Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Ukwanda vier sukses en 20ste bestaansjaar by gemeenskapsfunksie
Outeur: Marketing & Communication / Bemarking & Kommunikasie – Wilma Stassen
Gepubliseer: 15/11/2022

Die 2022 Gemeenskap Vennootskapsfunksie wat deur die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid aangebied is, was ʼn besonderse geleentheid – dit was nie net die 10de keer wat dit aangebied is nie, maar dit het ook plaasgevind in die jaar wat die Sentrum sy 20ste herdenking vier.

“Die Gemeenskap Venootskapsfunksie is altyd een van die hoogtepunte van die jaar vir my. Vandag is egter nog meer spesiaal, aangesien ons 20 jaar van Ukwanda vier," het prof Ian Couper, direkteur van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid gesê in sy verwelkomingsrede op die dag. Die Sentrum is gesetel binne die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) van die Universiteit Stellenbosch (US).

Die doel van hierdie jaarlikse funksie is om klem te lê op die inspirerende werk tussen die Universiteit en landelike gemeenskappe, όf deur studente projekte, navorsing of ander inisiatiewe. Die funksie was versprei tussen drie plekke in landelike gebiede waar die Sentrum werk – Worcester en Hermanus in die Wes-Kaap, en Upington in die Noord-Kaap.

Dr Therese Fish, Visedekaan: Kliniese Dienste en Sosiale Impak by die FGGW het vanjaar se Hoffie Conradie-rede gelewer. Die landelike dokter en onderwyser, prof Hoffie Conradie was behulpsaam met die stigting van die Ukwanda Sentrum vir Landelike Gesondheid en was ook die eerste direkteur. “Hoffie Conradie is die personifikasie van 'n gemeenskapsdokter. Hy het ʼn hart vir landelike gemeenskappe, en hy het daarvoor gelewe om studente op te lei om gemeenskapsdokters te word. Dit is belangrik dat ons aan hom hulde bring by die Gemeenskap Vennootskapsfunksie deur middel van die Hoffie Conradie-rede," het Lindsay-Michelle Meyer, wat al vir meer as ʼn dekade aan die Sentrum verbonde is, gesê.

In haar toespraak het Fish, wie al sedert 2006 by Ukwande betrokke is, teruggeblik oor sommige hoogtepunte in die Sentrum se 20 jaar bestaan. “Dit was baanbrekerswerk deur ons leierskap om die Sentrum vir Landelike Gesondheid in 2001 te stig om spesifiek navorsing en opleiding in landelike onderbediende gebiede te bevorder," het sy gesê.  “Ons weet dat hoe verder jy van die stad af is, hoe swakker is die gesondheidsorg waartoe jy toegang het. Daarom wou ons buite die groot hospitale in die stad opleiding bied aan ons studente, sodat hulle nader is aan die gemeenskappe, en ons graduandi begrip het vir die maatskaplike determinante van gesondheid. Ons is trots om te sê dat die US vandag een van die uitgebreidste netwerke vir voorgraadse opleiding het."

Fish het ook erkenning gegee aan die pionierswerk deur die Universiteit se gewese Rektor, prof Russel Botman en sy bestuurspan, wie die saam met die FGGW gewerk het om die Worcester-kampus ʼn dekade na die opening van die Sentrum te stig. Dit het studente in staat gestel om hulle hele finale jaar by landelike gesondheidsorgfasiliteite deur te bring, waar hulle hulleself kon verdiep in die gemeenskap en meer leer oor die konteks van die pasiënte wat hulle bedien. Fish het ook hulde gebring aan die eerste groep van sewe mediese studente wat braaf genoeg was om die landelike platform te beproef. “Hulle was die pioniers, en hulle het die weg gebaan vir die ander studente, nie net van die mediese program nie, maar ook studente van arbeidsterapie, menslike voeding, fisioterapie, spraak-taal- en gehoorterapie, en binnekort ook verpleegkunde studente," het sy gesê.

Die terugvoer van studente oor die langdurige landelike rotasie was tot dusver oorweldigend positief, en studente beskryf hulle opleiding by landelike omgewings as “transformerend, lewens veranderend, ʼn positiewe leerervaring, ʼn geleentheid om ʼn beter begrip te ontwikkel van die mense en die plek."

Sy het ook al die interne en eksterne vennote bedank vir hulle samewerking met die Sentrum oor die jare, en het gesê dit was instrumenteel tot die Sentrum se sukses. “Ons kan nie die werk doen wat ons doen – studente opleiding en navorsing – sonder vennootskappe met die Departement van Gesondheid, plaaslike regering, nie-regerings- en gemeenskapsgebaseerde- organisasies," het Fish gesê. “Hulle is lewensbelangrik vir ons, en oor die jare het ons baie van die resultate van hierdie samewerking by die Gemeenskap Vennootskapfunksies gesien."