Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ons moet nie anderpad kyk wanneer geslagsgebaseerde geweld gepleeg word nie
Outeur: Juliana Claassens
Gepubliseer: 28/11/2022

Die jaarlikse veldtog van 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders vind vanaf 25 November tot 10 Desemeber plaas. In ʼn meningsartikel vir News24 skryf prof Juliana Claassens (Ou en Nuwe Testament) dat ons nie langer kan bekostig om anderpad te kyk wanneer geslagsgebaseerde geweld gepleeg word nie.

  • Lees die gedeeltelik vertaalde weergawe van die artikel hier onder.

Juliana Claassens*

Pumla Dineo Gqola skryf in haar boek Female Fear Factory dat vroue en LGBTIQ+-individue in gemeenskappe waar geslagsgebaseerde geweld (GBG) die norm geword het, maar al te goed weet dat wanneer hulle in die openbaar aangeval of geteister word, mense anderpad sal kyk. Nog meer onstellend is dat wanneer vroue en ander kwesbare individue geteister of leed aangedoen word, hulle voorgee dat niks gebeur nie. Gqola merk op dat oor 'n leeftyd “ons geleer word dat die enigste manier om veilig te wees, is om anderpad te kyk en dat dit gevaarlik is om onsself te verdedig".

Hierdie idee van anderpad kyk het my diep geraak toe ons weer eens gevra is om vir 16 dae aktief oor die geweld wat talle vroue, kinders en LGTBIQ+-individue beleef, na te dink.

Elke jaar tydens die 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders (25 November tot 10 Desemeber) – net kort voordat die Kersfeesvieringe en jaareindfunksies begin – dink ons aan die groeiende lys aaklige dade soos intieme geweld teen lewensmaats, verkragting, vrouemoorde en korrektiewe verkragting waarvan veral lesbiese vroue die teiken is. En elke jaar kyk ons anderpad, of gee ons voor dat dit nie met vroue in ons gemeenskap gebeur nie, want ons wil glo dat dit die beste manier is om ons veilig te hou.

Dit is waar kuns so 'n kragtige medium is om ons te dwing om nie anderpad te kyk nie. Kuns dwing ons om te sien wat die kunstenaar sien. Om werklik te kyk. Om te sê wat ons sien. En wat GBG betref, om ons trane te laat loop.

Grabrielle Goliath het 'n paar jaar gelede 'n kragtige video-installasie, Elegy, in die Goodman-galery geskep wat 'n eerlike blik bied op die geweld wat teen vroue en queer vroue gepleeg word. Getrou aan sy naam, dokumenteer hierdie installasie verskeie optredes deur vroulike sangers wat elkeen 'n blywende treurlied vir 'n spesifieke GBG-slagoffer is – vroue- en queer-lywe wat tot die dood toe geskend is.

Hierdie individuele treurliedere word by die Goodman-galery in 'n kakofoniese koor van verskillende stemme saamgesmelt wat nie eenstemmig is nie, maar wat gesamentlik 'n blywende uitwerking van die talle uiteenlopende ervarings van GBG skep – ervarings wat almal gemeen het dat dit na vrees, sielsangs en lewensverlies lei.  

Ten slotte …

Mag ons gedurende vanjaar se 16 Dae van Aktivisme vir Geen Geweld teen Vroue en Kinders die woorde van hierdie pynlike liedere leer. Mag ons by die koor aansluit wat ween oor nog 'n verlies weens die onverklaarbare manifestasie van GBG in ons gemeenskappe. En mag ons werk vir 'n wêreld waar dit nie nodig sal wees om enigsins meer treurliedere te sing nie.

  • Klik hier om die res van die artikel soos geplaas te lees. Foto deur Dmitry Schemelev by Unsplash.

*Prof Juliana Claassens is professor in Ou Testament en Hoof van die Gendereenheid in die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch.