Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maart-gradeplegtighede
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 24/03/2023

​Die Universiteit Stellenbosch (US) ken vanjaar 3 055 kwalifikasies by sy Maart-gradeweek toe wat van Maandag 27 Maart tot Vrydag 31 Maart 2023 duur.

Die Maart-gradeplegtighede bring die Universiteit se 2022-gradesiklus tot ’n einde. Altesame 5 587 kwalifikasies is by die gradeweek in Desember 2022 toegeken en 3 055 kwalifikasies word in Maart 2023 toegeken om die totale aantal kwalifikasies wat die Universiteit vir 2022 toegeken het, op 8 642 te staan te bring.

Eredoktorsgrade

Die US ken by sy Maart-gradeweek ’n eredoktorsgraad toe aan dr Uma Lele. Die Universiteit se eredoktorsgrade is ’n manier om erkenning te gee aan die merkwaardige werk van individue wat as rolmodelle en ’n inspirasie vir gegradueerdes van die US dien.

Lele word met die graad Doktor in die Natuurwetenskappe in Landbou, honoris causa, vereer vir haar leierskap in die teorie en praktyk van landelike ontwikkeling wêreldwyd. In ’n loopbaan van byna vyf dekades het sy ’n magdom ondervinding opgedoen in navorsing, bedryfsaktiwiteite, beleidsontleding en evaluasie by die Wêreldbank, universiteite en internasionale organisasies.

Gelukwensing

Die Rektor en Visekanselier van die US, prof Wim de Villiers, het die Maart-graduandi by voorbaat gelukgewens.

Volgens De Villiers is die hoofdoel om by ’n universiteit in te skryf, eerstens om te gradueer en dit is presies wat die Maart-graduandi bereik het. “Dit moet gevier word, so ek wil vir julle en almal wat julle langs die pad ondersteun het, sê ‘knap gedaan’.

“Tweedens gaan jou kwalifikasie van die Universiteit Stellenbosch vir jou deure open, ongeag waar jy jou ook al in die wêreld bevind. Ondanks verlede jaar se uitdagings, is ons internasionale reputasie ongeskonde. Ons het sterk netwerke en doelgerigte vennootskappe gevorm en die internasionale gemeenskap wag gretig om te sien watter invloed ons gegradueerdes sal hê,” het hy gesê.

De Villiers het graduandi aangemoedig om voort te gaan om volgens die US se waardes – uitnemendheid, deernis, billikheid, respek en verantwoordbaarheid – te leef. Hy het hulle aangemoedig om met die Universiteit in aanraking te bly deur sy alumni-netwerk.

“Die US sal altyd jou akademiese tuiste wees. ’n Sterk alumni-netwerk strek nie net ons Universiteit tot voordeel nie, maar verbeter ook jou professionele ontwikkeling op die pad vorentoe.”