Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA se vroue-akademici het uitgebrand toe hulle van die huis af moes werk
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/03/2023

Om van die huis af te werk het vir baie Suid-Afrikaanse vroue-akademici in ʼn nagmerrie ontaard gedurende die eerste ses maande van die grendeltyd wat in 2020 deur die Covid-19-pandemie genoodsaak is. Hoër werkladings, huishoudelike druk en onvoldoende werkspasies het van die huis ʼn meer stresvolle plek gemaak en hulle uitgebrand laat voel.

Dít is volgens ʼn studie wat onlangs in die ewekniebeoordeelde vaktydskrif PLoS One verskyn het. Die studie is onderneem deur dr Cyrill Walters en prof Jonathan Jansen van die Universiteit Stellenbosch, prof Linda Ronnie van die Universiteit van Kaapstad en dr Samantha Kriger van die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.

Hulle het ʼn opname van meer as 2 000 vroue-akademici by die land se 26 openbare universiteite gedoen en hul kommentaar oor hoe werk van die huis af tydens die inperking hulle persoonlik en professioneel geraak het, ontleed.

Volgens die navorsers het die pandemie die betekenis van “huis" vir vroue-akademici heeltemal omvergewerp.

“Gedurende die grendeltyd was huis nie daardie skuilplek teen die eise en wanorde van die wêreld daarbuite nie. Pleks daarvan, het dit ʼn vol en oorlaaide plek geword waarin talle ander funksies – van tuis- en aanlyn-onderrig tot nuwe administratiewe take – uitgevoer moes word, soms sonder enige hulp van andersins betroubare lewensmaats, huiswerkers of uitgebreide familielede.

“Die meeste vroue-akademici het gesê dit het ʼn nadelige uitwerking op hul akademiese uitset, produktiwiteit of toewyding gehad. Selfs as hulle ʼn toegewyde werkspasie gehad het, moes hulle met hul lewensmaats vir ruimte of hulpbronne meeding om hul werk af te handel."

Volgens die navorsers het een akademikus gesê haar teenwoordigheid by die huis het “die grense tussen werk en huis laat vervaag". Nog een het verduidelik “dit het meer ʼn situasie van leef-by-die-werk as werk-van-die-huis af geword".

Dit het ook ʼn nadelige uitwerking op vroue-akademici se gesondheid gehad, aldus die navorsers.

“Etlike respondente het vertel hoe groter angstigheid, finansiële probleme en gevoelens van hartseer eienskappe van hul huisomgewing geword het en hul werk en persoonlike gesondheid geraak het. ʼn Ervare akademikus het vertel hoe sy angsaanvalle ervaar het weens ʼn groter werklading gepaard met die druk van meer huishoudelike take."

Ander deelnemers aan die studie het gekla oor die negatiewe gevoelens wat hulle jeens die werk self begin ontwikkel het. In ʼn beskrywing van haar oorweldigende frustrasie weens haar ineengestrengelde werk-huis-spasie, het ʼn gevestigde akademikus verklaar: “Ek ervaar eenvoudig tans geen vreugde in my werkkonteks nie."

Die ervaring van nog ʼn gevestigde akademikus het ooreengekom met dié van etlike ander respondente: “…om nooit die huis te verlaat nie, het my motivering vir werk geraak … ek voel of ek emosioneel mishandel is."

Moeders

Die navorsers wys daarop dat akademici wat ook ma's is, baie swaar gekry het toe hulle van die huis af moes werk. Vroue met ʼn werkspasie en manlike lewensmaats het soms druk ervaar om hul eggenoot se werk te prioritiseer deur hul spasie prys te gee of die een te wees om aandag te gee aan kinders wat die grense oorskry – en daardeur hul eie behoefte aan ʼn stil werkspasie op die agtergrond te skuif.

“Kinders se teenwoordigheid het die huis as werkspasie ernstig in die gedrang gebring, omdat jong kinders die teenwoordigheid van hul ma by die huis as ʼn teken van toeganklikheid en beskikbaarheid gesien het. Een vroeëloopbaan-akademikus en ma van ʼn peuter en ʼn kleuterskoolkind het beskryf hoe hierdie dinamika 'konsentrasie verlaag' en 'onvoldoende tyd vir akademiese werk' meebring.

“'n Gevestigde akademikus en ma van ʼn senior hoërskoolkind het opgemerk dat 'pligte professioneel uitgevoer moet word in ʼn huishoudelike spasie wat deur onderbrekings en voortdurende eise gekenmerk word'".

Nog ʼn nadeel van werk van die huis af, was dat die uitgerekte tydperk van inperking, saamwoon en saamwerk verhoudings geskaad het. ʼn Vroeëloopbaan-akademikus en ma van ʼn kleuterskoolkind het gesê “dit het spanning in die huishouding laat ontstaan en mettertyd tot die agteruitgang van my verhouding met my man gelei".

Die navorsers sê in ʼn situasie waar die grendeltyd “alles onder een dak ingeprop het", het talle vroue-akademici beskryf hoe hulle eenvoudig enige professionele doelwitte uitgestel het wat nie absoluut “noodsaaklik" was nie (soos onderwyspligte), en hul studies, navorsing, referate en voorstelle opgeskort het om beheer van huishoudelike pligte te neem.

“Namate vroue hul akademiese werk op hierdie manier gedeprioritiseer het, of alternatiewelik probeer het om elke persoonlike én professionele doelwit te haal, het talle óf uitgebrand óf soos mislukkings gevoel 'omdat hulle nie alles kon behartig nie'.

“Terwyl talle deelnemers in detail beskryf het tot watter uiterstes hulle gegaan het om spertye te haal, hul gesinne gelukkig te hou, hul huise in stand te hou en objektief te presteer, het hulle dikwels die chaos geïnternaliseer wat in hul huisspasie ontstaan het en dit as ʼn bewys voorgehou dat hulle inderdaad nié suksesvol was nie."

Die navorsers meen tersiêre instellings moet in die toekoms die geslagsgebaseerde aard van die huis as werkspasie as ʼn talentbestuurskwessie erken en prioritiseer.

“Die betekenis van huis kan nie verduidelik word buite die geslagsongelykhede wat die toewysing en verstaan van 'werk' tussen vroue en hul maats verdeel nie.

“As hulle van die huis af moet werk, sal die meeste vroue-akademici die ongelykhede in verwagtinge en verpligtinge moet hanteer op maniere wat hulle nie andersins in ʼn nie-huishoudelike, professionele omgewing sou nie."

  • Bron: Walters C, Ronnie L, Jansen J, Kriger S (2023). “The changing meaning of 'home' in the work of South African women academics during the pandemic-enforced lockdown". PLoS ONE 18(1): DOI: https://doi.org/10.1371/journal.pone.0280179.