Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Besoekende professor beklemtoon vroulike oudstryders se bydrae tot die struggle
Outeur: Hannelie Booyens
Gepubliseer: 02/03/2023

​'n Besoekende professor van die Verenigde Koninkryk werk tans aan navorsing oor 'n fassinerende deel van Suid-Afrika se geskiedenis in die 20ste eeu deur die rol van vroue in die land se vryheidstryd te bestudeer.

Prof Azrini Wahidin van die Universiteit van Warwick se Departement Sosiologie het voorheen 'n boek oor vroue se bydrae tot die Ierse vryheidstryd geskryf. Nou fokus sy daarop om haar boek, Under Siege: The Role of Women in Liberation Movements Under the Apartheid Regime and the Transition to Peace, te voltooi terwyl sy by die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir die Studie van die Nadraai van Geweld en die Strewe na Herstel (AVReQ) navorsing doen. Die boek ondersoek vroue se ervarings in politieke betogings en die rol wat hulle gespeel het om die weg na vrede vir 'n nuwe Suid-Afrika te help baan.

Wahidin werk saam met proff Pumla Gobodo-Madikizela en John Brewer by AVReQ. Die sentrum het haar belangstelling geprikkel omdat haar navorsing uitdagings in die samelewing in plekke van konflik aanspreek. “Ek het nog altyd op die gebied van maatskaplike geregtigheid en insluiting gewerk," verduidelik Wahidin. “Ek stel baie belang in vredesbouprosesse, oorgangsgeregtigheid, versoening en hoe ons leed uit die verlede kan versoen terwyl die nalatenskap van konflik nog so baie voorkom."

Deur na die ooreenkomste en verskille met ander vryheidsbewegings te soek, hoop Wahidin dat haar navorsing beleid en praktyk rondom vredeskepping, restitusie en oorgangsgeregtigheid sal vorm ten einde 'n omgewing te skep waar volhoubare vrede kan groei en in die kern van die samelewing ingebed sal word.

Sy stel veral belang in die oorgang van vroue wat aktief as vryheidsvegters en radikale aan konflik deelgeneem het vóórdat die land bevry is, na die draers van maatskaplike geheue en om bakens van hoop te wees in post-apartheid Suid-Afrika om 'n samelewing te herstel wat deur konflik stukkend geskeur is. 

Wahidin volg 'n lewensloop-benadering in haar navorsing en voer onderhoude met vroue van verskillende agtergronde, ouderdomme en etnisiteit. Vroue wat by die vryheidstryd in Suid-Afrika betrokke was, moes dikwels nie net teen politieke onderdrukking veg nie, maar ook teen seksisme, verduidelik sy. “Hulle moes op twee fronte veg deur die swaarkry en die ondenkbare brutaliteit van die regeringsmagte en veiligheidpolisie te hanteer, terwyl hulle geveg het om as gelykes erken te word wat meer kon bydra as om net as aanvulling vir mans te dien. Dit is baie duidelik dat vroue 'n deurslaggewende rol op alle gebiede gespeel het om vryheidsbewegings soos die Verenigde Demokratiese Beweging en die ANC in staat te stel om te funksioneer. Vroue was in alle sfere van die vryheidstryd betrokke – van die huisvesting van voortvlugtiges en die verskaffing van geriewe met die bietjie wat hulle gehad het, tot hulle strategiese betrokkenheid by hoogs ingewikkelde maneuvers en die logistieke sy van oorlogvoering."

Wahidin wys daarop dat die anti-Apartheidsbeweging in Suid-Afrika 'n utopiese toekomsvisie met die Ierse vryheidstryd gemeen het. “Albei groepe het die vlak van onderdrukking uitgedaag en gewys dat die diskriminasie wat op grond van ras en godsdiens in albei lande voorgekom het, nie kon voortduur nie. Verandering ter wille van 'n beter wêreld was nodig om maatskaplike geregtigheid vir almal te bewerkstellig."

Wahidin haal graag die Ierse skrywer Oscar Wilde aan wat gesê het vooruitgang is die verwerkliking van utopies: “Dit is nie eens die moeite werd om na 'n wêreldkaart te kyk wat nie Utopie insluit nie, want dit laat die een land weg waarby die mensdom altyd land."

Die uitdaging nou is om die nalatenskap van ongeregtigheid af te breek en om te verseker dat vrede voortgesit word, sê Wahidin. “Dit is waarom kwessies oor maatskaplike geregtigheid sentraal moet staan in die werk wat ons doen." Sy is vol lof vir die werk van die AVReQ. “Die Universiteit Stellenbosch én die Universiteit van Warwick doen albei revolusionêre baanbrekerswerk om die wêreld waarin ons lewe, beter te verstaan. Ons probeer om die ramifikasies van historiese konflik te begryp, asook hoe die nalatenskap van konflik mense se lewens beïnvloed het. Ons moet vrae vra soos hoe spreek ons trauma aan? Hoe spreek ons kwessies rakende oorgangsgeregtigheid aan sodat dit maatskaplike geregtigheid bevorder? Watter beperkings of hindernisse verhinder of belemmer die vryheidsproses? Dit is die moeilike vra wat ons probeer beantwoord," sê Wahidin.

Sy beskou dit as 'n voorreg om saam met akademici van die Universiteit te werk wat hulle kundigheid aan 'n transformasie-agenda wy. “Die afgelope paar maande was werklik ongelooflik. Die vlak van deelname deur studente weerspieël die hoëgehalte onderrig wat hulle by die Universiteit Stellenbosch ontvang. Ek is as professor van die Universiteit van Warwick verheug om tyd hier te kan deurbring. Die onlangse Memorandum van Verstandhouding wat die twee universiteite onderteken het, sal ons verhouding verstewig. Ek is seker ons studente en personeel gaan baie baat by hierdie unieke vennootskap van twee onderwysinrigtings wat op navorsingsuitnemendheid en in die skep van 'n regverdige en regmatige gemeenskap vir almal gefundeer is."

Die direkteur van AVReQ, prof Pumla Gobodo-Madikizela, sê die US is verheug om as gasheer vir Wahidin te kan optree. “Haar besoek bied aan ons groot moontlikhede vir 'n navorsingsvennootskap, kurrikulumontwikkeling en kulturele uitruiling. Sy lewer 'n belangrike bydrae tot die intellektuele kultuur van ons sentrum en ons wil haar besoek die beste benut ten einde die skakeling tussen die twee universiteite te versterk," sê Gobodo-Madikizela.

Prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studie, is ook vol lof vir Wahidin se bydrae. “Dit is wonderlik dat Prof Wahidin haar leierskapervarings met ons kan deel ten opsigte van die evaluasie van navorsingprestasie deur die werk wat sy in die VK doen. Ons kon ervarings met die Navorsingsuitnemendheidsraamwerk (REF) wat in die VK gebruik word, met ons Suid-Afrikaanse Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se stelsel vir navorsingevaluasie vergelyk. Daar is nog baie om oor na te dink ten opsigte van moontlike gebiede van verdere medewerking en ons bedank AVReQ dat hulle vir haar gasheer speel en haar die ruimte gee om haar boekprojek te voltooi."

Wahidin sal meesterklasse aanbied en aan kapasiteitsbouprogramme deelneem wat die AVReQ vir studente aanbied. Sy sal ook op 22 Maart 'n openbare lesing lewer as deel van die Visekanselier die Forum-lesingsreeks.