Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ouers vermoor soms hul kinders om wraak te neem
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 28/11/2022

Dit is altyd tragies wanneer ouers hul eie kinders vermoor met die doel om hul huweliks- of lewensmaat seer te maak. Hoewel daar baie redes vir sulke onbegryplike dade kan wees, blyk wraakneming ʼn motief te wees wanneer een ouer ʼn kind doodmaak om die lewens- of huweliksmaat seer te maak. Hierdie kindermoorde staan as wraakmoorde bekend.

“Huwelikswraakmoordenaars vermoor hul eie kind om die lewens-, huweliks- of eksmaat seer te maak of te vergeld. By hierdie tipe moord wil die huweliksmaat spesifiek hê dat die ander maat moet ly en ellendig voel," sê dr Melanie Moen van die Universiteit Stellenbosch en prof Christiaan Bezuidenhout van die Universiteit van Pretoria.

In ʼn studie wat onlangs in die Journal of Investigative Psychology and Offender Profiling verskyn het, werp Moen en Bezuidenhout lig op die motiverings vir wraakmoorde in Suid-Afrika. Vir hul studie, wat die eerste van sy soort in die land is, het hulle mediaberigte en hofdokumente oor wraakmoordsake van 2003 tot 2021 ontleed. Gevalle van hierdie aard was moeilik om te identifiseer, maar hulle het daarin geslaag om 20 van hierdie tipe kindermoorde sedert 2003 te klassifiseer.

In 12 gevalle (60%) was die oortreders (manlik en vroulik) ten tye van die moord(e) getroud. Hulle het hul kinders vermoor deur hulle te verwurg, op te hang, te vergiftig, te versmoor, te steek of dood te slaan.

Volgens die navorsers word die motiverings vir wraakmoorde dikwels aan ingewikkelde persoonlike en interpersoonlike verhoudingsprobleme gekoppel. Hulle wys daarop dat die oortreders in verskeie gevalle, net voordat hulle hul kinders vermoor het, genoem het dat hulle huweliks- en verhoudingsonenigheid soos ʼn argument, verwerping, jaloesie en woede ervaar het. Ander redes vir wraakmoorde sluit in: huweliksonenigheid, verbrokkeling van die verhouding, ʼn nuwe liefdesbelang vir die ontvangende lewensmaat, of ʼn egskeiding wat die maat wat moor van hulle beheer, sosiale status en alles wat hulle in die verhouding ingesit het, kan ontneem.

“Ons ontleding het getoon dat ʼn ouer ʼn kind kan doodmaak weens ʼn verlies aan sosiale identiteit as gevolg van verwerping, uiterste woede en kwaadheid, wat ander blameer vir hul ellende, sadisme, ʼn begeerte om pyn te veroorsaak en ʼn behoefte om skade aan te rig.

“Die gevoel van verlies aan sosiale identiteit en die woede en teleurstelling wat die maat wat moor ervaar, word ʼn oorweldigende, verblindende woede wat alles in hul pad wegvee. Die maat wat moor, raak woedend oor die pyn wat hulle ervaar en wil hul maat of eksmaat seermaak omdat hulle self emosioneel en sielkundig seergemaak is.

“Die verblindende woede word veroorsaak deur uiterste emosionele nood. Die opeenhoping van die oorweldigende negatiewe emosionele ervarings lei tot ʼn begeerte om ten alle koste pyn te veroorsaak, soms op ʼn sadistiese manier, om ʼn wederkerige geregtigheidsbalans te verseker, met ander woorde die ouer wat moor, glo die dood van die kind sal veroorsaak dat die huweliks- of lewensmaat op dieselfde manier seerkry en dat hierdie tipe 'geregtigheid' die een of ander vorm van balans sal bewerkstellig."

Die navorsers voeg by dat die oortredende maat wil hê dat die ontvangende maat, wat hulle glo hierdie emosionele en sielkundige wonde toegedien het, dieselfde pyn moet ervaar deur ʼn kind of kinders uit weerwraak te vermoor.

“Die beginsel van lex talionis (ʼn oog vir 'n oog) kom na vore met skrikwekkende gevolge vir die ontvangende maat en die kinders as gevolg van die reaktief-impulsiewe ekspressiewe gewelddadige gedrag van die maat wat moor wat uiteindelik ʼn gevoel van beheer en eiewaarde wil terugneem."

Hulle voer aan dat ʼn vorm van narsisme – ʼn uiterste selfbetrokkenheid tot só ʼn mate dat dit ʼn persoon die behoeftes van ander om hulle laat ignoreer – ook' n rol gespeel het in die gevalle wat hulle ontleed het waar ʼn ouer besluit het om 'n kind dood te maak.

“Die narsistiese woede lei uiteindelik tot die moord van die kind om die ander ouer te straf, seer te maak en om beheer terug te neem. Die 'narsistiese' wond is deur ʼn daad van wraakmoord teengewerk. Ongelukkig is die ontvangende ouer en kind se behoeftes geïgnoreer."

  • Bron: Moen, M & Bezuidenhout, C 2022. Killing your children to hurt your partner: A South African perspective on the motivations for revenge filicide. Journal of Investigative Psychology and Offender Profiling 2022:1–15. DOI: org/10.1002/jip.1603