Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêrelddag vir Verbruikersregte: Ondersteun mededinging, ondersteun die verbruiker
Outeur: Willem Boshoff
Gepubliseer: 15/03/2023

Wêrelddag vir Verbruikersregte  word jaarliks op 15 Maart gevier. In ʼn meningsartikel vir Business Day skryf prof Willem Boshoff van die Sentrum vir Mededingingsreg en Ekonomie dat Suid-Afrikaners moet nadink oor hoe regulerende beperkings en nie-mededigende oogmerke die land se verbruikergesentreerde mededingingsbeleid kan laat ontspoor.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

​Willem Boshoff*

'n Mededingende markekonomie hou aansienlike voordele vir verbruikers in. Op die korte duur hou mededinging prysstygings onder beheer en verhoog dit die beskikbaarheid en verskeidenheid van produkte en dienste. Op die lange duur gee die mededinging tussen maatskappye aanleiding tot innovasie wat tot nuwe verbruikersprodukte of dienste lei en help dit om die produksiekoste van bestaande goedere te verlaag.

Op Wêrelddag vir Verbruikersregte (15 Maart) is dit gepas om te kyk na hoe regeringsbeleide oor mededingingsaangeleenthede verbruikers in Suid-Afrika raak. Mededingingsbeleide strek nie noodwendig verbruikers tot voordeel nie. In Suid-Afrika en elders sluit mededingingsreg verskeie oogmerke in wat verder strek as die bevordering van mededinging. Net so spreek mededingingsbeleide nie noodwendig mededingingsprobleme aan wat verbruikers benadeel nie. In Suid-Afrika in besonder word mededinging in sleutelsektore dikwels deur sektorale beleide of regulasies beperk. Dít beperk die omvang van die hulp wat mededingingsowerhede aan verbruikers kan bied.

Die energiekrisis is 'n baie goeie voorbeeld. 'n Mededingende sektor met alternatiewe elektrisiteitsverskaffers sou baie beter toegerus gewees het as 'n staatsbeheerde monopolie om verbruikers van betroubare, bekostigbare en skoon elektrisiteit te voorsien. Dieselfde geld vir verskeie ander sleutelsektore, insluitende vervoer.

In gereguleerde sektore waar mededingingsowerhede ingegryp het namens die verbruiker, kort beleidsgebaseerde beperkings op mededinging (soos lisensiëring) die verbruikersvoordele in wat uit hierdie intervensies voortspruit. Die pogings van die Mededingingskommissie om dataprys-aanbiedinge is 'n uitstekende voorbeeld. Om groot telekommunikasiediensverskaffers aan te moedig om hulleself tot laer pryse te verbind, kom nie neer op die aanmoediging van groter mededinging tussen die verskaffers nie. Dinamiese mededingende markte genereer pryse wat aanloklik is vir verbruikers, tesame met beter diens en aanbiedinge. Hierdie verbruikersvoordele is baie meer as die statiese winste van prysverlagings wat deur beleid teweeggebring word. Tog is hierdie manier van prysbepaling dikwels die tweede-beste opsie wat ons mededingingswaghond tot sy beskikking het in gereguleerde sektore van die ekonomie.

Ten slotte …

Mededingingsbeleide in Suid-Afrika is nog altyd gekenmerk deur verskeie nie-mededingende doelwitte. So vereis die beoordeling van samesmeltings byvoorbeeld dat 'n voorgestelde samesmelting nie net 'n evaluasie op mededingingsgronde moet slaag nie, maar ook dat dit nie skadelik is vir verskeie ander belanghebbendes of beleidsdoogmerke nie. Selfs nog dan, is hierdie pluraliteit versigtig bestuur, met mededinging – en dus die verbruiker – wat die oorheersende fokus bly.

Ongelukkig vir die verbruiker dui gebeure die afgelope paar jaar op 'n opmerklike verandering. Wysigings aan die Suid-Afrikaanse mededingingswetgewing vyf jaar gelede, asook die gepaardgaande toenemende (en dikwels onvoorspelbare) fokus op aangeleenthede wat met bemagtiging of nywerheidsbeleidskwessies verband hou, het die verbruiker tot maar net een van talle belanghebbendes afgeskuif. Dit is reeds sigbaar in gevalle van samesmelting waarvan die bekende Burger King-transaksie 'n treffende voorbeeld is.

​Hoewel 'n mens kan redeneer dat die nie-mededingende oogmerke in Suid-Afrikaanse mededingingsbeleid uiteindelik mededinging tot voordeel strek, is die verband alles behalwe duidelik. Die konsessies wat uit gretige samesmeltende partye ontgin word onder die dekmantel van “openbare belang", hou dikwels bitter min verband met die spesifieke mark of met die verbruikers wat in daardie mark aankoop.

Op Wêrelddag vir Verbruikersregte is dit belangrik om daaroor te besin of mededingingsbeleide in Suid-Afrika nie te ver hulle verbruikersfokus afgewyk het nie. Gegewe die ingewikkelde uitdagings van ons samelewing, is die meervoudige doelwitte stellig onvermydelik. Selfs dan moet meervoudigheid versigtig bestuur word sodat dit nie die beleid ondoeltreffend laat as 'n instrument vir ondersteunende verbruikers nie. Verder is dit nog belangriker as ooit om mededinging te ontketen deur regulerende beperkings aan te spreek. Mededingingsowerhede kan nie mededinging bewerkstellig en dan verbruikers ondanks verstikkende regulering bystaan nie. Suid-Afrika se reeds-sukkelende verbruikers verdien beter.

  • Klik hier om die artikel soos geplaas te lees.

*Willem Boshoff is 'n professor en mededirekteur van die Sentrum vir Mededingingsreg en Ekonomie in die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch.