Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
PhD-studie kan help keer dat beestuberkulose onder Afrika-buffels versprei
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/03/2023

ʼn Navorser aan die Universiteit Stellenbosch (US) het ʼn innoverende manier gevind om beestuberkulose (bees-TB) by Afrika-buffels te diagnoseer en besmette diere vinniger en meer akkuraat te identifiseer.

Dit kan die verspreiding van dié siekte onder een van die vasteland se waardevolste en mees ikoniese spesies help voorkom.

“Dit is noodsaaklik om bees-TB vinniger te diagnoseer en om besmette buffels vroeg en akkuraat te identifiseer omdat hierdie diere die bakterie wat die siekte veroorsaak, in die ekostelsel hou, wat infeksie by ander diere soos leeus, wildehonde, renosters, olifante en bokke kan veroorsaak," sê dr Charlene Clarke van die DWT/NNS-sentrum vir Uitnemendheid in Biomediese Tuberkulosenavorsing in die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe.

“Dit kan natuurlewetoerisme, die ekonomie en bewaringsprogramme nadelig raak, waarsku Clarke, wat op Dinsdag 28 Maart 2023 ʼn PhD in molekulêre biologie by die US se Maart-gradeplegtighede ontvang het.

Vir dié graad het Clarke molekulêre en immuungebaseerde toetse gekombineer om die diagnose van bees-TB by buffels te verbeter. Sy sê huidige strategieë om bees-TB uit te wis vereis die toetsing en die daaropvolgende uitwissing van besmette diere.

Clarke het as deel van haar studie weefsel- én deppermonsters van die neus en mond van besmette diere (oronasale monsters) geneem terwyl hulle geïmmobiliseer was. Sy het ook oronasale deppermonsters van buffels geneem wat negatief vir bees-TB getoets het. Die oronasale deppermonsters het haar in staat gestel om nie-tuberkulêre mikobakteriespesies (oftewel nontuberculous mycobacteria – NTM's) by buffels te identifiseer en te tipeer. Al die deppermonsters is in ʼn medium gestoor wat alle patogene deaktiveer en die DNS stabiliseer, wat dit veilig maak om te hanteer. Clarke-fieldwork.jpg

Daarna het Clarke die gedeaktiveerde monsters saam met ʼn diagnostiese TB-toets vir mense gebruik om die teenwoordigheid van Mycobacterium bovis-DNS by buffels te diagnoseer. M. bovis veroorsaak bees-TB by wildlewe- en veespesies.

Volgens Clarke is haar studie die eerste wat hierdie metodes vir die opsporing van bees-TB by buffels kombineer.

“Ons het gevind die gekombineerde gebruik van deppermonsters wat in ʼn medium gestoor is wat patogene deaktiveer en die toets wat gebruik word om TB by mense te diagnoseer, maak die vinnige en akkurate diagnose moontlik van buffels wat met M. bovis besmet is. Dit verseker ook die veiligheid van die mense wat monsters hanteer wat moontlik soönotiese bakterieë bevat.

“Ons het voorts gevind ʼn wye verskeidenheid van NTM's is in buffels teenwoordig, waarvan sommige vals positiewe bees-TB-toetse tot gevolg het. Die wye diversiteit van NTM's by buffels wat in hierdie studie geïdentifiseer is, bied die grondslag vir verdere navorsing om hul rol in diagnostiese toetse van bees-TB en gasheer-immuunresponse te ondersoek.

“Hierdie nuwe benadering het veilige monsterneming en vinnige, akkurate resultate gebied, wat dit moontlik maak om die vereiste te omseil vir duur en omslagtige toetse van mikobakteriese materiaal wat in ʼn laboratorium vir toetse gekweek word."

Clarke voeg by dat die diagnostiese TB-toets vir mense wat in talle ontwikkelende lande met Afrika-buffelpopulasies beskikbaar is, moontlik die noodsaak om monsters van afgeleë plekke na gespesialiseerde laboratoriums vir ʼn bees-TB-diagnose te vervoer tot die minimum sal beperk. Die resultate vir die diagnose van besmette buffels kan ook op dieselfde dag beskikbaar wees. Tans neem dit meer as twee maande voordat resultate van materiaal wat in laboratoriums gekweek is, beskikbaar is.

Clarke sê haar studie is belangrik in die lig van faktore wat akkurate diagnose by buffels kompliseer, soos die bevestiging van infeksie deur die mikobakteriese isolasie van weefsel wat in ʼn laboratorium gekweek word en wat op tydrowende metodes met beperkte sensitiwiteit staatmaak; buffels se blootstelling aan meer as 250 NTM's wat nou aan M. bovis verwant is; en die onvanpaste interpretasie van diagnostiese toetse.

“Die teenwoordigheid van NTM's kan byvoorbeeld vals positiewe toetsresultate meebring, wat die onnodige verlies van diere kan veroorsaak weens uitdunning en kwarantyn op plase waat 'positiewe' diere gevind is."

Clarke kom tot die gevolgtrekking dat daar op die pad vorentoe voortdurende verbetering moet wees van die diagnostiese instrumente om besmette buffels tydens die vroeë stadiums van infeksie te diagnoseer voordat hulle bakterieë vrystel en aan ander diere oordra.

​​“Die ontwikkeling van nuwe molekulêre toetse wat direk op versamelde monsters gebruik word, is ʼn stap in die regte rigting omdat dit die akkurate bespeuring van besmette diere aansienlik verbeter. Dit is ook vinniger as kultuurgebaseerde toetse, met resultate wat op dieselfde dag reeds beskikbaar is. Dit sal siektebeheerstrategieë in die soeke na die uitwissing van bees-TB in Suid-Afrika drasties verbeter." 

Hooffoto: Dr Charlene Clarke by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els

Foto 1 (verskaf): Dr Charlene Clarke besig om monsters saam met ʼn medenavorser Dr Wynand Goosen te neem.​