Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Veranderingsagent kwalifiseer as onderwyser om 'n verskil te maak
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 13/12/2022

Toe die 22-jarige Marcel Adams vandag sy BEd-graad (cum laude) by die Desember-gradeplegtigheid van die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Opvoedkunde ontvang het, was dit baie meer as net 'n akademiese prestasie. Sy graad getuig ook van sy ongelooflike moed, innerlike krag en karaktervastheid. 

Sy lewenskoers kon so maklik 'n ander rigting ingeslaan het nadat hy reeds op 'n vroeë ouderdom 'n hele paar familietragedies beleef het. Hy was net agt jaar oud toe sy oom in 2009 vermoor is, en toe word sy oudste broer – die hoofgetuie in die hofsaak oor sy oom se dood – in 2010 doodgeskiet. 

Adams was 11 toe sy pa twee jaar later ook vermoor is. Iewers langs die pad het sy ander broer by 'n bende betrokke geraak en vir vyf jaar in die tronk beland nadat valse beskuldigings teen hom ingebring is – net nog 'n slagoffer van die bendeoorlog in Elsiesrivier waar die Adams-familie woon. 

“Maar," sê Adams, die jongste van die drie broers, “ek het besluit om aan te hou en deur te druk om 'n deurbraak te maak – vir my en my familie." 

Sy liefde vir leer is by die Goodwood-kollege in Ruyterwacht gekweek waar hy in 2018 gematrikuleer het. Hy gee die eer aan sy hoërskoolonderwysers omdat hulle 'n sleutelrol in sy lewe gespeel het. 

“Hulle het my ondersteun," sê 'n dankbare Adams. “Hulle het in my geglo en my aangepor en gevorm." Dit is waarom hy besluit het om 'n onderwyser te word. “Ek hoop ek sal daardie onderwyser kan wees – al is dit net vir een kind." 

Maak 'n verskil 

Adams het in 2019 as 'n student by die US geregistreer en het onmiddellik met hart en siel by verskeie studenteaktiwiteite betrokke geraak. Hy het in sy eerste jaar in die Opvoedkunde-studentekomitee (OSK) gedien en was ook die klasverteenwoordiger. 

Hy het vir die volgende drie jaar as lid van die OSK in die portefeulje vir sosiale impak gedien. Hy was in 2021 die voorsitter van die OSK. Dit het hom outomaties 'n lid van die Universiteit se Akademiese Bestuursraad gemaak. Die raad bestaan uit die studentekomitees van al die fakulteite. 

“Die lekkerste ding die afgelope vier jaar was om ons studente te dien," sê Adams. “Ek het die leierskapsrol geniet – om die inisiatief te neem en idees verder te voer en om aan studente 'n platform te bied. Dit was soms maar stresvol, maar ek sal nooit die ondervinding vergeet nie." 

Hy sê die OSK het nie gedurende die Covid-19-pandemie hande gevou gesit nie. Beyond Eduation – 'n program wat hy in sy tweede jaar geskep het as deel van die OSK se portefeulje vir sosiale impak – het werkboeke vir skole gemaak om leerders gestimuleer te hou en hulle het ook maskers en ontsmettingsmiddels aan skole verskaf om te help om 'n veilige omgewing te verseker. 

Maar Adams erken dat die pandemie ook vir hom 'n moeilike tyd was en toe die Universiteit sy kontaklesings moes opskort, moes hy noodgedwonge terugtrek huis toe. “Daar was baie skietery en geweld in die gebied terwyl ek moes sit en studeer. Dit was moeilik, maar ek moes net in myself bly glo – dat ek dit kon regkry." 

Maar in die algemeen koester Adams sy vier jaar by die Universiteit. “Daar is so baie geleenthede vir selfverryking. Ek het regtig daarvan gebruik gemaak." Hy het byvoorbeeld verskeie kursusse by die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskapontwikkeling voltooi. 

Hy het as student ook tyd gemaak om die Stellenbosse naglewe te geniet en om nuwe plekke te verken – veral dié in die natuur. “Ek het my studentelewe by die Universiteit Stellenbosch baie geniet. En kyk nou: Ek gradueer uiteindelik." 

Hy beplan om vir die volgende twee jaar sy studies deeltyds aan die US voort te sit om sy honneursgraad te verwerf. “Ek het ondanks al my aktiwiteite akademies goed gevaar," sê hy. 

Adams sien ook baie uit daarna om aanstaande jaar in Elsiesrivier te begin skoolhou. “Daar is so baie maatskaplike kwessies in die gebied," sê hy. Maar ek lewe om 'n sosiale impak te hê. As ek uit my pad moet gaan om iemand se omstandighede te verbeter, sal ek dit doen. 

“Dis is maklik om in 'n gegoede skool te wees. Jy stap in en die rekenaar, witbord en projektor is daar," voeg hy by. Maar, sê hy, hy wil 'n verskil maak en sy onderwyspos sal aan hom daardie geleentheid bied. Hy is beslis van plan om 'n agent vir sosiale verandering te bly.