Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Allesomvattende ondersteuning help maak speelveld gelyk vir benadeelde studente — Prof Ramjugernath
Outeur: Deresh Ramjugernath
Gepubliseer: 17/02/2023

Allesomvattende ondersteuning verhoog studente, veral dié uit benadeelde agtergronde, se kanse op akademiese sukses en rus hulle met waardevolle vaardighede vir die beroepswêreld toe. Só skryf prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch, in ʼn meningsartikel wat University World News op 16 Februarie 2023 geplaas het.

  • Lees die vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Prof Deresh Ramjugernath*

“Geleerdheid word nie toevallig bekom nie. Dit moet met ywer nagejaag en met nougesetheid versorg word."

Ek word elke jaar aan hierdie bekende woorde van die 18de eeuse skrywer, Abigail Adams, herinner wanneer ons die geskarrel vir inskrywing by universiteite en ander hoëronderwysinrigtings ondervind. Dit is 'n onomstootlike waarheid wat bedoel is as raad vir diegene wat gretig is om 'n opvoedkundige reis aan te pak wat hul toekoms sal vorm. Gegewe die konteks en werklikhede van ons land, is die ywer en nougesetheid egter ook meestal van toepassing op ons hoëronderwysinrigtings.

Die sleutelvraag is: Gegewe ons gebroke skoolstelsel en die uiteenlopende sosio-politieke kontekste van ons studente wanneer hulle naskoolse onderwys betree, hoe maak instellings die mededingingsgrondslag gelyk? Dit is een ding om ons verenigde doelwit voor te staan ten einde toegang vir talle verdienstelike studente uit die voorheenbenadeelde gemeenskappe te verbreed. Maar dit is heeltemal 'n ander saak om gevolglike toegang met sukses te verseker.

In Suid-Afrika word die gaping tussen bevoorregtes en benadeeldes, 'n gevolg van die aaklige ongelykheid en die nalatenskap van apartheid, deur die huidige ekonomiese krisis – verhoogde werkloosheid, armoede, misdaad en korrupsie – vererger. Nodeloos om te sê, finansiële omstandighede het 'n beduidende uitwerking op studente se vermoë om sukses in hulle studie te behaal. En die ewige toenemende vraag na beurse, toekennings, studielenings en opvoedkundige borgskappe is algemene kennis.

Tog is toelating tot 'n hoëronderwysinrigting met 'n beurstoekenning van die een of ander aard geen waarborg of paspoort vir akademiese sukses nie.

Vir baie eerstejaarstudente is die oorskakeling na die kampuslewe en tersiêre studie 'n baie groot uitdaging.  Volgens navorsing deur Statistiek SA is 70% van Suid-Afrikaanse eerstejaarstudente die eerste in hul gesin wat universiteit of kollege toe gaan.

Om 'n eerstejaarstudent te wees, is vir die meeste mense moeilik (selfs vir diegene wie se ouer gesinslede wel op universiteit was). Eerstejaars moet vasbyt om by die nuwe omgewing aan te pas en dit verg nuwe en ander maniere van leer en dink.

Uiteindelik is daar, afgesien van die vermoë om die vakinhoud te bemeester en 'n beurs op jou naam, 'n magdom faktore wat bydra tot die suksesvolle uitkoms van 'n student se leerervaring en hulle algehele akademiese prestasie.

In ons strewe om 'n gelyke mededingingsgrondslag te skep en om die kanse op akademiese sukses vir veral ons studente uit benadeelde agtergronde te optimaliseer, het die Universiteit Stellenbosch 'n vennootskap met die Dell-stigting aangegaan wie se program vir jong leiers (Dell Young Leaders) 'n indrukwekkende omvattende ondersteuningsinisiatief ontwikkel het wat as ondersteuning vir suksesvolle prestasie regdeur die student se akademiese loopbaan kan dien. Dit fokus onder meer op:

  • Versterking van akademici met behulp van tutors en leergemeenskappe wat gereeld met mekaar skakel en studente regdeur hulle studieloopbaan ondersteun. (Dit is afgesien van ons jare lange suksesvolle volgstelsel wat die akademiese prestasie van nuwelinge monitor, met vroeë waarskuwingstelsels oor swak prestasie en remediërende aksieplanne om skolastiese prestasie op koers te hou.)
  • Finansiële ondersteuning wat ook daarop gerig is om tekorte te dek: om die bykomende spanning te verlig wat studente gedurende hulle daaglikse studentelewe ondervind, om enige tekorte in hulle NSFAS-finansiering (Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente-) vir hulle klas- en losiesgeld te dek of om studenteskuld laag te hou, en voorsiening vir noodsaaklikhede soos ledegeld vir studenteverenigings, handboeke, kopiëring, reis, toiletware, ens;
  • Omstandigheidsondersteuning: Fokus op die geestelike en sosiale welstand van studente deur ondersteuning te bied in die vorm van berading, mentorskap en ontwikkelingswerkswinkels;
  • Beroepsgereedheid: via 'n digitale platform met instrumente en hulpbronne om studente te ondersteun in die doeltreffende bestuur van hulle akademiese loopbaan en om hindernisse tot indiensneming te oorkom soos die skep van 'n treffende curriculum vitae, om hulleself doeltreffend in die werksmark te bemark en om hulle op professionele onderhoude voor te berei;
  • Indiensneming: Bied persoonlike afrigting en leidingkonsultasies aan finalejaarstudente om teen die agtergrond van hulle nagraadse doelwitte vir werk of verdere studie, doeltreffende aksieplanne te skep en te implementeer.
  • Lidmaatskap van 'n alumni-gemeenskap wat professionele ondersteuning en geleenthede vir netwerke vir loopbaanontwikkeling en -uitbreiding bevorder.

Hierdie ondersteuningsmeganismes stel studente in staat om akademies uit te blink en waardevolle vaardighede gedurende hulle tyd op kampus aan te leer. Dit is daarop gemik om die uitvalsyfer – wat tans aansienlik hoër is onder studente uit benadeelde groepe, gekleurde studente en diegene wat deel uitmaak van die sogenaamde “verlore middel" – aansienlik te verlaag.

Om allesomvattende ondersteuning te hê, rus studente met meer as net 'n graad toe – dit help hulle om vaardighede te bekom wat nodig is om akademies te floreer en om die beroepswêreld as gegradueerdes met die eienskappe te kan betree wat hulle handig te pas sal kom as betrokke en verantwoordelike burgers wat 'n positiewe bydrae tot die samelewing wil maak. 

Dit is dus ons plig as toonaangewende hoëronderwysinrigtings om tot hierdie proses van menslike herstel by te dra en om dit te bevorder deur verby die tradisionele paradigma daarvan te beweeg om onsself van die tekortkominge van basiese onderwys te distansieer en om ons pogings om die mededingingsgrondslag gelyk te maak, met ywer en nougesetheid te versnel. Dit is niks minder as ons morele verpligting teenoor tersiêre onderwys en die toekoms van ons land nie.

  • Foto: Nuwelingstudente by die Universiteit Stellenbosch se verwelkomingsgeleentheid. Fotograaf: Stefan Els

*Prof Deresh Ramjugernath is die Viserektor: Leer en Onderrig aan die Universiteit Stellenbosch.