Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Werk van leerstoel in Plantgesondheid gaan voort
Outeur: Engela Duvenage
Gepubliseer: 14/11/2022

​Die voortreflike werk wat reeds deur die leerstoel in Plantgesondheid in die Departement Agronomie van die Universiteit Stellenbosch (US) gedoen is, sal voortgesit word, danksy die goeie nuus dat WinField United South Africa sy finansiële steun aan die onderneming vir nog drie jaar sal verleng. Die leerstoel steun die opleiding van ʼn nuwe geslag landbouwetenskaplikes, verskerp die vaardighede van praktisyns in die agri-sektor deur tersaaklike en geakkrediteerde kortkursusse en bied geleenthede vir leierskapsontwikkeling. Die leerstoel, met prof Nick Kotze van die US se Departement Agronomie aan die hoof, fokus toenemend op navorsing wat die gewasbeskerming- en plantgesondheidsfeer versterk en steun.

Toe dit in 2020 bekendgestel is, was die leerstoel die eerste van sy soort wat op plaaslike gewasbeskerming in die Suid-Afrikaanse landbousektor gefokus het.

“Oor die volgende drie jaar wil ons ons navorsingsportefeulje en die projekte wat deur ons kenners en nagraadse studente onderneem word, uitbrei. Ons wil die bedryf help om meer doeltreffende en omgewingsvriendelike opsies te vind, wat gebruik kan word wanneer kwessies rakende gewasgesondheid en gewasbeskerming ter sprake kom, wat uiteindelik winsgewende boerdery en voedselsekerheid beïnvloed," voeg prof Kotze by.​

Toegepaste navorsing word op ʼn verskeidenheid gewasse gedoen, soos tafeldruiwe, aartappels en graansoorte, met insette deur die datawetenskap- en agri-informatikasektore, onder andere. Die leerstoel het ook bande met die Universiteit van Minnesota in die Verenigde State van Amerika (VSA).

Hy is veral opgewonde oor die voorlopige bevindings van ʼn navorsingsprojek wat deur die leerstoel gefinansier word, wat daarop gemik is om alternatiewe te vind vir die sianiedgebaseerde produkte, wat tans gebruik word om die rustoestand van wingerde en vrugtebome te verbreek.

“MSc-student, Nicole Venter, het reeds ʼn magdom meer omgewingsvriendelike produkte van regoor die wêreld getoets. Sy kon reeds belowende alternatiewe uitken, wat gedurende die volgende termyn verder geëvalueer sal word. Hierdie produkte is nog nie vir gebruik in Suid-Afrika geregistreer nie en ons sal steeds ons bevindings moet publiseer," noem hy, sonder om die aap te ver uit die mou te laat. ​

Ten spyte van steeds stygende lewenskoste, het die leerstoel oor die afgelope jare algehele of aanvullende finansiering voorsien aan 44 nagraadse studente wat tersaaklike navorsingsprojekte aan die US onderneem, om seker te maak dat hulle hul studies suksesvol voortsit en afhandel.

Nog 96 voorgraadse en nagraadse studente in die US se Fakulteit AgriWetenskappe kon voordeel put uit die bywoning van die aanlyn Agri-Leierskapskursus van twee weke. Voorste praktisyns, soos Verity Price, wat in 2021 die wêreldwye 'Toastmasters'-kompetisie (seremoniemeesters) gewen het, onderrig waardevolle aanbiedingsvaardighede, saam met finansiële en projekbestuursvaardighede, tydens hierdie kursus. 

“Sommige van die studente wat reeds hierdie kursus gevolg het, het die ervaring as 'lewensveranderend' beskryf," sê prof Kotze. “Dit bied aan hulle die nodige professionele hulpmiddele om ʼn impak te maak wanneer hulle uiteindelik met hul onderskeie loopbane begin."

Die Agri-Leierskapskursus vir mense in die bedryf sal weer in 2023 aangebied word.

Die leerstoel fokus nie net op jong mense nie, maar ook op die slyp van die vaardighede van diegene wat reeds deel van die landbousektor is, deur middel van ʼn reeks geakkrediteerde kortkursusse wat deur die Universiteit Stellenbosch aangebied word. Die kursusse word deur US-dosente, in samewerking met kenners uit die bedryf en van die voorste internasionale universiteite, aangebied.

Kortkursusse is onlangs aangebied oor die veilige hantering van pesdoders en die beginsels van bewaringslandbou in kleingraanboerdery. Die onderwerpe wat weer in 2023 in kortkursusse gedek sal word, sluit in toepassingstegnologie in wyeveld- somer- of wintergewasse, kern- en steenvrugte en sitrus, wingerdkunde vir wyndruiwe, die bestuur van onkruid, siektes of nematodes en die gebruik van steunmiddele in gewasbeskerming, om net enkeles te noem. Vir meer inligting oor die keuse van kortkursuse wat aangebied word, besoek www.agritraining.co.za.

WinField United South Africa glo dat opvoeding en praktiese ondervinding die grondslag van ʼn suksesvolle onderneming vorm. Ons voortgesette steun aan hierdie landbougerigte leerstoel aan die Universiteit Stellenbosch verbind ons tot die voorsiening van ʼn nuwe generasie vaardige mense in landbou. Op sy beurt, sal dit ons bedryf met die jongste wetenskaplike kennis op die gebied van gewasbeskerming toerus," sê mnr Marius Boshoff, Hoof- Strategiebeampte, WinField United South Africa.

“Die gewasbeskermingsbedryf, saam met die verwante plantgesondheidsektor, benodig ʼn goed opgeleide, professionele werksmag wat innovasie aandryf en data voortbring. Dit stel ons in staat om praktiese insig te ontwikkel om verbouers te help om veilige, voedingsame en bekostigbare voedsel te produseer. Van gelyke belang is dat die verbouers die winsgewendheid van hulle bedrywighede moet verbeter, terwyl die omgewing vir toekomstige geslagte bewaar word."

“Ons is dankbaar vir die voortgesette steun deur die privaat sektor, soos WinField United South Africa en ander soortgelyke maatskappye, wat aan die US en die Fakulteit AgriWetenskappe en die Departement Agronomie in die besonder verleen word. Dit beklemtoon die gehalte en bedryfspesifieke werk wat deur ons personeel, nagraadse studente en hulle medewerkers in die bedryf en die akademie onderneem word. Dit bied waardevolle steun aan ons missie om ʼn universiteit te wees wat fokus op die behoeftes van die gemeenskappe wat ons dien," sê prof Sibusiso Moyo, Viserektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies van die Universiteit Stellenbosch.

* Vir meer inligting oor die kortkursusse, kontak prof Nick Kotze (nkotze@sun.ac.za) of besoek www.agritraining.co.za.
* Die leerstoel was oorspronklik die Villa Crop-leerstoel in Gewasgesondheid. Die naam is later verander toe die landbou-ondernemings, Villa Crop Protection en die InteliChem Group, saamgesmelt het om WinField United South Africa te vorm.

​​Meer oor WinField United South Africa

Die WinField United South Africa (Pty) Ltd-groep bring holistiese landbou-oplossings na die Suid-Afrikaanse bedryf. Hulle omvattende portefeulje van aanbiedinge dra tot tradisionele en innoverende gewasuitnemendheid by. Die groep plaas groot klem op verbouers, aangesien hulle uiteindelik die mense is wat die groeiende globale en plaaslike bevolking voed. Die hoofkantoor is in Kempton Park en hulle beskik oor ʼn landwye verspreidings- en diensnetwerk.
www.winfieldunited.co.za

Meer oor die Fakulteit AgriWetenskappe, Universiteit Stellenbosch

Die fakulteit is meer as 100 jaar gelede gevestig. Dit word gereken onder die top 100 agriwetenskapsfakulteite in die wêreld en is die voorste sodanige instelling in Afrika. Dit is tans die enigste fakulteit by ʼn universiteit in Suid-Afrika wat aan landbouwetenskappe toegewy is. Die US se Departement Agronomie, waar die WinField-leerstoel in Plantgesondheid gehuisves word, is een van die Fakulteit se oudste afdelings.
www.agric.sun.ac.za