Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Derdetaalspreker se liefde vir Afrikaans lei tot meestersgraad in vertaling
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 29/03/2023

Afrikaans is nou wel Asambese Mkumatela se derde taal, maar dit het haar nie verhinder om 'n meestersgraad in vertaling in dié taal te voltooi nie.

Sy het haar graad Maandag 27 Maart 2023 cum laude by een van die Universiteit Stellenbosch (US) se Maart-gradeplegtigheidsermonies ontvang. Die titel van haar tesis was “'n Ondersoek na die gebruik van vertaalmetodes deur Afrikaans-taalverwerwingstudente".

Mkumatela, wie se moedertaal Xhosa is, praat reeds van kindsbeen af Afrikaans en is die eerste in haar familie wat 'n graad in dié taal verwerf.

Sy is tans 'n dosent in Afrikaans by die Nelson Mandela-universiteit en sê haar belangstelling in tale het reeds op skool begin, waar Afrikaans Huistaal een van haar vakke was. Sy verstaan ook Zoeloe, Setswana en Sesotho.

“Ek het nog altyd daarvan gehou om te lees, my woordeskat uit te brei en nuwe tale te leer. Dit is ook waar my belangstelling in Afrikaans begin het."

Mkumatela se liefde vir Afrikaans en die begeerte om haar taalkundige vaardighede in dié taal verder uit te brei, het haar laat besluit om ná skool Afrikaans en Nederlands aan die US te studeer. Sy het later haar honneursgraad en nou ook haar meestersgraad in vertaling verwerf.

Mkumatela sê die fassinerende aspek van tale en vertaling is hoe poëties en magies elke taal klink. Hier wys sy veral op interessante kreatiewe uitdrukkings en woorde wat in verskillende tale bestaan, selfs dié wat nie direk in ander tale vertaal kan word nie. Dit het 'n groot rol gespeel in haar besluit om op vertaling te fokus.

“Taal is vir my so spesiaal en vol wonders; jy leer altyd nuwe woorde en frases en jy kan jouself op verskeie maniere uitdruk deur verskillende woorde en uitdrukkings te gebruik. Om te weet dat iets wat in een taal gesê word, vertaal kan word vir iemand wat nie die taal verstaan nie, is net so wonderlik. Vir my beteken vertaling inklusiwiteit en gelykheid."

Dit is dus geen wonder dat sy sterk oor meertaligheid en diversiteit voel nie.

Vir haar meestersgraad het Mkumatela verskillende vertaalmetodes ondersoek wat deur studente gebruik word wat tweedetaal-sprekers van Afrikaans is. Sy het die studente wat aan haar studie deelgeneem het, gevra om verskillende tekste soos gedigte en artikels te vertaal.  

“Die doel van die vertaalaktiwiteite was om te bepaal watter metodes hulle gebruik om tekste te vertaal. Met die vraelyste wou ek probeer vasstel hoe hulle oor die gebruik van vertaling in die tweedetaal-klaskamer dink."

Mkumatela is vol lof vir die mense by die US se Departement Afrikaans en Nederlands vir die ondersteuning wat hulle aan haar gebied het, veral ook gedurende die laaste jaar van haar meesterstudie toe haar pa oorlede is.

“Dit was baie moeilik om my pa te verloor en ek het gedink dit sou 'n groot invloed op die voltooiing van my studies hê, maar ek het 'n ongelooflike ondersteuningstelsel gehad en kon my tesis binne rekordtyd afhandel soos wat ek beplan het. My studieleier se deur was altyd oop en sy het my deurgaans gemotiveer om selfs in dié moeilike tyd deur te druk.

“Selfs met my finansiële uitdagings was die Departement baie ondersteunend en ek was nooit ontmoedig of het ooit gevoel dat ek wou tou opgooi nie."

Mkumatela voeg by dat die Departement se ondersteuning en belangstelling in haar akademiese, persoonlike en finansiële welstand ook as aanmoediging gedien het om haarself uit te daag en te glo dat sy haar meesterstudie kon voltooi.

Noudat sy haar meestersgraad het, sê Mkumatela sy hoop om metodes uit haar studie vir voortgesette navorsing oor taalverwerwing en vertaling te gebruik.

Sy wil ook meer in haar loopbaan groei. “Die wêreld is my oester en plafonne bestaan nie in my wêreld nie."

Foto: Asambese Mkumatela by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els