Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Jong doktor laat haar nie deur diabetes onderkry nie
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking
Gepubliseer: 07/12/2022

Vier tot ses keer per dag. Dit is hoe gereeld dr Yolandi Swart van Pretoria haarself insulien moet inspuit, want haar lewe hang daarvan af. Swart is op negejarige ouderdom met tipe 1-diabetes (wanneer die pankreas baie min of geen insulien vervaardig nie) gediagnoseer en sedertdien is insulien haar lewensaar. Maar sy het nie toegelaat dat dit haar verhoed om die toppunt van haar akademiese loopbaan – 'n doktorsgraad in Menslike Genetika van die Universiteit Stellenbosch (US) – te bereik nie. Sy het Dinsdag (6 Desember 2022) haar graad by die US se Desember-gradeweek ontvang.

Swart sê dit is nie maklik om met diabetes saam te leef nie. “Die feit dat ek op so 'n jong ouderdom met tipe 1-diabetes gediagnoseer is, het 'n reuse-invloed op my alledaagse lewe gehad. Ek moet my bloedsuikervlakke daagliks baie fyn dophou. 

“Ek het altyd gedink dit sal my benadeel, maar dit het my meer simpatiek gemaak teenoor mense wat met chroniese siektes moet saamleef en diegene wat nie dieselfde hulpbronne het om hulle diabetes te behandel nie.

“Dit het my ook laat besef dat kinders met tipe 1-diabetes wat in armer gemeenskappe woon, nie die voldoende behandeling en mediese sorg ontvang wat hulle eintlik nodig het nie, en dit is moeilik om onder sulke omstandighede 'n gesonde lewenstyl te handhaaf."

Op 12-jarige ouderdom het Swart aan 'n kliniese proef deelgeneem waartydens 'n nuwe soort insulien op haar getoets is om te bepaal hoe doeltreffend dit in die bestuur van tipe 1-diabetes sal wees.

“Dit het 'n baie groot indruk op my gelaat en ek het toe al geweet dat ek eendag navorsing gaan doen wat tot gesondheid en die geneeskunde sal bydra."

Meestersgraad opgegradeer na PhD

In haar strewe om haar droom te verwesenlik, het Swart besluit om ná matriek menslike lewenswetenskappe en genetika aan die US te kom studeer. Sy het uitstekend in haar voorgraadse én nagraadse studie gevaar – soveel so dat haar meestersgraad in 2019 na 'n PhD opgegradeer is. Dit is iets wat baie selde in die akademie gebeur.

Swart het vir haar PhD berekenings- en statistiese metodes gebruik om die genetiese inligting van bevolkings suid van die Sahara te ontleed wat ingewikkelde genetiese voorgeslagte het wat deur tuberkulose (TB) én tipe 2-diabetes geraak is. Sy wou die genetiese inligting identifiseer wat met die medevoorkoms van hierdie siektes in hierdie bevolkings verbind word. Dit is die eerste Suid-Afrikaanse menslikegenetikaprojek wat TB én diabetes insluit.

Sy sê haar navorsingstudie verskaf 'n raamwerk om die genetiese veranderlikheid in vermengde bevolkingsgroepe van Afrika te verstaan. “Dit sal ook as 'n genetiese gereedskapskis dien wat gebruik kan word om genetiese data-ontleding van hoogs vermengde bevolkingsgroepe te doen wat deur oordraagbare en nie-oordraagbare siektes geraak word. Genetiese veranderlikes kan geïdentifiseer en gebruik word om verpersoonlikte medisyne- en behandelingstrategieë te ontwikkel wat spesifiek vir daardie bevolkingsgroepe bedoel is."

Oorkom uitdagings

Swart sê wanneer sy nou terugkyk op haar reis en die uitdagings wat sy weens haar gesondheid moes oorkom, is sy dankbaar vir haar gesin, onderwysers, sportafrigters, dokters, verpleegkundiges en haar PhD-opsiener se ondersteuning. Sy voeg by dat haar akademiese prestasies bewys dat jy steeds jou drome kan najaag, selfs al is jy 'n diabeet. “Daar is ongelukkig baie stigmas rondom veral tipe 1-diabetes. Baie mense sal – sonder die nodige kennis oor jou toestand – vir jou ongegronde raad probeer gee wat ontmoedigend kan wees."

Swart moedig mense met diabetes aan om hulp te soek wanneer hulle oorweldig of uitgebrand voel, want dit kan baie uitputtend wees om die siekte daagliks te bestuur.

Sy oefen gereeld en neem aan sport deel en glo vas dat mense met diabetes vol, gesonde lewens kan lei.

“Wanneer ek nie voor my boeke is nie, geniet ek dit veral om in die buitelug te wees en avontuurlustige aktiwiteite soos stap, swem en landloop aan te pak. Ek het ook onlangs by die Stellenbosse driekampspan aangesluit en het begin om aan driekamp deel te neem. Ek sal baie graag eendag 'n volledige Ironman-kompetisie wil voltooi."

Noudat sy haar PhD het, beplan dié jong ystervrou om in 2023 haar biomediese navorsing as 'n postdoktorale genoot aan die US voort te sit.

  • ​Foto: Dr Yolandi Swart by die gradeplegtigheidseremonie. Fotograaf: Stefan Els