Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-eregraad vir Ghanese kolos in hoër onderwys
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 08/12/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n eredoktorsgraad aan een van Afrika se kolosse in die hoër onderwys, prof Ernest Aryeetey, by      sy Desembergradeplegtigheid verleen. Hy het Donderdag (8 Desember 2022) die graad, Doktor in die Handel (DCom), honoris causa, by 'n kontakgradeplegtigheidseremonie vir die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe ontvang.

Aryeetey, afkomstig van Ghana, is vereer vir sy vernuftige en innoverende leierskap in die hoëronderwyssektor in Afrika, sy toegewydheid tot die skep van platforms om navorsings- en innovasievermoë op die vasteland uit te bou, en die oordrag van sy kennis deur vele vakkundige bydraes.

Aryeetey het in sy aanvaardingstoespraak die US vir die eregraad bedank en gesê hy is heeltemal bewus daarvan hoe betekenisvol dit is. “Ek voel diep geraak deur die gebaar en ek is baie bly dat die werk wat ons almal saam in hierdie streek doen, erken word. Ek glo die belangrikheid daarvan sal regoor die streek weerklink."

Aryeetey het met verwysing na die Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite (ARUA) die belangrike rol van hoëronderwysinrigtings benadruk in die aanspreek van die uitdagings wat Afrika ondervind.

“Ons glo vas Afrika moet die manier verander waarop sy ekonomieë bestuur word ten einde die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bereik. Die enigste manier om hierdie verandering teweeg te bring, is deur die kennisstelsels te bou wat daarvoor nodig is en om dit doeltreffender te gebruik."

Hy het die US daarvoor geloof dat die Universiteit meer tot ARUA bydrae as wat aan die begin die verwagting was.

Meer oor Aryeetey

As 'n hoog aangeskrewe denkleier in die hoër onderwys, het Aryeetey 'n enorme bydrae tot die sektor gelewer, nie net in sy geboorteland Ghana nie, maar oor die hele Afrika.

Aryeetey is die stigtersekretaris-generaal van die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (ARUA), 'n netwerk universiteite wat hulle op navorsingsvermoëbou op die vasteland toespits. Nadat ARUA tot stand gebring is, het Aryeetey die leiding geneem en 13 navorsingsgebiede geïdentifiseer om interdissiplinêre navorsingsamewerking te fasiliteer, en ook 11 ARUA-sentrums van uitnemendheid gestig. Een daarvan is die ARUA Sentrum van Uitnemendheid in Energie aan die Universiteit Stellenbosch.

Dié professor in Ekonomie en voormalige visekanselier van die Universiteit van Ghana (2010-2016) het akademiese poste by die Skool vir Oosterse en Afrikastudie (Londen) en by sowel Yale-universiteit as Swarthmore-kollege (albei in die Verenigde State) beklee. Sy navorsing handel oor die ekonomie van ontwikkeling, en hy is veral bekend vir sy werk oor informele en mikrofinansiering in Afrika.

Hy is 'n lid van die beheerraad van die Verenigde Nasies-universiteit (VNU) en 'n voormalige voorsitter van die adviesraad van die VNU Wêreldinstituut vir Navorsing oor die Ontwikkelingsekonomie (Helsinki).

  • ​Foto: Prof Ernest Aryeetey by die gradeplegtiheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els