Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
L’Oreal-UNESCO finansiële toekenning ondersteun malaria-navorsing
Outeur: Wiida Fourie-Basson (media: Fakulteit Natuurwetenskappe)
Gepubliseer: 13/03/2023

​'n PhD-student in Chemie aan die Universiteit Stellenbosch, Jessica Thibaud, is een van ses Suid-Afrikaanse vrouewetenskaplikes wat 'n finansiële toekenning van die L'Oréal stigting genaamd L'Oreal en UNESCO (die Verenigde Nasies se organisasie vir opvoeding, wetenskap en kultuur) ontvang het.

Die L'Oréal-UNESCO For Women in Science international programme verskaf ondersteuning aan vrouewetenskaplikes in alle fases van hul wetenskapsloopbane. Volgens 'n amptelike mediavrystelling, verteenwoordig vroue slegs 33.3% van navorsers wêreldwyd en hul werk kry selde die erkenning wat dit werklik verdien.

Jessica se navorsing fokus op die identifisering van nuwe chemiese verbinding wat die lewensiklus van die malariaparasiet Plasmodium falciparum kan ontwrig nadat dit die menslike gasheer ingedring het. Dit is egter makliker gese as gedaan om hierdie verbindings te identifiseer, aangesien dit reg oor die wereld in duisende tot miljoene in databanke gestoor word.   

In 2020 was malaria, 'n muskietoordraagbare parasitiese siekte, verantwoordelik vir ongeveer 627 000 sterftes wêreldwyd, waarvan 96% in Afrika voorgekom het. Boonop toon die parasiet ook 'n verhoogde weerstandigheid teen die huidige konvensionele malariamedikasie.

Jessica se navorsing is slegs een aspek van 'n groter navorsingsdomein rakende die ontwerp en ontwikkeling van malaria teenmiddels in die Medisinale Chemie navorsingsgroep leiding van Dr Katherine de Villiers. Hierdie navorsingsgroep het dit onlangs bemagtig om 'n tweedimensionele kaart van 'n teenplasmodium chemiese ruimte te ontwikkel.  Dit was gedoen deur van 'n eenvoudige hoofkomponent analise-algoritme gebruik te maak wat verbindings wat bekende antimalaria-aktiwiteit toon, visueel saam op 'n kaart groepeer. Vir haar MSc-navorsing onder die studieleiding van Dr de Villiers, het Jessica die gebruik van hierdie kaart met onlangs verworwe vaardighede in masjienleer gekombineer om 'n substel van 6 000 verbindings te identifiseer wat die potensiaal toon om 'n spesifieke ensiem in die parasiet se lewensiklus te teiken.  

Sedert die aanvang van haar PhD, het Jessica deur die H3D Foundation aan die Universiteit Kaapstad en Ersilia verdere opleiding in masjienleer en kunsmatige intelligensie ontvang om ten einde die proses te versnel waarteen nuwe geneesmiddels vir die malaria kwaal ontdek kan word. Hierdie berekeningsmetodes het haar gehelp om die soektog  verder af te sper tot 'n potensiële 30 teenmiddel-verbindings. Sy is nou in die proses om hierdie verbindings in die laboratorium te toets ten einde die een of twee mees belowende verbindings vir verdere ontwikkleing te vind.

“Buiten hul antimalaria-aktiwiteit , moet hierdie verbindings ook belangrike medisinale eienskappe, soos oplosbaarheid, selektiwiteit asook varieerbare sterkte toon voor hulle vir verdere ontwikkeling oorweeg kan word," verduidelik sy.

Sy beplan om die L'Oreal-toekenning te gebruik om 'n kragtiger rekenaar vir laboratoriumgebruik te aan te skaf, en om later vanjaar 'n internasionele kongres oor Bioanorganiese Chemie by te woon. As deel van die toekenning het sy ook 'n week lange opleidingsprogram in die Ivoorkus bygewoon wat vir die L'Oreal-UNESCO-wenners uit Afrika aangebied is.