Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Samewerking noodsaaklik om gesondheidsuitdagings aan te spreek
Outeur: FMHS Marketing & Communications / FGGW Bemarking & Kommunikasie – Sue Segar
Gepubliseer: 24/11/2022

Nie net dra Afrika – met beperkte hulpbronne – ʼn oneweredige groot las van infeksie- en nie-oordraagbare siektes en beserings nie, maar dit is ook kwesbaarder vir die impak van rampe wat verband hou met klimaatsverandering, soos vloede, droogte en brande, wat grotendeels deur ontwikkelde lande veroorsaak word.

Dit was een van die hoofboodskappe wat beklemtoon is by die Universiteit Stellenbosch-Konsortium van Universiteite vir Globale Gesondheid se Hibriede Konferensie 2022.

Dit is die eerste gesamentlike konferensie van die Universiteit Stellenbosch (US) en die Amerika-gebaseerde Konsortium van Universiteite vir Globale Gesondheid (KUGG) wat in Afrika aangebied is, en die tema was 'Kataliseer Globale Gesondheid-innovasie vir Volhoubare Ontwikkeling'. Dit het gespog met verskeie internasionale navorsers, praktisyns en studente wat ʼn reeks gesondheidsverwante dissiplines verteenwoordig het. Daar was ook verskeie hoofredes, paneelgesprekke en werkswinkels, asook plakkaat-aanbiedings wat verband hou met globale gesondheid.

Die eerste twee dae van die konferensie wat virtueel aangebied, en die laaste drie dae is in persoon in Stellenbosch gehou.

Professor Taryn Young, Uitvoerende Hoof van die Departement Globale Gesondheid aan die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), wat ook betrokke was by die organisering van die kongres, het gesê dat dit verskeie mense van plaaslike- en streeks- akademiese en gesondheidsentiteite gelok het.

Die konferensie het ontstaan danksy ʼn langtermyn vennootskap tussen die US en KUGG. KUGG se missie is om akademiese instansies en vennote te ondersteun om die welstand van mense en die planeet te verbeter deur middel van opvoeding, navorsing, diens, en voorspraak.

Die FGGW is ʼn erkende leier in globale gesondheid-navorsing, is al sedert 2016 ʼn lid van KUGG, en was ʼn mede-aanbieder van die KUGG-konferensie in New York in 2018.

Vanjaar se konferensie het ontstaan uit die gedeelde visie van hierdie twee instansies om inisiatiewe en instansies in Afrika te beklemtoon, en terselfdertyd ʼn internasionale forum te bied vir globale bydrae. Een van die hoofdoelwitte was om vennootskappe en netwerke te versterk wat op sy beurt sal help om globale gesondheidsuitdagings aan te spreek.

ʼn Hooffokus van die konferensie was om navorsing wat verband hou met globale gesondheid van oor Afrika en die wêreld te deel. Dit het bestaan uit drie bane wat met globale gesondheid verband hou: Implementeringswetenskap en kapasiteitsbou; Nie-oordraagbare- en infeksiesiektes; Menseregte en gelykheid; en Omgewing en Klimaatsverandering.

Die hoofspreker, dr Imtiaz Sooliman, stigter van die humanitêre organisasie Gift of the Givers, het gesê dat die pandemie ernstige gapings in die gesondheidsorgstelsel in Afrika blootgelê het. Hy het verduidelik hoe die gesondheidsinfrastruktuur op die kontinent oneweredig versprei is en dikwels van swak gehalte is. Hy het ook genoem dat slegs die helfte van alle primêre sorg-fasiliteite in Afrika suid van die Sahara toegang het tot skoon water en genoegsame sanitasie. Sooliman het ook benadruk dat almal ʼn rol het om te speel om ʼn verskil in die samelewing te maak.

In die hoofrede vir die virtuele konferensie het dr Elisabet Sahtouris, ewolusie-bioloog en futuris van die Chaminade Universiteit in Hawaii ʼn beroep gedoen op die mensdom om na die natuur te begin luister en om besorgde en mededeelsame gemeenskappe te bou vir die gesondheid van mense en die planeet. Sy het die behoefte benadruk vir ʼn skuif “van kompetisie na samewerking" wat van alle mense sal vereis om aktiewe agente vir verandering te wees vir ʼn meer vreedsame wêreld.

In sy rede het dr Keith Martin, uitvoerende direkteur van KUGG, benadruk dat dit belangrik is om gesondheid by alle globale besprekings oor klimaatsverandering in te sluit.

Die Suid-Afrikaanse tak van Vroue in Globale Gesondheid is by die konferensie van stapel gestuur en die nuwe president, professor Flavia Senkubuge, het ʼn paar van die inisiatiewe vir die bevordering van vroue in globale gesondheid uiteengesit . In haar beleidsrede het sy benadruk dat Afrika voorloop met innovasie wat die Volhoubare Ontwikkelings Doelwitte betref, en dat die agenda “ʼn agenda vir almal moet wees, vroue ingesluit."

FGGW Vise-dekaan: Navorsing en Internasionalisering, professor Nico Gey van Pittius, het gesê dat die kongres belangrike onderwerpe in globale gesondheid aanspreek.

“Gedurende die onlangse pandemie is ons duidelik bewus gemaak van die ongelykhede in gesondheidsorg in die wêreld. As mense van Afrika is dit belangrik dat ons navorsingsagendas daarop gemik is om die dringendste uitdagings in Afrika op te los, terwyl ons ook help om die wêreld se probleme aan te spreek," het hy gesê.

“Ons filosofie by die US was nog altyd om kennis te skep wat gesondheid en ontwikkeling sal bevorder, ʼn impak sal hê op die samelewing, nasionale en internasionale beleide en riglyne sal inlig, en uiteindelik ʼn verskil sal maak aan die mense wie ons verteenwoordig en bedien," het Gey van Pittius gesê. “Die departement wat besonder suksesvol is daarmee is die Departement van Globale Gesondheid met prof Taryn Young aan die stuur. Sy is ook die Direkteur by die Sentrum vir Bewysgebaseerde Gesondheidsorg.

Volgens Young was die wegneemboodskap van die kongres dat daar nog baie werk voorlê om die enorme siektelas aan te spreek. “Om ʼn ware verskil te maak moet sektore verbind wees aan samewerking."