoe meer afhanklik daarvan. Ek poog om tegnologie veiliger en meer betroubaar te maak deur navorsing oor bogenoemde onderwerpe te bevorder," sluit hy af.