Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetenskaplikes identifiseer die top 100 belangrikste vrae in Plantwetenskappe
Outeur: Faculty of AgriSciences / Fakulteit AgriWetenskappe
Gepubliseer: 16/03/2023

​'n Internasionale paneel wetenskaplikes, wat 'n wetenskaplike van die Universiteit Stellenbosch (US) ingesluit het, het die top 100  belangrikste vrae, wat met Plantwetenskap te make het, geïdentifiseer. Dié internasionale inisiatief het sleutelnavorsingsprioriteite vir die toekoms bepaal en benadruk die belangrikheid van diversiteit, samewerking en befondsing vir plantnavorsing om klimaatsverandering, die biodiversiteitskrisis en volhoubare voedselproduksie te kan aanpak.

Hierdie 100 vrae word vandag (16 Maart 2023) in 'n Viewpoint in New Phytologist gepubliseer.

'n Oorspronklike lys van vrae is meer as 'n dekade gelede gepubliseer en het toe ingesluit: Wat is die sleutelnavorsingsprioriteite wat sal help om die globale uitdagings van klimaatsverandering en die biodiversiteitskrisisse aan te pak, en 'n toenemende bevolking op 'n volhoubare wyse te voed?

Nou, meer as tien jaar na hierdie prioriteite die eerste keer deur die oorspronklike paneel wetenskaplikes in 2011 gedebatteer, opgesom en in New Phytologist gepubliseer is, besin die paneel weer oor die veranderinge in Plantwetenskap en die vordering wat in die breë oor die laaste dekade in die vakgebied gemaak is . Hul uitkyk hierop word ook vandag in die vorm van 'n brief in New Phytologist gepubliseer.

Ter wille daarvan om navorsingsprioriteite in die hede te herevalueer, is 'n nuwe paneel van 20 plantwetenskaplikes in 2020 uit 15 nasies saamgestel om 'n internasionale perspektief op die belangrike gebiede vir plantwetenskapnavorsing daar te stel. Onder leiding van prof Claire Grierson van die Universiteit van Bristol in die VK, het die wetenskaplikes meer as 600 vrae oor Plantwetenskap versamel – verkryg van lede van die publiek wat belangstel in Botanie, en van wetenskaplike en nywerheidsleiers van regoor die wêreld. Daarna het hulle 100 van die belangrikste vrae rakende Plantwetenskap geïdentifiseer.

Die top tien vrae wat geïdentifiseer is in die studie wat vandag gepubliseer is, sluit vrae in oor die onderwerpe van klimaatsverandering, gemeenskapsamewerking in wetenskap, voedselsekerheid, biodiversiteit, volhoubare plantproduksie, plant-plant-interaksies, plantsiektebestuur, plantmikrobe-interaksies, plantaanpassing en plantstresreaksies.

Hierdie 100 vrae beklemtoon hoe klimaatsverandering, verlies aan biodiversiteit en interdissiplinêre en internasionale samewerking kritieke wêreldprioriteite oor diverse plantwetenskapnavorsingsvelde is.

Die studie* toon duidelik hoe krities belangrik plantwetenskaplikes in die stryd teen klimaatsverandering is; dit beklemtoon wêreldwye ongelykhede in wetenskapsbefondsing en wys op 'n uiteenlopende reeks belangrike toekomstige navorsingsonderwerpe. Die studie dui ook aan hoe 'n globale gemeenskap van plantwetenskaplikes, met 'n wye reeks kundigheid, die strategiese prioriteite vir plantnavorsing sien, en bied insig oor hoe verskillende navorsingsgebiede vir verskillende globale streke belangrik is. Laastens beklemtoon die werk die waarde van internasionale samewerking  om diverse en streeks-relevante navorsingsprioriteite te identifiseer.

Prof Claire Grierson sê: "Hierdie twee referate vorm 'n unieke en waardevolle hulpbron vir navorsers en nuwelinge op die gebied van Plantwetenskap, insluitend medewerkers aan interdissiplinêre projekte, studente en vroeëloopbaannavorsers, asook vir beleidsontwikkeling."

'n Paneellid, dr Ida Wilson van die Departement Agronomie aan die Universiteit Stellenbosch in Suid-Afrika, sê: “Ons werk in agronomie is oplossinggedrewe en moet die uitdagings wat boere in Suid-Afrika en Afrika in die gesig staar, direk aanspreek. As deel van die Afrika-paneel is ek ook baie trots op die Afrika-insette, en dankbaar vir die geleentheid om ons stemme te laat hoor. Ek mentor ook jong wetenskaplikes, en die opwinding wat die publikasie genereer, is tasbaar."

Soos paneellid Dr Shyam Phartyal van die Nalanda-universiteit in Indië dit gestel het: "Een van die beduidenste stappe van hierdie studie is om 'n hoë vlak van diversiteit te handhaaf – nie net wat betref die samestelling van vrae nie, maar ook in die keuse van paneellede uit die Globale Suide."

Saam bied hierdie twee referate 'n voortreflike inleiding oor hoe Plantwetenskap ontwikkel en die belangrikheid, omvang en diepgang van navorsing wat behoort aangespreek te word.

100PSQ promo videos

*Hierdie studie is deur die Bristol Sentrum vir Landbou-innovasie befonds.