'n Uitvoerige studie oor meer as 50 langtongvliegspesies wat endemies tot Suid-Afrika is, het getoon dat spesies wat aan die wetenskap bekend is, maar slegs ongeveer die helfte van die diversiteit van hierdie ekologies belangrike bestuiwergroep verteenwoordig.
Suid-Afrika se langtongvlieë (Nemestrinidae) is uniek, te danke aan hulle uitsonderlike lang monddele. Die bekendste hiervan is Moegistorhynchus longirostris met 'n tong wat tot 'n merkwaardige 90 tot 100 mm in lengte kan strek. Met 'n lyflengte van 15 mm, is die tong meer as vyf maal die lengte van die lyf self. Hierdie langtongvlieë is die enigste bestuiwers van vele langbuisblomme soos die krities bedreigde Hesperantha oligantha, bedreigde spesies soos Disa scullyi en die berglelie (Nerine humillis), asook verskeie Pelargonium-, Plectranthus-, Gladiolu-s, Watsonia- en Lapeirousia-spesies.
Dog, ten spyte van hul charisma, het hierdie familie nog min aandag op die taksonomiefront gekry. Die laaste hersiening van bekende Suider-Afrikaanse nemistrinid-spesies (ongeveer 44) is meer as 90 jaar gelede gedoen.
In 'n onlangse artikel wat in die vaktydskrif Invertebrate Systematics gepubliseer is, raam Dr Genevieve Theron en kollegas dat meer as die helfte van die Suid-Afrikaanse spesies in die Nemestrinidae-familie tans nog onbeskryf is. Hierdie werk maak deel uit van haar doktorale navorsing by die Sentrum vir Funksionele Biologie by die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN), met insette van wetenskaplikes by Stellenbosch Universiteit en Rhodes Universiteit.
Populasie-ekoloë maak gebruik van merk-hervangtegnieke om die populasiegroottes van diere soos renosters te bepaal. Hierdie proses berus op die beginsel dat jy 'n bekende getal gemerkte diere in 'n populasie het. En wanneer die ratio van gemerkte diere tot ongemerkte diere vergelyk word wat tydens opnames geobserveer is, is dit dan moontlik om die totale populasiegrootte te skat. Dr Theron het 'n soortgelyke tegniek gebruik om die diversiteit van langtongvlieë te skat.
Die navorsingspan het 136 eksemplare ingesamel in hulle bekende verspreidingsgebied in Suid-Afrika, Eswatini en Lesotho. Dr Theron het toe DNS-volgordebepalingstegnieke en morfologiese analise ingespan om aan te toon dat daar minstens 58 afsonderlike spesies is, waarvan slegs 29 tans beskryf is. Die oorblywende 29 kon nie geïdentifiseer word nie en verteenteenwoordig daarom waarskynlik spesies wat nog nie voorheen beskryf is nie, wat daarop dui dat die werklike vliegdiversiteit dubbel die grootte is van wat tans beskryf is.
“Ons raam dat die totale nemestrinid-diversiteit in suider-Afrika dalk uiteindelik kan staan op meer as 80 spesies," verduidelik sy.
Volgens Prof Timo van der Niet, medeprofessor by die Sentrum vir Funksionele Biodiversiteit in UKZN en senior outeur van die artikel, daag die artikel die algemene persepsie onder die publiek uit dat die meeste spesies reeds aan die wetenskap bekend is.
“Hierdie studie toon dat selfs in 'n land soos Suid-Afrika wat 'n sterk tradisie van natuurgeskiedenis het, die meeste van die ongewerweldes se diversiteit waarskynlik nog nie beskryf nie. Indien dit die geval is by 'n charismatiese groep soos die langtongvlieë, is dit selfs meer waarskynlik die geval by kleiner insekte," waarsku sy.
Prof Bruce Anderson, 'n evolusiebioloog in die Departement Plant- en Dierkunde by die Universiteit Stellenbosch (US) en mede-outeur, sê studies soos hierdie een lewer 'n betekenisvolle bydrae tot die verbeterde skattings van globale insekdiversiteit en is belangrik om plaaslike ekologie en bewaring beter te verstaan.
“Ons het altyd gedink dat daar ongeveer 150 plantspesies is wat geheel en al afhanklik is van ongeveer nege langtongvliegspesies vir bestuiwing. Sou hierdie vlieë verdwyn, sou vele rare en bedreigde Suid-Afrikaanse plantspesies waarskynlik uitsterf," verduidelik hy.
Maar hierdie studie dui daarop dat die ekologies belangrike langtongvliegspesies miskien meer as nege afsonderlike taksa kan verteenwoordig. Verder is baie van die onbeskryfde vliegspesies waarskynlik op hulle eie betrokke by ingewikkelde plantinteraksies, wat hulle belangrikheid verder vergroot – heelwat groter as wat tans aanvaar word, voeg hy by.
Dr Theron se taak vir die volgende drie jaar, as 'n nadoktorale genoot by die KwaZulu-Natal Museum, sal wees om daardie 29 onbekende spesies te identifiseer en te beskryf (en vele ander wat in versamelings reg oor die wêreld aangehou word).
Die navorsers hoop dat die bevindings van die studie 'n waardevolle basis sal verskaf vir toekomstige bewaringstrategieë vir hierdie belangrike bestuiwergroep.
Die artikel getiteld: “We don't know half of it: morphological and molecular evidence reveal dramatic underestimation of diversity in a key pollinator group (Nemestrinidae)" is op 5 Januarie 2023 in die vaktydksrif Invertebrate Systematics gepubliseer.
Op die fotos bo, 'n Langtonggvlieg moet sy tong ten volle in die nektarbuis van die blom insteek ten einde 'n klein druppeltjie nektar uit die basis van die buis te bekom. In hierdie proses plaas die langbuisiris, Lapeirousia anceps óf stuifmeel op die vlieg se kop, óf is dit die ontvanger van die stuifmeel wat rééds op sy kop is (links) en by die bedreigde Nerine humillis (regs). Foto's: Bruce Anderson en Ethan Newman
Media-navrae
Dr Genevieve Theron
E-pos: genevieveltheron@gmail.com
Sel: +27 82 591 0515
Prof Timo van der Niet
E-pos: vdniet@gmail.com
Sel: +27 728191439
Prof Bruce Anderson
E-pos: banderso.bruce@gmail.com
Sel: +27 72 113 6948