Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sirkel-ekonomie kan munisipaliteite help om afval volhoubaar te bestuur
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 07/03/2023

Munisipaliteite, veral die kleineres, moet dit oorweeg om 'n sirkel-ekonomie-model te implementeer wat hulle kan help om afval volhoubaar te bestuur. Dit behels die hergebruik, herwinning, opknapping en hervervaardiging van afvalprodukte, eerder as om dit net op 'n opvullingsterrein te stort.

“Deur 'n sirkel-ekonomie-model deel van hulle afvalbestuurpraktyke te maak, kan munisipaliteite hulle hulpbrondoeltreffendheid verbeter, werksgeleenthede en nuwe inkomstestrome skep, die bestaan van plaaslike gemeenskappe verbeter en die uitwerking op die omgewing verminder," sê dr Timoteus Kadhila, wat onlangs sy doktorsgraad in Publieke en Ontwikkelingsbestuur aan die Universiteite Stellenbosch behaal het.

Kadhila, wat nou 'n postdoktorale genoot by die Universiteit van Namibië is, het ondersoek ingestel oor hoe die huidige afvalbestuurmodelle van die munisipaliteite van Langebaan in die Wes-Kaap en Swakopmund in Namibië binne die konteks van 'n sirkel-ekonomie tot die verwesenliking van volhoubare afvalbestuur bydra (omgewing, ekonomies en maatskaplike volhoubaarheid). In 'n sirkel-ekonomie val die klem op die vermindering van die verbruik van roumateriale, die ontwerp van produkte sodat dit maklik uitmekaar gehaal kan word ná gebruik vir hergebruik (eko-ontwerp), die verlenging van die lewensduurte van produkte deur onderhoud en herstel, die gebruik van herwinbare materiale in produkte en die herwinning van roumateriale uit die afvalvloei.

Kadhila het onderhoude met senior werknemers by die twee munisipaliteite en by private afvalbestuurmaatskappye gevoer. Hy het ook munisipale beleide, prosedures, prosesse, organisatoriese strategieë en verslae ontleed en stortingsterreine besoek om die munisipaliteite se afvalbestuurpraktyke van nader te bestudeer.

Volgens Kadhila streef die twee munisipaliteite daarna om afval op 'n geïntegreerde manier te bestuur, bevorder hulle afvalvermyding en die minimalisering van afval, moedig hulle die skeiding van afval aan en fasiliteer hulle die herleiding van herwinbare en herbruikbare afval weg van die opvullingsterrein af.

“Hulle het egter nog nie 'n sirkel-ekonomie-model deel van hulle afvalbestuurstelsel gemaak nie. Hulle volg nog 'n liniêre ekonomie-model, met opvulling as die oorheersende metode om van afval ontslae te raak.

“Wanneer 'n plastiekhouer, kinderspeelgoed, verpakkingsmateriaal, ensovooorts nie meer nodig is nie, word hulle by opvullingsterreine gestort."

Kadhila wys daarop dat die meeste munisipaliteite in Suid-Afrika en Namibië nog nie ʼn sirkel-ekonomie as deel van hul afvalbestuurpraktyke geïmplementeer het nie.

Hy het 'n raamwerk ontwikkel wat die munisipaliteite van Langebaan en Swakopmund – of enige ander klein munisipaliteit wat sy afvalbestuur wil verbeter – kan gebruik om 'n sirkel-ekonomie-model as deel van hulle afvalbestuurpraktyke te implementeer. Hierdie raamwerk beklemtoon sleutelaspekte soos koste, komitees wat 'n sirkel-ekonomie kan koördineer, afvalskeiding, groenmarksentrums en die opvoeding en opleiding van plaaslike gemeenskappe oor afvalskeiding.

Hy sê koste is een van die grootste hindernisse in die implementering van 'n sirkel-ekonomie.

“Daarom moet 'n jaarlikse begroting wat die regering (40%), munisipaliteit (40%) en sleutelbelanghebbers (20%) gesamentlik befonds, voorgelê word om die sake van die raamwerk suksesvol te bestuur. Die begroting moet voorsiening maak vir die aanstel van koördineringskomitees wat kan verseker dat sirkel-ekonomiese aktiwiteite toegepas word by bronne wat afval skep.

“Die komitee moet verantwoordelik wees vir die opstel van die begroting, die bepaling van die koste vir die implementering van die sirkel-ekonomie en vir die voorlegging daarvan vir goedkeuring aan die toepaslike belanghebbers."

Kadhila beklemtoon ook dat die skeiding van afval uiters belangrik is.

“Afval wat redelik beskikbaar is vir hergebruik, moet teruggeplaas word in verbruik. Afval wat moontlik hergebruik kan word, moet herwin, herstel en hervervaardig word en in paslike produkte soos stoele, koppies, tafels, ensovoorts omskep word.

“Hierdie produkte kan teen bekostigbare pryse aan die plaaslike inwoners by groenmarksentrums verkoop word. Slegs klein hoeveelhede oorblyfsels wat nie herwin word nie, kan verbrand word om elektrisiteit vir die armes op te wek."

Volgens Kadhile kan die raamwerk help om zero-afval-stede en -dorpe te skep aangesien afvalskepping ten volle deur 'n 100%-afvalskeidingsteiken gekoördineer sal word.

Hy sê beleidsmakers kan die voorgestelde raamwerk gebruik om bestaande reguleringsinstrumente te hersien ten einde die oorskakeling na 'n sirkel-sakemodel vir afvalbestuur te bevorder.

“Die sirkel-ekonomie word al hoe gewilder as 'n dryfkrag vir omgewings-, ekonomiese en maatskaplike volhoubaarheid, hoewel meer beleggings en doeltreffender oorsigbestuur in die meeste gevalle nodig is om belowende innovasies uit te brei."