Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Sukses neem tyd, sê Matie-alumnus
Outeur: Development & Alumni Relations
Gepubliseer: 20/12/2022

​Om verantwoordelik te wees vir wat jy in die lewe wil bereik, was die oorheersende les wat Jumien Peceur tydens sy jaar as student geleer het in die Universiteit Stellenbosch se SciMathUS-universiteitsvoorbereidingsprogram – 'n les wat hom tot vandag toe steeds goed dien.

Peceur het by die SciMathUS-klas van 2006 aangesluit nadat hy aan die Hoërskool New Orleans, soos hy dit stel, “as 'n gemiddelde leerder sonder ambisie en motivering" gematrikuleer het.

“Ek het redelik laat besef dat daar 'n hele wêreld ná hoërskool is en dat hierdie wêreld iets van my verwag. Maar ek het nie die gereedskap of volwassenheid gehad om te identifiseer wat ek benodig, in terme van tyd en persoonlike opoffering, om die resultate te behaal om universiteit te kan bywoon nie. Gevolglik was my matriekuitslae nie goed genoeg om my gunstelingvakke van wetenskap, ingenieurswese of geneeskunde te bestudeer nie.

“Ek het eers van SciMathUs uitgevind nadat 'n klasmaat my vertel het van sy suster wat die program voltooi het. Ek het toe besluit om aansoek te doen."

Hy sê sy SciMathUS-reis was 'n insiggewende ervaring wat hom geleer het dat tweede kanse en geleenthede baie skaars is en dat mens dit moet aangryp.

“Dit is van die begin af en deur die jaar duidelik gemaak dat dit nie ons reg is om daar te wees nie, dat dit 'n voorreg is. Dit was vir my die grootste les: die feit dat die wêreld my niks skuld nie en dat harde werk uiteindelik beloon word. Hierdie konsep van persoonlike verantwoordelikheid het my uitkyk op die wêreld verander."

Gevolglik was Peceur dus beter voorbereid vir sy eerste jaar as die meeste eerstejaarstudente en het hy voort gegaan om in 2010 'n BSc in Geologie aan die US verwerf.

“Ek het my loopbaan die volgende jaar (2011) by 'n petroleumhulpbronregulerende agentskap begin. Daarna het ek by 'n mineraalverwerkingsmaatskappy aangesluit waar ek as intern begin het en myself oor die volgende 10 jaar tot 'n senior bestuurspos opgewerk het. Ek is tans die hoofbestuurder by dié organisasie."

'Dit is ons plig om te verseker dat programme soos SciMathUs aanhou floreer'

Maar hy sê die uitdagings in die korporatiewe wêreld was en bly nog steeds oorweldigend.

“Ek het die arbeidsmark betree met idees van grootsheid en met arrogansie, maar het gou agtergekom dat ek nie die nodige ervaring of agtergrond het om op terug te val nie. Ek het presies dieselfde gevoel as na hoërskool, 'n gemiddelde gegradueerde met niks anders as 'n stuk papier agter my naam nie. Maar hierdie keer, danksy SciMathUs, het ek die gereedskap en volwassenheid gehad om skouer aan die wiel te sit en die werk te doen wat nodig is om suksesvol te wees."

Dit is hierdie filosofie van harde werk wat hy wil oordra aan diegene wat hul stempel op die wêreld wil afdruk.

“Die gesegde, '10% inspirasie en 90% sweet', geld. Jy moet die werk insit om te word wat jy droom om te wees. Moenie jouself te ernstig opneem nie, want nege keer uit 10 sal dit jou niks baat nie. Leer jouself ken en besef dat sukses nie oornag plaasvind nie. Dit neem tyd."

Hy het ook 'n beroep op SciMathUS-alumni gedoen om terug te ploeg in die program.

“Ons weet wat SciMathUS vir ons gedoen het en ons weet hoe ons lewens en die van ons gesinne verander het as gevolg daarvan. Ons weet ook dat SCiMathUs produktiewe, ambisieuse nasiebouers tot ons samelewing bydra. Dit is ons plig om te verseker dat programme soos SciMathUs aanhou floreer sodat elke nuwe generasie Suid-Afrikaners die geleentheid kry wat ons gehad het. Kom ons eer hierdie plig deur aan hierdie program te skenk wat ons kan."

​Dié Paarl-boorling studeer tans vir 'n MSc in Ekonomiese Geologie en is ook 'n geregistreerde professionele natuurwetenskaplike.