Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verstewig verhoudings met vooraanstaande Europese universiteite
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 07/12/2022

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het in November besoekende lede van Die Gilde van Europese Navorsingsintensiewe Universiteite op die Stellenbosch-kampus verwelkom om kennis uit te ruil en verdere medewerking te bespreek.

Die afvaardiging het bestaan uit verteenwoordigers van die universiteite van Bern, Oslo, Warwich, Groningen, King’s College in Londen, Université Paris Cité, Uppsala-Universiteit en Babeș-Bolyai-Universiteit.

Die US het tydens die besoek ook amptelike ooreenkomste met die universiteite van Warwick en Oslo onderteken om ons instelling se verbintenis te verstewig tot die verkenning van nuwe maniere om betrokke te wees en bilaterale geleenthede vir personeel en studente te skep.

Die vennootskap met die Universiteit van Warwick sal studente-uitruiling, gesamentlike supervisie, navorsingsaktiwiteite, konferensies en ander akademiese byeenkomste oor onderwerpe van gemeenskaplike belang insluit. Hoewel die US en Warwick reeds in die verlede met mekaar meegewerk het, was daar tot nou toe geen formele ooreenkoms nie. Die US het reeds lank ’n vennootskap met die Universiteit van Oslo en die nuwe ooreenkoms sal ’n kluster van uitnemendheid in energie skep.

Die program gedurende Die Gilde se besoek het verskeie ontmoetings en geleenthede oor navorsingstrategieë en die finansieringsomgewing in die hoër onderwys in Suid-Afrika ingesluit.

Prof Wim de Villiers, die Rektor en Visekanselier van die US, het ’n oorsig van die US asook plaaslike en globale konteks vir die Universiteit se posisionering in die hoëronderwyslandskap gebied. Prof Hester Klopper, Adjunk-visekanselier: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, het die US se strategieë vir internasionalisering en medewerking met ons Europese vennote beklemtoon. 

Die direkteure van ons twee kruisdissiplinêre skole, prof Guy Midgley, Direkteur: Skool vir Klimaatstudie, en prof Kanshu Rajaratnam, Direkteur: Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke, het ook ’n oorsig van hul onderskeie omgewings gegee en gesprekke met Gilde-lede gevoer oor moontlike toekomstige vennootskappe.

Ander sprekers het prof Jackie du Toit van die program vir toekomstige professors, Future Professors Programme, en prof Edward Kirumira, Direkteur: Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (STIAS), ingesluit. Kirumira het die ISO LOMSO-genootskap by STIAS aan die besoekers verduidelik.

Die Gilde, wat in 2016 gestig is, bestaan uit 21 van Europa se mees uitgelese navorsingsintensiewe universiteite in 16 lande en is daartoe verbind om die stem van akademiese instellings, hulle navorsers en hulle studente te versterk.

Volgens ’n amptelike verklaring “is Die Gilde daartoe verbind om uitnemendheid, die belangrikheid van die soeke na waarheid en die bou van vertroue as die grondslag van die openbare lewe en die skepping van nuwe kennis tot voordeel van die samelewing, kulture en ekonomiese groei na te strewe”.

Die besoek aan die Stellenbosch-kampus het plaasgevind op die vooraand van die eerste beraad tussen die Afrika-navorsingsuniversiteitsalliansie (African Research Universities Alliance – ARUA) en Die Gilde in Kaapstad wat deur die visekanseliers en presidente van meer as 30 universiteite regoor Afrika en Europa bygewoon is.