Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe Direkteur van Fondswerwing gereed vir vooruitgang
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 12/04/2023

David Marupen, die pas-aangestelde Direkteur van Fondswerwing in die Universiteit Stellenbosch se Afdeling Ontwikkeling en Alumnibetrekkinge (OAB), het meer as 25 jaar se ondervinding op die gebied van fondswerwing. Hierdie ondervinding, saam met sy toewyding aan die vestiging van strategiese vennootskappe en sy geesdrif vir hoër onderwys, mentorskap en die opheffing van gemeenskappe, maak hom by uitstek geskik om met Karen Bruns, Senior Direkteur van die OAB, saam te werk aan die bevordering van die Universiteit se fondswerwingspogings.

Marupen het sy posisie in Januarie 2023 aanvaar, en bring ʼn skat van kennis, wat in verskeie posisies op fondswerwingsgebied geslyp is, met hom mee. Sy loopbaan in fondswerwing het by die voormalige Pretoria Technikon (nou die Tshwane Universiteit van Tegnologie) begin, waar hy die uitvoerende direkteur in die Kantoor vir Institusionele Vooruitgang was. Van daar het hy verskuif na die Universiteit van Fort Hare, waar hy die hoof- uitvoerende beampte van die stigting verantwoordelik vir toesig oor alle institusionele fondswerwingswerksaamhede was. Terselfdertyd was hy ook die voorsitter van die direksie van die Miriam Makeba Performance Arts Centre (Miriam Makeba-sentrum vir die Uitvoerende Kunste) en ʼn lid van die raad van die Hunterstoun Academic Retreat Centre (Hunterstoun Akademiese Retraitesentrum) in Hogsback.

Hy het sy reis in die hoëronderwyssektor as senior ontwikkelingsbeampte in die Kantoor vir Vooruitgang aan die Universiteit van Johannesburg voortgesit. In die vyf jaar voordat hy by die US aangesluit het, was hy die adjunkdirekteur van die Hulpbronmobiliseringsentrum aan die Universiteit van Limpopo.

Ander posisies wat hy beklee het, sluit in fondswerwer vir die Finansiële Dienste Verbruikersopvoedingstigting van die Gedragsowerheid vir die Finansiële Sektor, direkteur van fondswerwing en nuwebesigheidsontwikkeling by LoveLife en waarnemende bestuurder van bemarking, kommunikasie en fondswerwing vir Johannesburg Kinderwelsyn. "Ek dien tans ook in die raad van die Morongwa-stigting, wat gerig is op die verbetering van die lewens van gemarginaliseerde gemeenskappe," voeg hy by.

Waarom dus na Stellenbosch verskuif? Marupen, in Pretoria gebore en getoë, sê dit kan toegeskryf word aan die goeie reputasie van die Universiteit Stellenbosch se akademiese, navorsings- en sosiale-impak-aanbod. "Die instelling is vasbeslote om toegang tot hoër onderwys vir studente, veral diegene met finansiële behoeftes, te verbeter. Die US is ook strategies met die vestiging van verhoudings met verskillende vennote en belanghebbers, om sy missie te bevorder. Hierdie missie is, onder andere, daarop gemik om plaaslike, kontinentale en globale gemeenskappe te verryk en te transformeer."

Aangesien hy by ʼn gevestigde span suksesvolle fondswerwers aansluit, glo Marupen dat hy sal moet bakstaan om by te bly. "Ek is daarvan oortuig dat die ervaring wat ek oor die jare opgedoen het, die fondswerwingspan en die OAB oor die algemeen positief sal beïnvloed, deur die goeie werk wat tot dusver bereik is, aan te vul, maar ook deur seker te maak dat skenkerinkomste verhoog word."

Volgens Marupen is fondswerwing nooit maklik nie en vereis dit ʼn stelselmatige benadering, toewyding, dissipline en geesdrif vir die beroep.

"My werk met verskillende spanne oor die jare heen het vir my bewys dat spanwerk, kruisfunksionele steun en ontwikkeling binne die afdeling noodsaaklik is. Dit is een gebied waaraan ek aandag sal skenk. Ek sal ʼn optimale werksomgewing skep, wat spanwerk, professionele ontwikkeling en gedeelde verantwoordelikheid vir sukses en mislukking aanmoedig. Ek sal ook fokus op die diversifisering van die bestaande skenkerbasis en toegang tot instellings wat liefdadigheidskenkings aan die Universiteit kan verskaf, probeer bewerkstellig. Die doelwit sal wees om steun te werf vir verskillende projekte wat binne die vier tematiese gebiede van fondswerwing val; naamlik studentetoegang en -sukses, navorsing, maatskaplike geregtigheid en infrastruktuurontwikkeling."

Marupen, wat uit ʼn familie van onderwysers kom en ook vroeër in sy loopbaan onderrig gegee het, glo aan die deel van kennis en die bemagtiging van die volgende geslag. "Ek is van plan om voornemende fondswerwers te mentor en af te rig om bekwaam en vaardig te raak in die kuns van fondse lok. Dit is belangrik dat hulle leer om deur die struikelblokke met die vestiging van outentieke verhoudings, wat tot langtermyn-, volhoubare vennootskappe en steun lei, te navigeer."

Hy sluit af: "Ek is opgewonde en sien daarna uit om met my geagte US-kollegas saam te werk om die doelwitte en ideale van die instelling in sy strewe na verdere groei en volhoubaarheid te bevorder." ​