Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Student in maatskaplike werk ontvang PhD op sy 30ste verjaardag
Outeur: Sonika Lamprecht / Photo: Stefan Els
Gepubliseer: 05/12/2022

Maandag 5 Desember 2022 was 'n groot dag vir dr Hillary Chibaya. Hy het nie net die verhoog oorgesteek om sy doktorsgraad van die Universiteit Stellenbosch (US) te ontvang nie, maar hy het ook sy 30ste verjaardag gevier.

“Ek is opgewonde om op my verjaardag te gradueer. Afsonderlik is dit albei spesiale  geleenthede. Om beide saam met my familie en vriende te kan vier, is baie kosbaar."

Chibaya het in Harare, Zimbabwe saam met sy jonger broer en twee susters grootgeword. Hy het sy hoërskooljare by Hoërskool Moleli naby die dorp Norton – sowat 80 km van Harare af – deurgebring. Sy belangstelling in en sy begrip vir die sosiale interaksie tussen mense, gekoppel aan 'n liefde om minderbevoorregtes te help, het hom na die vakgebied van Maatskaplike Werk gelei.

Sy ouma, dr Chipo Mutyambizi wat ook 'n US-alumna is, het hom aangeraai om aan die US te kom studeer. “Terwyl ek besig was om oor 'n universiteit vir my studie te besluit, was sy besig om haar meestersgraad in Ekonomie aan die Universiteit te voltooi. Sy was oortuig dat die US die beste universiteit vir my keuse van vakgebied en aansienlike ambisie sou wees. Nou, amper nege jaar later, is ek geneig om met haar saam te stem."

Sy navorsingsonderwerp fokus daarop om die menings van maatskaplike werkers oor hulle waargenome rolle in maatskaplike protesaksies. “Ek was as navorser uiters nuuskierig oor die ingewikkelde en verwikkelde werking van hoe mense besluit om bymekaar aan te sluit en kollektief besluit om onderskeie pogings om maatskaplike verandering te bewerkstellig, na te strewe," verduidelik Chibaya.

Maar om aan 'n doktorsgraad te werk, is inherent uitdagend vir 'n mens se geestelike, sosiale en emosionele dimensies, sê Chibaya. “Sonder die behoorlike leiding en mentorskap, is die ingewikkeldheid van die taak genoeg om jou na depressie te dryf. Die lang ure wat dit vereis, kan jou maklik sonder enige vriende laat. Dít alles saam met 'n gebrek aan genoegsame finansiële bronne kan dinge onmoontlik laat lyk."

Hy was egter gelukkig genoeg om 'n “briljante studieleier en uitnemende mentor" in prof Lambert Engelbrecht te vind. “Hy het my die afgelope vier jaar in elke stadium van my navorsingstudie gelei en die rigting aangegee." Danksy hom en die Departement Maatskaplike Werk, het ek navorsingsbeurse ontvang om my doktorale studie finansier. 'n Spesiale woord van dank gaan ook aan Dianne Orton en Gordon Howard wat my finansieel ondersteun het."

Volgens Orton, wat ook 'n maatskaplike werker is, het hulle Chibaya op twee verskillende geleenthede ontmoet en het hy hulle beïndruk met sy opregtheid, intelligensie, deursettingsvermoë en toekomsambisies. Dit sal 'n vreugde wees om sy loopbaan te volg en soos ek dit verstaan, is hy goed op dreef om vir homself 'n naam in die maatskaplike beroep te maak."

Chibaya is ook vol lof vir sy ouers en sibbe wie se ondersteuning nog altyd vir hom onmisbaar in sy akademiese loopbaan was. “Hulle het my deur my laagste oomblikke gedra en my nederig gehou in die klein oorwinnings."

Chibaya is oortuig daarvan dat dissipline en 'n afgemete, goedgebalanseerde benadering tot sy studie die sleutel tot sy sukses was. “Ek het my lang- én korttermyndoelwitte versigtig versprei oor die beplande tydlyn om my studie te voltooi." Ondanks die eise van sy navorsing, het Chibaya steeds tyd gevind om aan aktiwiteite soos Toastmasters deel te neem en gereeld te oefen.

Hy het die afgelope drie maande 'n postdoktorale Erasmus+-program in Trento, Italië voltooi. Hierdie program het behels dat hy saam met Engelbrecht en prof Alessandr Sicora van die Trento-Universiteit navorsingsartikels skryf. Hy was ook die fasiliteerder van seminare en werksessies oor maatskaplike werk en maatskaplike aksie by die Turin- en Trento-Universiteit en het werksessies oor verskeie onderwerpe in maatskaplike werk en praktyknavorsing bygewoon.

Ná amper 'n dekade by Maties voel hy baie tuis op Stellenbosch. “Ek het vriende gemaak wat sedertdien soos familie geword het. Ons het saam die wynlande verken – iets wat ek ten sterkste aanbeveel. Ek was op talle pragtige staptogte in die natuur met onvergeetlike uitsigte."

Maar hy moet binnekort Stellenbosch se wingerde vaarwel toeroep, aangesien hy aanstaande jaar 'n postdoktorale program by die Universiteit van Montreal gaan volg. “Daarna wil ek my navorsing oor maatskaplike aksie vir menseregte en maatskaplike geregtigheid in maatskaplike werk voortsit," sê Chibaya. “Miskien word ek nog eendag 'n professor in maatskaplike werk. Ek is baie lief vir Stellenbosch, so dalk keer ek terug om by die US te kom doseer."

Meer oor die donateurs

Howard en Orton woon in Iowa in die Verenigde State. Orton het dr Sulina Green, die voormalige direkteur van die program in Maatskaplike Werk aan die US, in 2000 ontmoet terwyl sy op 'n fakulteitsuitruilprogram tussen die Universiteit van Missouri en die Universiteit van die Wes-Kaap was. “Ek het deur daardie verbintenis besluit om my doktorsgraad op Stellenbosch te kom doen met Green as my mentor en studieleier. Ek het in 2007 gegradueer. Prof Lambert Engelbrecht was lid van my dissertasiekomitee."

Die paartjie het Suid-Afrika en veral Stellenbosch al menigmaal besoek en het vriendskappe met baie van die fakulteitslede gesluit. Ons het gesien daar is 'n behoefte aan studenteondersteuning, wat ons laat besluit om op die gebied van studentestudiebeurse by te dra. Engelbrecht het Chibaya as 'n waardige ontvanger aanbeveel. Nadat ons sy inligting oorweeg het, het ons besluit om hom finansieel in sy studie te steun.

“Studenteondersteuning in die vorm van akademiese studiebeurse is ons passie. Ons hoop om ons steun aan die departement en sy studente in die toekoms voort te sit. Stellenbosch is werklik 'n instelling van wêreldgehalte en ek is baie dankbaar om 'n alumna en donateur te kan wees," voeg Orton by.