Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wêreldnierdag: Die dialise-gaping moet oorbrug word
Outeur: Dr Yazied Chothia
Gepubliseer: 09/03/2023

​Wêreldnierdag word jaarliks op die tweede Donderdag in Maart (9 Maart 2023) gehou. In ʼn meningsartikel vir News24, skryf dr Yazied Chothia (Tygerberg-hospitaal  en die Afdeling vir Nefrologie) dat die dialise-gaping oorbrug moet word omdat die koste van dialise buitensporig hoog is en soveel as R450 000 per pasiënt per jaar in ons openbare gesondheidsektor kan beloop.

  • ​Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Yazied Chothia*

Wêreldnierdag word jaarliks op die tweede Donderdag in Maart (9 Maart 2023) gehou. Na raming ly meer as 850 miljoen mense wêreldwyd aan chroniese niersiekte (CNS), wat beteken dat een uit elke tien mense aan een of ander vorm van CNS ly. Volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie is niersiekte nou die tiende grootste oorsaak van sterftes in die wêreld.

Weens die swaar las van MIV, asook die toenemende voorkoms van nie-oordraagbare siektes soos hipertensie (hoë bloeddruk) en diabetes in Afrika, word 'n soortgelyke toename in die las van CNS op die vasteland verwag.

Die behandeling van gevorderde stadiums van CNS, waarna daar as niervervangingsterapie (NVT) verwys word, sluit hemodialise, peritoneale dialise en nieroorplanting in. In hemodialise word bloed uit die pasiënt se liggaam na 'n kunsmatige niermasjien en weer terug na die liggaam gepomp deur buise wat die pasiënt met die masjien verbind. In peritoneale dialise tree die binneste laag of voering van die buik as 'n natuurlike filter op.

Die koste van dialise is buitensporig hoog en kan soveel as R450 000 per pasiënt per jaar in ons openbare gesondheidsektor beloop. Aangesien 85% van mense wat in Suid-Afrika woon, op  openbare gesondheidsorg staat maak, moet behandeling gevolglik weens hulpbronbeperkings gerantsoeneer word. In 2017 het ons aangedui dat slegs een uit elke vier pasiënte NVT by Tygerberg-hospitaal gebied word, en dit sal na verwagting net erger word weens die verwagte toename in die las van pasiënte met CNS.

Suid-Afrika onderpresteer geweldig wanneer dit kom by NVT-behandelingskoerse. Die 2020-jaarverslag van die Suid-Afrikaans Nierregister het bevind daar is 'n NVT-behandelingskoers van slegs 44 per miljoen bevolking in die openbare sektor. Dit is minder as die nagenoeg 70 per miljoen bevolking wat amper drie dekades gelede in 1994 aangedui is. Die privaatgesondheidsektor se behandelingskoers was egter 729 per miljoen bevolking, wat vergelykbaar is met ryker lander. Dit dui daarop NVT in Suid-Afrika net beskikbaar is vir diegene wat dit kan bekostig. 

Ten slotte …

Nadat 'n bekommerde lid van die gemeenskap opgemerk het dat niersiekte nie soveel aandag soos siektes soos kanker kry nie en bewustheid binne die gemeenskap wou verhoog, is geld van 2017 tot 2020 ingesamel by jaarlikse geleenthede om 'n paar pasiënte by te staan wat nie NVT by Tygerberg-hospitaal kon kry nie. Die ondersteuning moes egter in 2020 gestaak word weens die Covid-19-pandemie.Chothia.jpg

Die program is in Mei 2022 weer aan die gang gesit nadat die Afdeling Nefrologie by Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch kragte saamgespan het met Gift of the Givers, wat R1,2 miljoen aan die program geskenk het. Aangesien Tygerberg-hospitaal se dialise-eenheid nie bykomende pasiënte kon hanteer nie weens beperkte kapasiteit en personeel, het ons die privaat sektor genader vir hulp. Hulle het die geleentheid aangegryp en tans ondersteun ons 17 pasiënte by twee dialisesentrums in Kaapstad – die B Braun-dialisesentrum by die Cape Gate Mediclinic en die dialise-eenheid by die Life Vincent Pallotti-hopsitaal. Ons hoop dat ander privaat dialise-diensverskaffers en hospitale ook by ons program sal aansluit sodat ons baie meer pasiënte kan help.

Om saam te vat: Die behandelingskoers van NVT in Suid-Afrika se openbare gesondheidsektor het die afgelope drie dekades onveranders gebly, ondanks die toenemende siektelas. Meer hulpbronne is op alle vlakke van die gesondheidsorgstelsel nodig om die sifting van hoërisikopasiënte vir CNS te doen en om CNS-pasiënte te identifiseer en in 'n vroeë stadium te behandel ten einde verswakking na nierversaking te voorkom. Totdat dit gebeur, sal pasiënte eers laat gediagnoseer word, wat ongelukkig 'n doodsvonnis vir die meeste pasiënte is wat op die openbare gesondheidsektor staat maak. In die tussentyd is ons dankbaar vir organisasies soos die Gift of the Givers wat tot die redding van ons pasiënte kom wanneer hulle op hulle kwesbaarste is.

*Dr Yazied Chothia is 'n nefroloog en senior dosent by Tygerberg-hospitaal en die Afdeling vir Nefrologie in die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch.

  • Hooffoto: Dialise-masjiene. Krediet: Wikimedia Commons
  • Foto 1: Dr Yazied Chothia (heel regs) saam met Gift of the Givers in Mei 2020 by die Southern Sun Hotel in Kaapstad. Van links is dr Naeem Kathrada (hoof van die Wes-Kaapse tak van die mediese afdeling en spanleier vir Gift of the Givers), professor Razeen Davids (hoof van die afdeling nefrologie by Tygerberg-hospitaal en die Universiteit Stellenbosch) en dr Imtiaz Sooliman (stigter van Gift of the Givers).

​