Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
30 jaar van US se leierskap in internasionalisering in die kollig
Outeur: Hannelie Booyens
Gepubliseer: 20/03/2023

Twee prestigeryke projekte bekendgestel:

  • Die aankondiging van die UNESCO-leerstoel in Interkulturele Vaardighede wat aan Universiteit Stellenbosch toegeken is.
  • Die bekendstelling van die US se jaarverslag oor Volhoubare Ontwikkeling 

 'n Volgepakte Endlersaal op die hoofkampus van die Universiteit Stellenbosch het verlede week kompleet soos die Verenigde Nasies se Algemene Vergadering gelyk toe afgevaardigdes van 37 lande meegedoen het aan die Universiteit se gala-konsert om 30 jaar van internasionalisering te vier. 

Die geleentheid was die hoogtepunt van die weeklange jaarlikse vergadering van die Stellenbosch Internasionale Akademiese Netwerk (SIAN) wat deur US Internasionaal aangebied is. Dit word gehou om die Universiteit se bevordering van internasionalisering in hoër onderwys te ondersteun. Die gaskunstenaar, Karen Zoid, se optrede was die hoogtepunt van die aand. Haar energieke konsert was 'n treffer by die buitelandse besoekers wat al te lekker saamgedans het op haar nuwe liedjie oor beurtkrag, “They Cut the Power".

Robert Kotzé, Senior Direkteur: US Internasionaal, het in sy verwelkoming hulde gebring aan die US se akademici en fakulteite vir hulle ondersteuning as “internasionaliseringspraktisyns" neffens hulle primêre rol in onderrig en navorsing. “Ons belangrikste verantwoordelikheid is om seker te maak dat 'n internasionale, interkulturele en globale dimensie geïntegreer word in die aktiwiteite, prosesse en programme by die US. Ons kan dit egter nie doen sonder ons kollegas in die fakulteite en die professionele en steundienste nie," het Kotze gesê. 

Prof Hester Klopper, Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake by US, het gesê dit is wonderlik om 'n groep gerekende gaste, wat die wêreld se voorste universiteite verteenwoordig, met 'n gedeelde doel voor oë onder een dak te kan verwelkom. “Vanaand se samekoms is die gevolg van betekenisvolle samewerkingsverhoudings en vennootskappe wat oor jare gesmee is. Daar is vanaand te veel van ons internasionale vennote hier om elkeen by die naam te noem. Julle sal verstaan waarom wanneer julle hoor dat die US ooreenkomste met 327 instellings in 64 lande op ses vastelande het!" het Klopper verduidelik. 

Sy het 'n oorsig gegee van die totstandkoming van US se internasionale kantoor en hoe dit ontwikkel het van 'n klein begin in 1993 tot 'n multidimensionele entiteit met impak wêreldwyd danksy verskeie gespesialiseerde sentrums en samewerkingsooreenkomste. 

Verlede jaar het 308 US-studente aan uitgaande internasionale mobiliteitsprogramme deelgeneem en vanjaar het die Universiteit reeds 'n rekordgetal van 650 internasionale semesterstudente van regoor die wêreld verwelkom. Buiten die buitelandse studieprogramme, ken die US ook saam met vennootuniversiteite wêreldwyd grade toe. US het reeds meer as 40 gesamentlike PhD-grade saam met 28 instellings en meer as 60 dubbele meestersgrade saam met 11 instellings toegeken.  

Die US se internasionale aansien is by die gala-geleentheid belig deur die aankondiging van 'n prestigeryke verwikkeling vir die instelling: Die UNESCO-leerstoel in Interkulturele Vaardighede is onlangs aan die Universiteit toegeken met die geaffilieerde navorsingsgenoot van die VSA, dr Darla Deardorff, as hoof- en prof Sarah Howie, Direkteur van die Afrika Sentrum vir Akademieskap, as medebekleër. Deardorff is die uitvoerende direkteur van die Vereniging van Internasionale Onderwysadministrateurs (AIEA) en stigterpresident van die Wêreldraad vir Interkulturele en Globale Vaardighede. Sy is ook 'n navorsingsgenoot by die Sosiale Wetenskappe Navorsingsinstituut aan die Duke-Universiteit in Amerika. 

Die UNESCO-leerstoel in Interkulturele Vaardighede sal 'n geïntegreerde stelsel van navorsing, onderrig en opleiding asook gemeenskapsbetrokkenheid en kommunikasie bevorder. Dit sal samewerking tussen hoëvlak internasionaal-erkende navorsers en akademici aan die US en ander streeksinstellings asook die res van die wêreld bewerkstellig. 

Nog 'n hoogtepunt van die SIAN gala-konsert was die bekendstelling van 'n splinternuwe jaarverslag, Sustainable Development for the Africa We Want (die Afrika-unie se Agenda 2063-slagspreuk). Dr Nico Elema, direkteur van die Sentrum vir Samewerking in Afrika, en sy kollega, Corina du Toit, programbestuurder van die SDG/2063 Impact Hub, het die agtergrond tot dié verslag uiteengesit.

Aan die einde van 2021 het US 'n interafdeling-koördineringseenheid gevestig wat eksklusief op sy volhoubare ontwikkelingsbydraes fokus om die Universiteit te ondersteun in sy doelwit om sistemies volhoubaar te word en om ook op 'n institusionele vlak te illustreer hoe die US tot twee belangrike agendas bydra. Die US se Visie 2040 steun op die Verenigde Nasies se 2030-agenda en die organisasie se Volhoubare Ontwikkeling Doelwitte (VOD'e), asook op die Afrika-unie se Agenda 2063 en dié organisasie se verwante doelwitte en aspirasies vir 'n vreedsame en vooruitstrewende Afrika.

As 'n aanvanklike taak is die SDG/2063 Impact Hub opdrag gegee om tred te hou met die US se bydraes tot volhoubare ontwikkeling op 'n streeks- en internasionale vlak en om alle inisiatiewe te dokumenteer. Die hoofdoel van die SDG/2063 Impact Hub, wat gesetel is in die Sentrum vir Samewerking in Afrika by US Internasionaal, is om die implementering van die twee internasionale agendas by US te bevorder en om volhoubare ontwikkelingsgeletterdheid te verbeter. Voorts beywer die Hub hom om internasionale vennootskappe vir vooruitgang te steun deur bewusmaking van SDG/2063-verwante aktiwiteite en die koördinering van data-insameling, impakmaatstawwe en hulpbron-konsolidasie.  

“As deel van ons doelwit om die US se bydraes tot die twee agendas bekend te maak, sal ons jaarliks ''n jaarverslag oor volhoubare ontwikkeling uitgee wat die US se bydraes uiteensit. Die 2021/22-uitgawe, Sustainable Development for the Africa We Want is die eerste," het Du Toit verduidelik.

Die Africa we Want 2021/2022-verslag beskryf die US se bydraes tot die doelwitte om die universiteit se inisiatiewe te beklemtoon en om só bewusmaking te skep vir interne en eksterne belanghebbendes. Die meer as 400 gaste elkeen 'n gedrukte eksemplaar van dié verslag by die galakonsert ontvang.