Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
MFM skitter by SA Radio-toekennings
Outeur: Division Strategic Initiatives
Gepubliseer: 07/12/2022

​Aanbieders van die Stellenbosch-gemeenskapsradiostasie MFM 92.6 was die Universiteit Stellenbosch (US) se trots by die SA Radio-toekennings wat op Saterdag 26 November 2022 gehou is. Katlego Letlonkane het weggestap met die toekenning vir die beste aandprogram (kampus), terwyl Wilné van Rooyen as een van vyf finaliste in die kategorie nuusleser (kampus) erken is. 

Katlego Letlonkane se program, #SiyaKhulaLive, fokus op kwessies oor transformasie en maatskaplike geregtigheid en word Woensdagaande van 18:00 tot 19:00 uitgesaai. Haar vervaardiger, Tebogo Radebe, is tans 'n PhD-student aan die Departement Drama. Die radioprogram is 'n uitbreiding van Siyakhula, die US se program vir die ontwikkeling van diversiteitskapasiteit wat deur die US Transformasiekantoor en Menslike Hulpbronne (Diensbillikheid en die Bevordering van Diversiteit) gekoördineer word.

“Die program het ten doel om diversiteit en diensbillikheid te bevorder deur ruimte te skep vir besinning, betrokkenheid en gesprekvoering," sê Katlego.

Die inhoud op #SiyaKhulaLive stem ook ooreen met die US Transformasiekantoor se Imbizo 365-kalender van betrokkenheid.

“Elke maand op hierdie kalender het 'n tema en ons het dit as besprekingspunte op die program gebruik. Byvoorbeeld: Maart is Menseregtemaand en ons besinning het dus oor fundamentele menseregte gegaan. April is Vryheidsmaand. Daarom het ons baie gepraat oor demokrasie en wat vryheid vandag vir ons in Suid-Afrika beteken," verduidelik Katlego.

“Siyakhula beteken 'ons groei' en die program hou beslis dié naam hoog. #SiyaKhulaLive het met elke aanbieding gegroei. Ons eerste program was in September 2020, wat Erfenismaand is. Ons het saam nagedink oor die belangrikste nasionale simbole van ons erfenis, soos die volkslied en die vlag, en wat dit vir elkeen van ons beteken, en wat dit ontlok. Dit het ons heelwat diep en verrykende perspektiewe gegee. Ek het dadelik verstaan wat ons hier in die Stellenbosch-gemeenskap veronderstel is om te doen: Om voortdurend tyd vir hierdie gesprekke te skep, om 'n ruimte te vind waarin ons as 'n gemeenskap met mekaar kan verbind en daadwerklik op hierdie wyse met mekaar kan praat."

Vir Katlego is hierdie toekenning 'n absolute bonus, want dit gee aan haar erkenning vir iets waarvoor sy regtig lief is. “Ek wou nog altyd iets doen wat my met ander mense kan verbind. Ek kon groei en vertroue opbou dat die dinge waaraan ek waarde heg en oor die radio kan deel, by ander sal aanklank vind. En ek het ook só baie geleer deur na ander mense se stories te luister. Dit is werklik insiggewend en verootmoedigend op soveel maniere," sê sy.

Katlego is entoesiasties oor die trefkrag van radio om ander te bereik en haar liefde vir die medium het op 'n vroeë ouderdom begin. “Ek onthou hoe ek naweke na Mark Pilgrim op 94.7 (Hoëveld) geluister het toe ek so 10 jaar oud en besig met huistakies was. Ek was geboei deur hulle produksie van radio saam met die destydse nuusleser, Dineo Mphahlele, en ek het geweet dit is wat ek eendag wil doen.

“Die wonderlike ding is dat ek so vyf jaar gelede die geleentheid gekry het om by die eertydse Hot 91.9 (nou Hot 102.7) in die nuusdepartement te werk. Ek het vir my eerste dag opgedaag en raai op wie se program ek die nuusanker moes wees? Mark Pilgrim! En daar was ek toe naweke saam met Mark Pilgrim in die ateljee, maar hierdie keer was dit ek wat die jongste nuus uitgesaai het! Ek! Dis vir my net wonderlik hoe die storie se kring voltooi is, want dit is 'n bewys dat drome wel bewaarheid kan word," sê sy.

“Vir my is elke Woensdag om 18:00 'n hoogtepunt. Ons weet ons gaan leer. Ons gaan deel. Ons gaan betrokke raak en ons gaan gesels en nuwe gesprekke aanknoop. In Augustus, Vrouemaand, het ons besin oor die storie van Prinses Magogo, van wie ek eers kort voor die program iets te wete gekom het. Sy is so 'n enorme figuur in ons geskiedenis. Ons het meer onlangs 'n storie oor Noni Jabavu gedeel. Sy is 'n swart vrou wat in Suid-Afrika gebore is en in Engeland en met hulle kultuur grootgeword het, en sy ervaar hierdie twee verskillende wêrelde in 'n tyd van verhoogde politieke segregasie. Noni Jabavu se storie het ons op 'n reis van identiteit en pleksgevoel geneem, en dit is 'n belangrike storie om in Stellenbosch te vertel.

“#SiyaKhulaLive het my geleer hoe belangrik dit is om stories te vertel. Hierdie stories word nalatenskappe vir geslagte om na te luister en oor na te dink. Mense kan daardie stories as 'n bevestiging van hulle eie storie gebruik. Daarom is dit vir my so bevredigend om hierdie soort werk te doen, want ek vind ook baie baat daarby. Dit gaan nie net oor die mense wat ons met die program geraak het nie, maar ook oor die stories van die mense wat my geraak het. Ek hoop ons luisteraars deel ook hierdie sentiment. Ek word geraak, aangeroer en gevorm deur die gesprekke wat ons voer en die stories wat ons op daardie platform kan deel. Dit is regtig iets spesiaal," sê Katlego.

Wilné van Rooyen was 'n finalis in die kategorie nuusleser (kampus). Sy is ook Maandae tot Vrydae van 15:00 tot 18:00 MFM se Drive-aanbieder. Met 'n honneursgraad in joernalistiek aan die US het Wilné 'n besondere liefde vir die samestelling en lees van nuus.

“Vir my is radio die wonderbaarlikste medium, want dit stel jou in staat om bloot op grond van die inhoud wat jy bespreek, met jou luisteraars te verbind. Omdat die visuele element ontbreek, moet jou inhoud regtig goed wees, en ek glo werklik ons doen dit by MFM," sê sy.

MFM ontvang voorbereide nuusbulletins vir hulle programme, maar Wilné sê haar joernalistieke instinkte skop altyd in en sy redigeer die kopie om relevant vir haar luisteraars te bly. “Ek glo radionuus het nog altyd 'n voorsprong in die digitale era omdat dit kompak en bondig is – jy kan binne 'n paar minute 'n samevatting van al die jongste gebeure kry – en jy kan dit doen terwyl jy op pad is of met iets anders besig is."

Hoewel sy nie die kategorie vir nuusleser gewen het nie, sê Wilné dit was 'n wonderlike erkenning vir haar harde werk om 'n finalis te kon wees, en sy is geïnspireer om volgende jaar te wen. “Ek maak 'n grappie dat ek nou weet hoe die benoemdes van die Grammys of Oscars voel, maar dit is regtig wonderlik om in sulke uitstekende geselskap te wees en ek het waardevolle lesse geleer oor waarop ek in die toekoms moet fokus," sê sy.

Wat is die SA Radio-toekennings?

Die SA Radio-toekennings is in 2010 bekendgestel. Hierdie jaarlikse toekennings gee erkenning aan uitstaande prestasie in Suid-Afrikaanse radio oor die hele spektrum – kommersiële stasies, openbare uitsaaiwese, gemeenskapstasies en kampusstasies. Die beoordelaars neem kreatiwiteit, aanbieding, waarde, produksie, doeltreffendheid en geloofwaardigheid in ag wanneer die finaliste beoordeel word. Besoek die webwerf by https://radioawards.co.za/

Die storie van MFM

MFM 92.6 is 'n kampus-gefokusde gemeenskapstasie in besit van die Universiteit Stellenbosch wat onder lisensie bedryf word. Die stasie is tans onder die bestuur en mentorskap van die Afdeling Strategiese Inisiatiewe in die Verantwoordelikheidsentrum: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake, en ondergaan 'n langtermynproses van herstrukturering en herbeplanning. 

MFM het eers as Radio Matie bekendgestaan, in wese 'n PA-stelsel vanuit die destydse Langenhoven Studentesentrum, en het in 1995 ná verkryging van sy eerste FM-lisensie na Matie FM verander. Deur die jare is die naam na MFM 92.6 verander, en die stasie is gekonsolideer as 'n nasionale leier in kampus- en gemeenskapsradio. 

MFM bedien 'n primêre gehoor van tersiêre studente en US-personeel, maar maak ook voorsiening om die breër Stellenbosch-gemeenskap bymekaar te bring. Programmering is op aktuele onderwerpe en kwessies gefokus, met 'n algehele mikpunt om altyd te vermaak, op te voed en in te lig. MFM tree ook op as 'n belangrike opleidingsterrein vir diegene wat die mediawêreld wil betree.

Luister op jou radio na MFM op 92.6 FM of stroom dit via MFM se webwerf by www.mfm.co.za.


Siyakhula on MFM.png

WENNERS Katlego Letlonkane en Tebogo Radebe, aanbieder en vervaardiger van die program #SiyaKhulaLive wat Woensdagaande op MFM 92.6 uitgesaai word. Foto: Stefan Els