Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Zweig se lang pad na sukses
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/12/2022

Toe Patricia Zweig, beter bekend as Trish, op 36-jarige ouderdom begin studeer het, het sy nooit gedroom dat sy op die ouderdom van 62 met ʼn Philosophiae Doctor (PhD) sou gradueer nie.

Maar op 5 Desember het Zweig, ʼn dosent en navorser vir die Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering (RADAR), ʼn onafhanklike navorsingsentrum aan die Universiteit Stellenbosch (US), haar PhD in Geografie en Omgewingstudie verwerf.

“Die pad wat ek van kelnerin na akademikus gestap het, was ʼn lang en lonende een," het ʼn verheugde Zweig in ʼn onderhoud gesê. “Dit is ʼn ondenkbare prestasie. Ek sou nooit kon raai dat ek so ver sou kom of dat my studies my so ver kon bring nie."

Dit het in haar jonger dae fyn voetwerk van Zweig geverg om verskillende poste te beklee terwyl sy ook na haar twee kinders moes omsien. Sy sê wou baie kere tou opgooi – veral in haar honneursjaar toe haar dogter in matriek was. “Maar as ek terugdink aan die pad wat ek gestap het, het ek baie wonderlike lewensondervindings gehad soos om regoor Afrika en die Verenigde State te reis."

Sy is die eerste een in haar en haar man se gesin is om ʼn graad te verwerf en is ʼn sterk voorstander daarvan dat mense ongeag hulle omstandighede moet gaan studeer sodat hulle hul horison kan verbreed. 

“Ek hou daarvan om ander te inspireer – veral werkende mense met kinders – wat glo hulle kan nie studeer nie." 

“Ek probeer hulle motiveer om in my voetspore te volg. Ek wil hê hulle moet die geleenthede kry wat ek gehad het. ʼn Aantal van my vriende wat werkende mammas was toe ons ontmoet het, het ook besluit om weer te gaan studeer. Hulle sluit onder meer ʼn landdros, prokureur en sielkundige in." 

Zweig, wat in Malawi gebore is en in Londen grootgeword het, het op 12-jarige ouderdom na Suid-Afrika verhuis. Sy het in Vishoek skoolgegaan en wou na skool gaan verder studeer, maar weens omstandighede kon sy dit nie doen nie. Sy is getroud, het twee kinders gehad en om ʼn bestaan te maak, het sy as kelnerin gewerk, spysenieringswerk gedoen en kinderspeelgoed gemaak. Sy het uiteindelik op die ouderdom van 36, toe haar kinders 11 en vyf jaar oud was, besluit om Omgewingstudies aan die Universiteit van Suid-Afrika (UNISA) te studeer.

Sy het in haar studies floreer en het ʼn paar jaar later haar BA-graad in Antropologie en Geografie (cum laude) verwerf. In 2002 het sy met behulp van ʼn beurs wat die helfte van haar koste gedek het, haar honneurs in Geografiese Inligtingstelsels vir Ruimtelike Analise en Besluitneming aan die US voltooi.

In daardie tyd het sy ook waterblommetjies wat sy by plaaslike boere gekry het, verkoop waar sy ook al kon. “Ek het vir nege jaar waterblommetjies verkoop. Dit het my kinders deur die hoërskool gesien en het my deur my honneurs- en meestersgrade gebring," het sy bygevoeg. 

Aan die einde van 2002 het sy die toekenning vir die beste honneursprojek in daardie jaar gewen. Daarna het sy  ʼn beurs ontvang om haar meestersgraad aan die Universiteit van Kaapstad (UK) te voltooi. In 2006 het sy as deel van die eerste kohort van die Potters-navorsingsbeurs haar meestersgraad in Omgewingstudies en Geografie (cum laude) ontvang. 

Zweig het vir twee jaar by die UK se Departement Geografie gewerk, waarna sy vir die eenheid waaruit RADAR ontwikkel het, gewerk het voordat die eenheid in 2010 van die UK na die US verskuif het.

Sy is hierna aangewys as die projekbestuurder van Periperi U – ʼn konsortium van Afrika-universiteite wat kapasiteit bou om ramprisko's in Afrika te verminder. As projekbestuurder kon sy universiteite regoor die wêreld besoek.

Sy het besef sy is lief vir doseer, veral oor ramprisiko, en het in 2015 ʼn akademikus by RADAR geword. Haar werk het die aanbied van lesings en navorsing behels. Sy bied ook Geografiekursusse by die US aan.

Sy het baie jare in informele nedersettings gewerk en het ʼn passie vir gemeenskapsgebaseerde navorsing en uitreikingsprogramme op die gebied van stedelike risiko en kwesbaarheid, sowel as bestaanstudie.

As deel van RADAR is sy ook by uitgebreide ex-post Rampstudie in die Wes-Kaap betrokke en sy bied kortkursusse aan vir praktisyns oor ramprisiko-onderwerpe.

Zweig, ʼn selferkende natuurliefhebber, woon in Glencairn en hou daarvan om in die berge te stap en na musiekoptredes te luister.

Sy beplan nie om verder te studeer nie en gaan in 2025 aftree. “Dit was ʼn wonderlike avontuur. Ek is so bly ek het besluit om die pad aan te durf wat my belangstellings weerspieël."