Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Fakulteit vier toppresteerders
Outeur: Aamirah Sonday and Daniel Bugan
Gepubliseer: 28/11/2022

Die CGW Schumann-medaljewenner van 2021, Lauren Tsafandakis, het onlangs haar prestasie met 'n middagete saam met fakulteitsbestuur en gesinslede by die Postcard Café buite Stellenbosch gevier.

Die CGW Schumann-medalje word elke jaar aan die beste nagraadstudent van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurwetenskappe toegeken. In 2021 het Tsafandakis dié eer ontvang. Sy  het haar voorgraadse studies (BRek) met ʼn geweegde gemiddelde van 92.7% voltooi en haar BRek-honneursgraad met 'n gemiddelde van 87.1% in 2021. Sy is tans besig met haar klerkskap by PwC. 

Na afloop van die middagete het Tsafandakis gesê: “Ek het ontsaglik geëerd gevoel om hierdie toekenning te ontvang. Die middagete met die fakulteitsbestuur was heerlik; ek is baie dankbaar dat ek aan die Universiteit Stellenbosch kon studeer waar my prestaties op hierdie wyse gevier word. Dit was ʼn wonderlike middag en ek is opgewonde oor die toekoms van die Fakulteit en die Skool vir Rekeningkunde.” 

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswese, is verheug wanneer studente uitblink: “Die medalje is die hoogste eer wat die Fakulteit aan 'n student kan betoon. Dat Lauren dit ontvang het, is ‘n bewys van haar natuurlike vaardighede maar ook haar toewyding aan haar akademiese studie. Sy is 'n inspirasie vir ons – ons én haar medestudente is trots om haar ʼn Matie te noem,” het sy gesê.

Tsafandakis stem saam dat om hard te studeer baie belangrik is. “Dit lyk of ek akademies aangelê is, maar ek het ook ongelooflik hard dwarsdeur my studietyd gewerk. Ek dink dis 'n kombinasie van die twee.”

Die viering van Tsafandakis se prestasie en dié van die pryswenners van 2019 en 2020, Willem Wilken en Jamie Stolk, moes weens die COVID-19-pandemie uitgestel word. Ongelukkig kon Wilken en Stolk nie die middagete bywoon nie omdat hulle oorsee is.