Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US ontvang NIH-toekenning van R40 miljoen om MIV-voorkomingstrategieë vir landelike gebiede in Afrika te ontwikkel
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking (Anel Lewis)
Gepubliseer: 07/03/2023

​Prof Frank Tanser, ʼn top-wetenskaplike in MIV-navorsing wat onlangs by die Universiteit Stellenbosch (US) se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Seri) in die Skool vir Datawenskap en Rekenaardenke as Direkteur van Bevolkingsgesondheidsinnovasie aangesluit het, het ʼn toekenning van R40 miljoen oor vyf jaar van die Amerikaanse National Institutes of Health (NIH) ontvang. Die toekenning sal gebruik word om toekomstige MIV-voorkomingstrategieë te ontwikkel vir landelike gemeenskappe in Afrika suid van die Sahara wat ernstig deur dié siekte geraak word. ​

Dié navorsing, getiteld “Die veranderende aangesig van MIV in die era van Covid-19: Maksimering van afname in MIV-voorkoms deur die huidige en toekomstige verspreiding van risiko's vir infeksie dinamies te teiken", sal ter insae van die toekomstige inwerkingstelling van MIV-voorkomingsprogramme dien.

Die voorgestelde navorsing onder leiding van die US sal wetenskaplikes van die Universiteit van KwaZulu-Natal, die Africa Health Research Institute (AHRI), die Universiteit van Lincoln, die Universiteit van Heidelberg, die Universiteit van Washington, New York-Universiteit en die Universiteit van Cincinnati betrek.

“Ons is geweldig opgewonde en voel geëerd om hierdie toekenning van die NIH te ontvang. Ons MIV-oorsigterrein in landelike Suid-Afrika is een van die enigste plekke in die wêreld waar dinamiese veranderinge in die las van nuwe MIV-infeksies met groot akkuraatheid gemeet kan word," sê Tanser.

Prof Kanshu Rajaratnam, Hoof van die Skool vir Datawenskap en Rekenaardenke, voeg by: “Ek wil die span graag gelukwens dat hulle hierdie prestigeryke toekenning bekom het. Die bevindings van hierdie werk sal van deurslaggewende belang vir die ontwikkeling van toekomstige MIV-pogings wees en Suid-Afrika kan ʼn leidende rol speel om aan die wêreld te wys hoe om lae vlakke van hierdie epidemie te bereik."

Al het Tanser se onlangse navorsing ʼn wesentlike verlaging van 43% in nuwe MIV-infeksies in landelike gebiede getoon, het gebeure soos Covid-19 MIV-sorg ontwrig en dit kan verskuiwings in die las van nie-onderdrukte virale lading en nuwe MIV-infeksies meebring. Aan die ander kant sal die skuif in 2020 na Dolutegravir-gebaseerde behandeling (ʼn nuwe antiretrovirale middel om MIV-infeksie te beheer), waarskynlik die koers van MIV-voorkoms verder verlaag en die span verwag dat die gemiddelde ouderdom vir MIV-infeksie na hoër ouderdomsgroepe sal verskuif.

Die MIV-epidemie verander vinnig en bestaande intervensiestrategieë sal derhalwe moet ontwikkel om met die veranderende dinamika van die epidemie by te hou.

“Ons het ʼn fantastiese span en ek is vol vertroue dat die bevindings van hierdie werk ons sal toelaat om voorkomingstrategieë na die volgende vlak te neem en uiteindelik ʼn reuse-verskil te maak aan plaaslike bevolkings, wat steeds ʼn hoë risiko vir besmetting met hierdie vreeslike siekte het," sluit Tanser af.

Meer oor prof Tanser

Tanser het hom by die Sentrum vir Epidemie-reaksie en Innovasie (SERI) aangesluit as direkteur van Populasiegesondheidsinnovasie.

He is gesamentlik as professor by die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke én die Departement Globale Gesondheid aangestel.

Tanser het meestersgrade aan die Imperial College London en Rhodes University verwerf, asook ʼn doktorsgraad aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy is ʼn senior fakulteitslid van die AHRI en is ʼn ereprofessor aan die University College London, die Monash University Malaysia en die Universiteit van KwaZulu-Natal. Hy is tans ʼn raadslid van The Lancet HIV en was ʼn lid van sleutel- nasionale en internasionale komitees, insluitende die International Scientific and Technical Advisory Committee van die Direkteur van Unaids.

Hy is die stigterslid van die Lincoln International Institute for Rural Health, asook een van die stigterslede van die Afrika-sentrum vir Bevolkingsgesondheid (nou die Afrika-gesondheidsnavorsingsentrum), wat in KwaZulu-Natal gebaseer is. Hy het Afrika se eerste omvattende bevolkingsgebaseerde geografiese inligtingstelsel by dié Sentrum tot stand gebring.

In 2017 het die Mediese Navorsingsraad hom met ʼn goue medalje vir wetenskaplike prestasie vereer ter erkenning van sy uitnemende navorsing. En in 2019 het die Royal Geographical Society die Back-toekenning aan Tanser toegewys vir “toegewyde navorsing wat ʼn uitstaande bydrae tot die ontwikkeling van nasionale en internasionale openbare beleid lewer".

Tanser het meer as 250 referate in toonaangewende internasionale vaktydskrifte gepubliseer en sy navorsing is al meer as 34 000 keer aangehaal.

  • Lees meer oor Tanser's onlangse aansluiting by die Sentrum vir Epidemie-reaksie en Innovasie (SERI) aangesluit as direkteur van Populasiegesondheidsinnovasie​

Foto: ​Stefan Els