Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerking in Afrika
Outeur: SU International
Gepubliseer: 05/12/2022

Die Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) was gedurende die laaste gedeelte van die jaar by verskeie werksaamhede betrokke, waaronder die ondersteuning van die Skool vir Klimaatstudies deur as gasheer vir die Afrika- Streeksforum (lees verder) op te tree. Hierdie besinning sal sommige van die werksaamhede waarby die SSA in die streek (SAOG – Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap) en verder betrokke was, uitlig:

Die SAOG se Multi-belanghebberdialoog (Maseru, Lesotho – 5-7 September 2022)

Die SAOG se Multi-belanghebberdialoog is ʼn tweejaarlikse geleentheid wat deur die SAOG-sekretariaat gereël en gewoonlik as geleenthede met die fokus op die watersektor aangebied word. Dit bied ʼn forum aan praktisyns en ander sektore met invloed om te praat oor tersaaklike kwessies wat aangepak moet word om streeksintegrasie te verbeter en armoede in die streek te verlig. Die onderliggende mikpunt is om seker te maak dat die streek die potensiaal van volhoubare waterhulpbronontwikkeling ontsluit om by te dra tot streeksintegrasie, die uitwis van armoede en sosio-ekonomiese ontwikkeling. Vanjaar se tema was “Die onderskraging van produktiewe streekskapasiteit vir water-, energie-, voedselsekerheids- en ekostelselveerkrag om inklusiewe en volhoubare industriële transformasie te bereik". Die oogmerk van die dialoog is holisties geposisioneer rondom strategieë en benaderings, streeksinstrumente en die mobilisering van inklusiewe vermoëns om water, energie, voedsel en die omgewing te ondersteun. Deelnemers het senior beamptes van die water-, energie- en voedselsektor uit al sestien lidlande van die SAOG se streeksinstellings (wat vervolgens genoem word), jeugverteenwoordigers, vrouegroepe, burgerlike-gemeenskapsorganisasies, die privaat sektor, internasionale samewerkingsvennote (die Waterstrategieverwysingsgroep [WSVG] en ander finansieringsvennote), staatsdepartemente verantwoordelik vir ekonomiese beplanning en uitgesoekte nuts- en streeksagentskappe uit die water-, energie- en voedselsektor ingesluit. Dr Nico Elema het die SSA deur die Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (AUDA-NEPAD SANWATCE) verteenwoordig. AUDA-NEPAD SANWATCE is ʼn netwerk van hoëronderwys- en navorsingsinstellings wat toonaangewende wetenskaplike navorsing en vermoëbouwerk in die water- en verwante sektore onderneem, om samelewings ten goede te probeer verander (lees verder).

Lidlande se streeksinstellings: die SAOG-sekretariaat (Industrialiseringstrategie [IS]; Beleid, Beplanning en Mobilisering van Hulpbronne [BBMH]; en Voedsel, Landbou en Natuurlike Hulpbronne [VLNH]). Streeks- en Pan-Afrikaanse instellings: SAOG Sentrum vir Hernubare Energie en Energiedoeltreffendheid (SACREEE); Sentrum vir die Koördinering van Landbounavorsing en

-Ontwikkeling vir Suider-Afrika (CCARDESA); Streeks- Energiereguleerdersvereniging van Suider-Afrika (RERA); Stroomgebiedorganisasies (RBOs); Afrika-ontwikkelingsbank (AfDB); die Voedsel-, Landbou- en Natuurlike Hulpbronne-beleidsontledingsnetwerk (FANRPAN); Internasionale Waterbestuursinstituut (IWMI); Klimaatsveerkrag- Infrastruktuurontwikkelingsfasiliteit (CRIDF); en die Afrika-Unie Ontwikkelingsagentskap – Nuwe Vennootskap vir Afrika se Ontwikkeling (AUDA-NEPAD).

Die Ministersvergadering oor die Geïntegreerde Inisiatief vir Vroeëwaarskuwing- en Vroeë-optredestelsel in Suider-Afrika (Maputo, Mosambiek – 5-9 September 2022)

Op uitnodiging van die Afrika-Unie-Kommissie (AUC), in samewerking met die SAOG-sekretariaat, die Wêreld Meteorologiese Organisasie (WMO) en ander hoof- tegniese vennote, het die SSA, met mnr Carinus de Kock as verteenwoordiger, aan die Ministersvergadering oor die Geïntegreerde Inisiatief vir Vroeëwaarskuwing- en Vroeë-optredestelsels in Suider-Afrika deelgeneem. Dit was die eerste in ʼn reeks vroeëwaarskuwingskonferensies op ministeriële vlak regoor die vasteland van Afrika en wat in die SAOG-streek begin het. Die konferensie was daarop gemik om die ontwikkelende politieke geleenthede aan te gryp wat volg op die aanvaarding van die Afrika Institusionele Raamwerk vir Vroeë Waarskuwing en Vroeë Optrede teen Veelvuldige Gevare, die inwyding van die Afrika Vroeëwaarskuwing- en Vroeë-optredestelsel teen Veelvuldige Gevare (AMHEWAS) se Situasiekamer, en die onlangse aankondiging op 23 Maart 2022 deur die Sekretaris-Generaal van die Verenigde Nasies, Sy Eksellensie António Guterres, wat vra vir ʼn nuwe inisiatief wat elke burger van die planeet sal voorsien van vroeëwaarskuwingstelsels om kwesbaarhede te verminder en voorbereidheid en reaksie op natuurlike gevaarlike oor die volgende vyf jaar sal verbeter.

Vroeëwaarskuwingstelsels stel mense in staat om te weet dat gevaarlike weer of klimaatgebeure op pad is en onderlê regerings, gemeenskappe en individue se moontlike optrede om die impak daarvan tot die minimum te beperk. Hierdie streek se stelsels is egter ontoereikend. Dit is dus nodig dat die ondersteunende raamwerke van die WMO en ander vennote aangewend word om doeltreffende voorspellings- en vooruitskouingstelsels te bemagtig, sodat inligting en waarskuwings verskaf kan word aan rampbestuursinstellings, besluitnemers en burgers oor die algemeen om toepaslike stappe te doen om lewens, eiendom en ontwikkelingswinste veilig te hou. Die SSA tree as gasheer op vir die sekretariaat van “Partners Enhancing Resilience for People Exposed to Risks'' (Periperi U). Periperi U is ʼn platform vir universiteitsvennootskappe om ramprisiko in Afrika te verminder, met spesifieke fokus op die bevordering van universiteitsoptrede ten opsigte van risiko- en kwesbaarheidsvermindering in Afrika (lees verder).

Die tweede aanbieding van die Future17- Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte-uitdaging (Stellenbosch, 27 September 2022)

Die Universiteit Stellenbosch (US) se VOD/2063-impaknaaf het op 27 September ʼn kontak- voorligtingsessie gehou vir studente wat gekeur is om aan die tweede aanbieding van die Future17- Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte-uitdaging (Future17) deel te neem. Die studentgerigte aanbod word gelei deur ʼn konsortium van universiteite uit vier vastelande: die Universiteit van Exeter, die Chinese Universiteit van Hong Kong, die Universiteit van São Paulo en die Universiteit Stellenbosch (lees verder). Dit is die eerste Volhoubaarheidsgeletterdheidsprogram aan die US wat op die volhoubare ontwikkelingsdoelwitte (VOD'e) en Agenda 2030 as geheel fokus. Daar is groter belangstelling in Future17 onder personeel en studente, met meer as 50 studente en 12 mentors wat aan hierdie tweede aanbieding deelneem. Die kursus, wat in Augustus begin het, sal tot in Desember duur, met die inleidingsfase van die kursus wat vandeesweek afgehandel sal word. Dit sal gevolg word deur groepswerk aan ʼn projekvennoot-geïniseerde volhoubaarheidsuitdaging van 10 Oktober tot 2 November, waar studente met hulle eweknieë aan die deelnemende universiteite in interaksie sal tree. Suksesvolle geassesseerde projekte sal deur QS World Rankings en die US gesertifiseer word. 


18de Sessie van die Afrika-Studiegroep oor Ramprisikovermindering (Algiers, Algerië – 4-6 Oktober 2022)

Die Afrika-Unie-Kommissie (AUC) en die Verenigde Nasies se Kantoor vir Ramprisikovermindering (UNDRR) het die 18de sessie van die Afrika-Studiegroep oor Ramprisikovermindering byeengeroep. Die sessie, met die tema “Van verbintenis tot optrede – Versterking van antisiperende optrede in Afrika deur doeltreffende implementering van die Afrika Vroeëwaarskuwings- en Vroeë-optredeprogram teen Veelvuldige Gevare". Die sessie het die vordering hersien en ooreengekom oor die pad vorentoe om die implementering van die aanbevelings van die 17de sessie wat in Maart vanjaar gehou is en ook die prioriteite en verbintenisse in die Nairobi-verklaring en Afrika se gemeenskaplike standpunt ten opsigte van die Globale Platform vir Ramprisikovermindering, soos dit met die tema verband hou, te versnel. Die sessie het ook die geleentheid gebied (deur veldbesoeke en mark- en blitspraatjies ['Lightning talks']) om ondervindings, lesse en beste praktyke in ramprisikovermindering uit te ruil, waaronder antisiperende optrede en vroeëwaarskuwing- en vroeë-optredestelsels vir veelvuldige gevare. Die direkteur van Periperi U, dr Nico Elema, het in persoon aan hierdie verrigtinge deelgeneem.

23ste WaterNet/WARFSA/GWP-SA-simposium (Sun City, 19-21 Oktober 2022)

Die 23ste simposium van WaterNet/die Waternavorsingsfonds vir Suider-Afrika (WARFSA)/Globale Watervennootskap (GWP-SA) is gesamentlik belê deur die Internasionale Assosiasie vir Hidrologiese Wetenskappe (IAHS), AUDA/NEPAD se Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (AUDA/NEPAD SANWATCE), en die plaaslike reëlingskomitee onder leiding van Noordwes-Universiteit. Hierdie simposiums word die afgelope 22 jaar al jaarliks in Oos-Afrika en Suider-Afrika aangebied, om interaksie onder beleidsvormers, akademici, praktisyns uit die watersektor en verwante sektore, en samewerkende vennote te bevorder. Vanjaar se tema was “Geïntegreerde Waterhulpbronbestuur vir Volhoubare Ontwikkeling in Oos- en Suider-Afrika". Die sekretariaat van AUDA-NEPAD se Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (AUDA-NEPAD SANWATCE) vir wie die Universiteit Stellenbosch as gasheer optree, is deur dr Nico Elema en mnr Carinus de Kock van die SSA en mnr Renoir Hindley van die US Waterinstituut verteenwoordig. Hierdie drie het by die verskillende sessies van die simposium as voorsitters opgetree, aanbiedings gelewer en verslag gedoen oor die werk wat in AUDA-NEPAD SANWATCE gedoen word.

Afvaardiging van die Voltarivier-owerheid (Stellenbosch, 17-21 Oktober 2022)

ʼn Afvaardiging bestaande uit ses persone van die Voltarivier-owerheid (VRA) in Ghana het die Universiteit Stellenbosch van 17 tot 21 Oktober besoek. Die VRA is ʼn staatsinstelling wat in 1961 gevestig is om elektrisiteit kragtens die Ghanese Wet op die Ontwikkeling van die Voltarivier op te wek, oor te dra en te versprei. Ná afloop van verskeie wysigings (wat met die Ghanese regering se hervormings van die kragsektor in 2005 verband hou), het die sakedinamika van die VRA verander van sake binne ʼn monopolistiese omgewing bedryf, na sake binne ʼn mededingende omgewing bedryf, as gevolg van die toelating van onafhanklike kragprodusente op die Ghanese energiemark. In die lig van die huidige saketendense in die energiesektor, beskou die VRA innovasie en kreatiwiteit as sterk pilare vir die aandryf van sy besigheidsvolhoubaarheid ná 61 jaar se suksesvolle werksaamhede. In hierdie verband besit die VRA verskeie filiaalmaatskappye, waaronder ʼn onderwys-, gesondheids-, gasvryheids-, landbou-, meervervoer- en elektrisiteitsverspreidingsmaatskappy. Die doel van die besoek was (i) om die US se innovasieprogramme en -benaderings ter ondersteuning van bedryfsinnovasie te bespreek en daarby betrokke te raak; (ii) om lesse te deel en modelle te bespreek wat geskik sal wees vir die VRA se innovasieprogram, welke program bestuurs- en bedryfswerksprosesse inkorporeer; en (iii) om suksesvolle innovasieprojekte/-maatskappye te besoek. Me Norma Derby (Programbestuurder: Afrikavennootskapsontwikkeling) en me Simohn Engelbrecht (Projekkoördineerder: AUDA-NEPAD Sentrum van Uitnemendheid in Wetenskap, Tegnologie en Innovasie) van die SSA het die afgevaardiging ontvang, as gasheer opgetree en die verskillende aktiwiteite wat met die besoek gepaard gegaan het, gedek.

Werksessie vir ARUA se Data-insameling en -Norme-projek (Stellenbosch, 1-4 November)

Die Alliansie van Afrika-navorsingsuniversiteite (ARUA) is in Maart 2015 in Dakar ingehuldig en bring sestien van Afrika se voorste universiteite uit tien Afrika-nasies byeen. Dit is ʼn netwerk van universiteite uit verskillende lande en met verskillende geskiedkundige agtergronde, maar met ʼn gedeelde visie. Die netwerk is oor die algemeen gerig op die uitbreiding en beduidende verryking van die gehalte van die navorsing wat in Afrika deur Afrika-navorsers uitgevoer word.

ARUA se visie is om Afrika-navorsers en -instellings globaal mededingend te maak, terwyl dit bydra tot die skepping van kennis vir sosio-ekonomiese transformasie in Afrika. Dit vereis van die ARUA-netwerk om data oor die ontwikkelings binne die onderskeie vennootuniversiteite in te samel en daarmee tred te hou. Die Universiteit Stellenbosch het van 24 tot 28 Mei 2022 aan ʼn werksessie oor data-insameling in Ghana deelgeneem, onlangs (Augustus 2022) as gasheer vir ARUA-medewerkers uit Uganda en Mauritius opgetree, en verskeie aanlyn vergaderings gehou (14 Julie 2022, 25 Julie tot 2 Augustus 2022) om sy praktyke en stelsels vir data-insameling te deel.

Dr Elema het ook die Adjunkvisekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies, professor Sibusiso Moyo, op ARUA se vergadering van adjunkvisekanseliers (AVK's) in Accra, Ghana, verteenwoordig. Die vergadering was ʼn samekoms van adjunkvisekanseliers (en/of hulle verteenwoordigers) van ARUA-lidinstellings van 19 tot 23 September. Hoewel ander sake ook gedek is, het die vergadering gevolg op die Sekretaris-Generaal van ARUA, professor Aryeetey, se besoek aan die Universiteit Stellenbosch en ander lidinstellings in Augustus (lees verder). Dr Elema se besoek het ook ʼn vergadering met die Universiteit van Ghana (ook ʼn ARUA-lidinstelling) en die Suid-Afrikaanse Hoë Kommissariaat in Accra moontlik gemaak, waar voortgebou kon word op bestaande vennootskappe en aan mobiliteit en uitruilings gewerk kon word.

Uit hierdie medewerkings was dit duidelik dat gemeenskaplike praktyke en ʼn gedeelde stelsel vir die insameling, bestuur en ontleding van data oor ARUA-universiteite en hulle navorsing die medewerking in en bestuur van die netwerk sal versterk. Die US het verskeie bydraes tot die ARUA-projek voorgestel, maar het besluit op bydraes ter versterking van die databestuursvermoë en het tyd toegewys aan werksaamhede wat op die ARUA-projek gemik is. Hierdie pogings het uitgeloop op die aanbied van die werksessie oor die Data-insameling en -Norme-projek, wat buiten dat dit gedien het as ʼn geleentheid vir verslagdoening oor die US se vordering met die ingediende voorstel en vir die voortsetting van konsultasies en besprekings, ook riglyne gebied het vir die beskikbaarheid van data en die data wat vir die nuwe stelsel benodig word, en die ontwikkeling van die databestuurstelsel en die saamstel van die data-omskrywingsdokument aangevoor het.


Bydraes tot die Volhoubare-ontwikkelingsagendas: Die VOD/2063-impaknaaf

Die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte-impaknaaf (VOD/2063-impaknaaf) is laat in 2021 gevestig, word gehuisves in die Sentrum vir Samewerking in Afrika (SSA) by die Universiteit Stellenbosch Internasionaal (USI) en is daarop gemik om seker te maak dat die volhoubaarheidsdoelwitte van die VN se Agenda 2030 en die AU se Agenda 2063 deur internasionale medewerking bereik word. Aangesien die twee grootliks ooreenstem, sal die VOD/2063-impaknaaf die twee agendas gelyktydig aanpak, om volhoubare ontwikkeling in Suid-Afrika en op die vasteland verder te bevorder.

Periperi U, as ʼn groepsonderneming, sal verder tot volhoubare ontwikkeling in Afrika bydra deur sy werk in risikovermindering en vroeëwaarskuwingstelsels wat die VN se VOD 13 en 15 (Klimaatoptrede/Lewe op Land) en die AU se doelwit 6 en 7 ('Blou'- of oseaan-ekonomieë vir versnelde ekonomiese groei/Omgewingsvolhoubare klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe) ondersteun.

Deur die werk van AUDA/NEPAD se Suider-Afrikaanse Netwerk van Watersentrums van Uitnemendheid (AU/NEPAD SANWATCE), sal die US en ons vennote tot VOD 6, 13 en 14 (Skoon Water en Sanitasie/Klimaatoptrede/Lewe onder Water) en die AU se doelwit 5, 6 en 7 (Moderne landbou vir verhoogde produktiwiteit en produksie/'Blou'- of oseaan-ekonomieë vir versnelde ekonomiese groei/Omgewingsvolhoubare klimaatsveerkragtige ekonomieë en gemeenskappe) bydra.

In die geheel bied VOD 17 (Vennootskappe vir Vordering) en doelwit 9, 19 en 20 (Hoof- finansiële en monetêre instellings op die vasteland gevestig en funksioneel/Afrika as ʼn belangrike vennoot in wêreldsake en vreedsame naasbestaan/Afrika neem volle verantwoordelikheid vir die finansiering van sy ontwikkeling) ʼn geleentheid vir die US om ons medewerking op die vasteland (en verder) te versterk, ons studente op te voed, sinergieë te vestig en op impakryke wyse tot volhoubare ontwikkeling by te dra.