Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US by Wêreldwetenskapforum verteenwoordig
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 05/12/2022

Ellen R. Tise, die Senior Direkteur van Biblioteek- en Inligtingsdienste aan die Universiteit Stellenbosch, gaan deelneem aan die Wêreldwetenskapsforum (WSF) wat van 6-9 Desember deur die Departement van Wetenskap en Innovasie in Kaapstad aangebied word. Dit is die eerste keer dat hierdie geleentheid in Afrika plaasvind. 

Tise is deur dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie en mede-voorsitter van die WSF se 2022-bestuurskomitee, na die geleentheid uitgenooi. 

Die WSF vind elke twee jaar plaas en lok wetenskaplikes van oor die wêreld heen. Die forum, wat tot stand gebring is deur die Hongaarse Wetenskapakademie in samewerking met Unesco, die Verenigde Nasies se organisasie vir onderwys, wetenskap en kultuur, besin oor die maatskaplike en ekonomiese relevansie, invloed en verantwoordelikhede van wetenskap.

​Suid-Afrika hoop om drie sleuteldoelwitte as gasheer van die WSF te bereik: om globale debat te bevorder wat aksie inspireer; om ondersteuning vir Afrika-leierskap in globale wetenskapbeleidsgesprekke te bied; en om Suid-Afrika as ʼn strategiese vennoot vir globale wetenskapsamewerking in reaksie op samelewingsuitdagings te bevorder. 

Die geleentheid sal wetenskaplikes, staatsamptenare, nywerheidsleiers, mediaverteenwoordigers, studente van oor die wêreld heen en verteenwoordigers van die breër burgerlike samelewing byeenbring. Meer as 1 000 mense sal dit na verwagting bywoon.           

Met die tema “Wetenskap vir Maatskaplike Geregtigheid" sal deelnemers veral oorweeg hoe die produksie en toepassing van nuwe kennis ongelykheid, ongeregtigheid, omgewingsvernietiging en marginalisering moet en behoort uit te daag. Debatte sal nie net die rol van wetenskap in die bevordering van maatskaplike geregtigheid oorweeg nie, maar ook hoe die waardes van maatskaplike geregtigheid, soos groter deursigtigheid en inklusiwiteit, die aard van die wetenskaplike onderneming self moet transformeer sodat dit beter aan die behoeftes van die samelewing voldoen. 

Tise, wat op 7 Desember sal deelneem aan die tematiese sessie “The Paths to Fully Open Access Science Across the Global South", beskou dit as ʼn groot eer vir haarself, die US en die biblioteekinligtingsberoep. 

“Biblioteke se rol is om by te dra tot die reg op inligting en onderwys, om gemarginaliseerde gemeenskappe te dien en veilige ruimtes vir die kwesbares te bied. Ons dienste is vir almal beskikbaar, ongeag geloof, vermoë of onvermoë, ras, maatskaplike status en klas. Ons beskou onsself as aktiewe deelnemers in die arena van maatskaplike geregtigheid. Ons Oop Toegang-inisiatiewe het groter prominensie aan die rol van biblioteke verleen," het Tise gesê.

​Sy het bygevoeg dat hierdie spesifieke paneel die bestaande kundigheid in Suid-Afrika, die US en die vasteland ten toon sal stel. “In ʼn sekere sin beteken dit ook mens word vir jou kundigheid erken." 

Die paneel sal die hindernisse en uitdagings van die internasionale gemeenskap, navorsers en biblioteke in die oorgang na ʼn oop wetenskapomgewing bespreek. Pogings sal ook aangewend word om weë te karteer om hierdie oorgang soomloos te maak. 

Deur navorsing van akademiese en navorsingsinstellings gratis beskikbaar te stel het oop wetenskap groot potensiaal om onder meer samewerking en vennootskappe te fasiliteer om samelewingsprobleme aan te pak. Tans is die meeste van die gepubliseerde navorsing gekommersialiseer, wat lei tot ongelyke toegang tot inligting tussen ryk en arm mense, veral tussen die Globale Noorde en Suide.

“My bydrae (in die gesprek) sal wees om bewustheid te verhoog oor die unieke uitdagings wat navorsers én bibliotekarisse in die gesig staar om die oorgang na oop wetenskap te bewerkstellig. 

“Ons voorneme word gerig deur die oortuiging dat publikasies met oop toegang die beskerming van gelyke toegang tot burgerlike vryhede, regte en geleenthede sal bevorder. Ons hoop om ʼn rol te speel in die dekonstruksie van daardie strukture wat die ongelykheid, uitsluiting en marginalisering van die Globale Suide laat voortduur." 

Tise is ʼn voormalige president van die International Federation of Library Associations and Institutions (IFLA) (2009-2011) en van die Biblioteek- en Inligtingsvereniging van Suid-Afrika (LIASA) (1998-2002). Sy is tans voorsitter van die IFLA se Advisory Committee on Freedom of Access to Information and Freedom of Expression, asook voorsitter van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biblioteek- en Inligtingkonsortium se direksie. Sy het ook in ander belangrike biblioteek- en inligtingsliggame gedien, waaronder die Bill & Melinda Gates-stigting se Access to Learning Award Advisory Committee in 2007. Tise het vir ʼn tydperk van vier jaar (2011-2015) in Unesco se International Advisory Committee of the Memory of the World en van 2012-2015 as raadsvoorsitter van die Nasionale Biblioteek van Suid-Afrika gedien.

​