Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Lachman fokus op kinders se geestesgesondheid
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/12/2022

​Toe dr Anusha Lachman, hoof van die Kliniese Eenheid Kinderpsigiatrie by die Tygerberg-hospitaal, op 6 Desember haar PhD in Psigiatrie ontvang het, het sy meer toegewyd as ooit gevoel om voort te gaan om tot die kinderpsigiatrie-vakgebied in Suid-Afrika (SA) en Afrika by te dra. “Dit moet op ʼn Afrosentriese, kultureel sensitiewe manier gedoen word,” het Lachman in ʼn onderhoud gesê.

Lachman, wat die sameroeper van die meestersgraadprogram in Babageestesgesondheid aan die Universiteit Stellenbosch is, het die Bongani Mayosi-beurs vir haar PhD-werk ontvang en het haar doktorsgraad met behulp van die prestigeryke King’s College London Erasmus-beurs voltooi. Haar PhD het ʼn eenvoudige waarnemingsinstrument – die Gedeeldeplesierparadigma – vir klinikusse op voetsoolvlak in SA ondersoek vir gebruik as siftingsinstrument vir risiko-babas en hulle ma’s met geestesiektes.

“Dit was vir my baie belangrik om my PhD te voltooi,” sê Lachman, wat vroeër vanjaar ʼn aanlyn kortkursus oor babageestesgesondheid van stapel gestuur het. “Dit is moeilik vir mense met voltydse kliniese beroepe om ʼn PhD te doen. Baie van die besluitnemings met betrekking tot sorg, hulpbronne en navorsing word deur navorsers in laboratoriumomgewings geneem en nie deur klinikusse wat in die vakgebied werk nie. So, ek is opgewonde en verlig dat ek dit kon bereik. Dit sal my akademiese geloofwaardigheid verhoog.”

Prestasie

Lachman, die dogter van twee onderwysers, het in Chatsworth, KwaZulu-Natal grootgeword en het in 2001 as mediese dokter aan die Universiteit van KwaZulu-Natal gekwalifiseer. Sy het twee jaar in die Verenigde Koninkryk gewerk voordat sy na haar nagraadse studie in SA teruggekeer het. Sy het in 2009 as ʼn spesialispsigiater aan die Kolleges van Geneeskunde van Suid-Afrika (KGSA) gegradueer en haar subspesialisgraad in Kinderpsigiatrie (cum laude) in 2011 voltooi.

Die program vir Babageestesgesondheid is die enigste program van sy soort in Afrika wat die onderrig van meer Afrosentriese moederlike babagesondheid moontlik maak. Lachman sê die meeste van die huidige navorsing, literatuur en denke rondom babageestesgesondheid fokus op Westerse hoë-inkomste-omgewings. “Ek stel belang in hoe moeder- en babagesondheid in ons konteks en in omgewings met beperkte hulpbronne lyk.

“Daar is nie iets soos die universele ma en kind nie. In Afrika word kinders gereeld in gemeenskappe deur tantes, oumas of uitgebreide familie grootgemaak. Wanneer ons aan die geestesgesondheid van kinders op ons vasteland dink, moet ons ook aan die geestesgesondheid van die versorger dink.”

Lachman sê sy glo kinderpsigiatrie het die potensiaal om ontwikkelingstrajekte te beïnvloed en kinders se geestesgesondheid te beïnvloed “waar dit die meeste saak maak”. Die vakgebied is egter “erg onderverteenwoordig” in SA, met minder as 45 geregistreerde kinderpsigiaters in die land, met min navorsing wat in kinderpsigiatrie in lae- en middelinkomstelande gedoen word, sê sy en voeg by sy hoop om hieraan aandag te gee deur te verseker dat plaaslike navorsing gedoen word.

“Daar is ʼn geestesgesondheidskrisis in SA en op die vasteland,” meen Lachman. “Geestesiektes word grootliks gestigmatiseer, kry dikwels nie genoeg erkenning nie, en daar is ʼn huiwering om toegang tot sorg te kry. Daarbenewens word toegang tot sorg beperk deur hulpbronbeperkings. Daar is ʼn algemene gebrek aan politieke wilskrag in SA en op die vasteland om die groot uitdaging van geestesgesondheid die hoof te bied.”

In Afrika “ondermyn” of maak mense dikwels geestesgesondheiduitdagings as “ongeldig” af weens die sosiale spanning wat hulle daagliks in die gesig staar. “Die groot hartseer is dat geestesiektes behandelbaar is as dit doeltreffend bestuur en vroeg geïdentifiseer word.

“As ʼn klinikus-navorser hoop ek dat ek, deur vrae te beantwoord wat plaaslik van toepassing en kultureel belangrik is, verder tot die kinderpsigiatrie-vakgebied in SA en Afrika kan bydra,” sê sy verder.

Invloed

Lachman, verkose president van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Psigiaters (SASOP), is die eerste kinderpsigiater om hierdie amp te beklee wat tradisioneel deur volwasse psigiaters beklee word. “Ek hoop hierdie posisie laat my ʼn mate van invloed op regerings- en beleidsvlakke toe om groter fokus op geestesgesondheid van kinders en adolessente te kan plaas,” sê sy.

“Kinder- en adolessentepsigiatrie is ʼn vakgebied waarin vroeë ingryping die grootste uitkoms kan hê. Daar is steeds potensiaal om die trajek van die lewensloop van ʼn kind te beïnvloed, veral as daar na babas se geestesgesondheid van die ouderdom nul tot drie gekyk word. As ons vroeg ingryp, is dit die tyd wat ons breinfunksionering kan optimaliseer, en ontwikkelende breine teen teëspoed, geestesiektes en psigososiale stres kan beskerm.