Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Wetgewende veranderinge kan skuldenaars teen gewetenlose krediteure beskerm
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 01/02/2023

Wanneer jy in die huidige moeilike ekonomiese omstandighede sukkel om jou skuld te delg, is die laaste ding wat jy nodig het, gewetenlose krediteure wat jou kaal uittrek. Ongelukkig is dit die geval vir talle Suid-Afrikaanse verbruikers wat 'n kontantnood beleef. Hulle word deur oneerlike krediteure uitgebuit wat besoldigingsbeslagleggingsbevele, algemeen bekend as loonbeslagbevele, misbruik. Ingevolge hierdie bevele kan geld van jou salaris afgetrek word om jou krediteure te betaal.

“Na raming is miljarde rande al te veel by leners wat reeds finansieel in die knyp is afgetrek en aan gewetenlose uitleners en skuldinvorderaars oorbetaal omdat ons huidige wetlike raamwerk wat besoldigingsbeslagleggingsbevele reguleer, nie oor voldoende doeltreffende maatreëls beskik om ongerymdhede in die invordering van skuld deur hierdie bevele te voorkom, te monitor, te identifiseer en dan te korrigeer nie," sê senior prokureur en dosent, dr Stephan van der Merwe van die Universiteit Stellenbosch (US) Regskliniek. Van der Merwe het onlangs sy doktorsgraad in privaatreg aan die US behaal.

As deel van sy studie oor skuldinvordering het Van der Merwe onder meer op die historiese ontwikkeling, funksie, doel en omvang van die Suid-Afrikaanse loonbeslagbevel gefokus, asook op die leemtes in die huidige raamwerk wat hierdie gewilde siviele skuldtoepassingsmeganisme reguleer.

Van der Merwe, wat al vir meer as 20 jaar kwesbare debiteure in die hof verteenwoordig, sê die volgehoue misbruik van loonbeslagbevele bly in 'n ernstige probleem ondanks talle klein regsoorwinnings en verskeie betekenisvolle wetgewende aanpassings en vooruitgang. 

“Dit wil voorkom asof die regbank en wetgewende gesag nie die volle omvang van die probleem begryp nie, want invordering deur loonbeslagbevelaftrekkings bly steeds buite verhouding met die bedrag van die aanvanklike skuldbevel. Dit laat talle leners in skuld verstrik raak – iets waaruit hulle nie kan ontsnap nie. Dié negatiewe skuldspiraal lei tot toenemende werkloosheid, onvoldoende ekonomiese groei weens 'n gebrek aan verbruikersbesteding en 'n toenemende las op die maatskaplike welsynstelsel."

Volgens Van der Merwe is miljoene ongeskoolde werkers wat klein, vaste salarisse verdien die ideale teiken vir oneerlike skuldinvorderaars. Naïewe werknemers en belangelose werkgewers is ook nie opgewasse teen uitgeslape invorderingsagentskappe wat omvangryke hulpbronne tot hulle beskikking het om die invorderingswerk te doen nie.

“So lank as wat debiteure 'n stabiele bron van inkomste – hoe klein ook al – het, kan krediteure met vertroue skuld op ongereguleerde en onbepaalde wyse invorder deur op die skuldenaar se loon beslag te lê deur middel van besoldigingsbeslagleggingsbevele.

 “In die proses word buitensporige rente, invorderingsgelde en regskostes gehef om krediteure vir die sogenaamde risiko verbonde aan ongesekureerde lenings te vergoed, terwyl hulle in werklikheid die meeste voordele van gesekuriteerde uitlenery geniet."

Van der Merwe sê die situasie word verder vererger deur die brose en inmekaargevlegte raamwerk wat loonbeslagsbevele reguleer. Dit bied nie voldoende beskerming aan debiteure nie.

“Ons land se loonbeslagleggingsmeganisme ly weens ontoereikende regsoorsig gedurende die volle omvang van die proses. Dit laat dit blootgestel aan die gevare van krediteuroorheersing. Die meganisme ly ook aan 'n gebrek aan regsekerheid en deursigtigheid wat gewetenlose spelers toelaat om hul wandade in die gevolglike verwarring en verdoeseling weg te steek.

“Daar heers ook onsekerheid oor die verwagte rolle en verantwoordelikhede van debiteure, hulle werkgewers, krediteure en die beherende owerhede."

Eenvormige wet

Van der Merwe stel voor dat 'n eenvormige Wet op Besoldigingsbeslagleggingsbevele (WBBB) ontwikkel en uitgevaardig word wat uitsluitlik daarop gemik is om loonbeslagleggingsbevele te reguleer en uitbuiting van skuldinvordering deur sulke bevele te bekamp.

Hy sê die WBBB moet onder meer 'n duidelike en gedetailleerde beskrywing van die loonbeslagleggingsbevelproses bevat; dit moet duidelik die regsbevoegdheid van die landdroshof in enige saak rakende 'n loonbeslagleggingsbevel verklaar; dit moet vir die gebruik van eenvoudige taal voorsiening maak; dit moet regverdige kontrakterme bevorder; en dit moet vir debiteurverhalings voorsiening maak in gevalle waar te veel afgetrek is. Verder moet daar 'n boperk vir toelaatbare periodiese aftrekkings gestel word; perke moet gestel word vir toelaatbare rente en invorderings- en regsgelde wat gedurende die verhaling van skuld ophoop; en dit moet voorsiening maak vir strafmaatreëls teen gewetenlose debiteure, krediteure en werkgewers.

“So ʼn wet sal regsekerheid verbeter en sal die kwessies van geregtelike oorsig, proporsionaliteit, deursigtigheid, regres en sanksies aanspreek, terwyl dit ook al die toepaslike rolspelers sal verplig om hul funksies en ingesteldhede te belyn ten einde skuldenaarbeskerming te verbeter. Dit sal regverdigheid tot gevolg hê, misbruikte debiteure in staat stel om geld wat onwettig ingevorder is, te herwin en hulle teen toekomstige uitbuiting beskerm.

“Die uitvaardiging van 'n eenvormige wet kan help om verskeie krediteure, invorderingsagentskappe, regsverteenwoordigers en hul beheerliggame, insluitende die Suid-Afrikaanse Regspraktykraad, in die bek te ruk wat reeds aangedui het dat hulle heftig gekant is teen enige pogings wat daarop gemik is om regverdigheid en beter beskerming van debiteure in die skuldinvorderingsmark te verseker."

Van der Merwe voeg ook by dat ons moet voortgaan om die beskerming van debiteure teen loonbeslagbevele te bevorder deur toepaslike strategiese litigasie, opvoeding, opleiding, voorspraak en ware toegang tot geregtigheid te ondersteun.