Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Tuis by die US, danksy die Eenheid vir Gestremdhede
Outeur: Corporate Communication and Marketing | Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 16/11/2022
​Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes:

Suid-Afrika gedenk jaarliks van 3 November tot 3 Desember Nasionale Bewusmakingsmaand vir die Regte van Gestremdes. Hierdie bewusmakingsmaand skep vir mense met gestremdhede die geleentheid om ander bewus te maak van die hindernisse wat hulle daagliks ondervind en hoe die samelewing kan help om die lewe vir hulle te vergemaklik. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Eenheid vir Gestremdhede vier ook vanjaar 15 jaar van ondersteuning en inklusiwiteit. Om dit te herdenk, het die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking met studente en personeel gesels wat deur die eenheid ondersteun is. Lees meer hieronder: 

Rentia Meyer het tuis gevoel by die Universiteit Stellenbosch (US) nog voordat sy verlede jaar as 'n student geregistreer het. Sy het die Eenheid vir Gestremdhede in haar graad 11-jaar gekontak om uit te vind hoe klasse werk en of haar aangebore doofheid 'n uitdaging sou inhou.

Die Eenheid het vir haar 'n kampustoer gereël, en sy kon selfs 'n paar klasse bywoon. “So, die Eenheid vir  Gestremdhede wou my reg van die begin af gemaklik laat voel," sê Rentia, deesdae 'n BA-tweedejaarstudent.

Flink bystand toe kontakklasse hervat

Hoewel sy nie verlede jaar veel bystand nodig gehad het nie omdat die meeste klasse weens die Covid-19-pandemie aanlyn was, het haar omstandighede verander toe kontakonderrig in die tweede semester vanjaar hervat het.

Die Eenheid vir Gestremdhede het in 'n japtrap 'n aantekenaar vir een van haar klasse gereël omdat sy gesukkel het om na die lesing te luister en terselfdertyd aantekeninge te maak. Die Eenheid het boonop gesorg dat haar ander klasse opgeneem en in Afrikaans vertaal word sodat sy ná die tyd kan aantekeninge maak van enigiets wat sy dalk nie gehoor het nie. “Dít is noodsaaklik, want dit help my die lesinginhoud nagaan," verduidelik Rentia.

Sy sê daar is ook 'n aantal ander maniere waarop die Universiteit 'n ondersteunende omgewing skep vir studente met gestremdhede. “Ál die dosente is altyd uiters bedagsaam. Hulle wil heeltyd weet hoe hulle kan help, en wat hulle kan doen."

In die algemeen beskryf Rentia haar ervaring by die US as “baie positief en baie verwelkomend". “Ek voel nooit asof ek nié vir hulp kan vra nie. Mense maak die hele tyd by my seker of daar enigiets anders is wat hulle vir my kan doen. Die wete dat alle betrokkenes by my studie altyd bereid is om te help is 'n enorme gerusstelling."

Vroeë diagnose belangrik

Sy beplan om met Sielkunde as hoofvak te gradueer en wil uiteindelik 'n opvoedkundige  sielkundige word. “Toe ek klein was, het 'n paar sielkundiges my met my spraak gehelp," verduidelik sy. “Dít het my geïnspireer om 'n opvoedkundige sielkundige te word, want hulle kan 'n groot verskil in kinders se lewens maak."

Hoewel sy doof gebore is, is Rentia se gestremdheid eers op tweejarige ouderdom gediagnoseer. Daarom is sy ernstig daaroor om kinders met ongediagnoseerde gestremdhede te wil help. “Ek het 'n passie vir kinders op skool wat dalk leergestremdhede het. As hulle gestremdhede nie vroeg gediagnoseer word nie, kan dit 'n beduidende sneeubaleffek hê, en kan hulle sukkel, selfs al is daar intervensies wat hulle kan help."

'Konsentreer op wat jy het'

Dit sal egter nog 'n rukkie duur voordat sy haar doelwit kan bereik om 'n opvoedkundige sielkundige te word. Ná haar BA moet sy eers 'n Nagraadse Onderwyssertifikaat voltooi sodat sy kan skoolhou, gevolg deur 'n honneurs in Sielkunde en 'n magistergraad in Opvoedkundige Sielkunde. Nietemin is sy vol vertroue en opgewonde oor die toekoms. “Ek probeer leef volgens die mantra: Konsentreer op wat jy het eerder as wat jy nié het nie," sê sy. “Ek het soveel dinge in my lewe – my familie, my vriende, en die vermoë en geleentheid om te studeer.

“Dít alles vergoed daarvoor dat ek doof is, kogleêre inplantings het, en nie altyd so goed hoor nie. As 'n mens só daaraan dink, besef jy dat my doofheid eintlik iets kleins is. Daar is soveel ander dinge om op te konsentreer," sluit Rentia af.​