Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Die herverbeelding van assessering vir ʼn transformerende studente-ervaring by die 2022 US AvOL-konferensie
Outeur: Dr Anthea H M Jacobs
Gepubliseer: 02/11/2022

​Vanjaar was die vyftiende aanbieding van die Universiteit Stellenbosch (US) se Akademieskap van Onderrig en Leer-konferensie (AvOL-). Die tema vir vanjaar se konferensie was “Assessering tel. Assesseringskultuur en -praktyke in heroënskou vir ʼn transformerende studente-ervaring". 

Elke jaar bied die AvOL-konferensie ʼn platform aan akademici om hulle onderrig- en leerpraktyke en navorsing te deel en te vier. Dit poog ook om alle aspekte van onderrig en leer aan die Universiteit in ʼn oop, ondersteunende en intellektueel stimulerende atmosfeer aan te pak. Akademici en leerkragte uit verskillende fakulteite aan die US kry die geleentheid om hulle navorsing, innovasies en besinnings aan te bied, mekaar op te voed en ontluikende akademici by die geleentheid, wat jaarliks deur die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking gereël word, te besiel. Vanjaar het die konferensie in hibridiese formaat plaasgevind, met vooraf werksessies in persoon by die Devon Valley-hotel, en die res van die konferensie-aanbiedings aanlyn op MS Teams. Die konferensie is deur 231 geregistreerde deelnemers bygewoon en 77 opsommings is vir die verskillende aanbiedingsbane voorgelê. 

In die openingsrede van die konferensie het die Adjunkvisekanselier: Leer en Onderrig, professor Deresh Ramjugernath, verwys na die behoefte dat die US as instelling verby die idee van leer en onderrig per se moet kyk, en waarlik oor leer, onderrig en assessering moet praat. Professor Ramjugernath het voorgestel dat die naam van die konferensie dalk verander moet word na die Akademieskap van Leer, Onderrig en Assessering-konferensie. Nog ʼn kernverwysing in professor Ramjugernath se toespraak was die idee van ʼn “transformerende studente-ervaring". As een van die strategiese temas van die Universiteit, is dit volgens hom belangrik om te onthou dat dit nie net op studente van toepassing is nie, maar ook op dosente. Dit is ʼn transformerende reis vir almal wat by leer, onderrig en assessering betrokke is. 

Een van die hoogtepunte van vanjaar se konferensie was die programrede deur professor Paul Ashwin, Professor van Hoër Onderwys en Hoof van die Departement Onderwysnavorsing aan die Universiteit van Lancaster in die Verenigde Koninkryk (VK). Die onderwerp van professor Ashwin se toespraak was “Die rol van assessering in ʼn transformerende universiteitsopvoeding". Professor Ashwin het voorgestel dat sterker opvoedkundige argumente vir die mag van ʼn universiteitsopleiding ontwikkel moet word, wat verduidelik waarom akademiese kennis kragtig is en waartoe dit studente in staat stel. Hy het voorts aangevoer dat assessering daarop gefokus moet wees om studente se betrokkenheid by kragtige kennis en hulle vermoë om hierdie kennis in die wêreld te gebruik, te evalueer. 

Ander hoogtepunte van die konferensie was ʼn hoofsprekerspaneel en ʼn afsluitingspaneel. Die onderwerp van die afsluitingspaneel was “Die toekoms van assessering aan die US: Van vrees vir mislukking na die vreugde van leer". Die sessie is gekenmerk deur lewendige groepsbesprekings. Gedurende die hoofsprekerspaneel se bespreking van die onderwerp “Hoe assesseringspraktyke verander kan word om ʼn transformerende studente-ervaring te steun", kon afgevaardigdes luister na insette deur drie verskillende paneellede, wat die internasionale, nasionale en institusionele konteks verteenwoordig het. Professor Lan Yang van die Opvoedkunde-universiteit van Hong Kong het gepraat oor die belangrikheid van die terugvoer-oriëntasies van studente en dosente. Professor Francois Cilliers van die Universiteit van Kaapstad het die konferensiegangers daaraan herinner om “aktiewe eienaars" van assessering te wees, eerder as “passiewe ontvangers". Die derde lid van die paneel, professor Richard Stevens van die US, het die Regsfakulteit se inisiatiewe vir die verbetering van assesseringspraktyke gedeel. 

Die konferensie het op ʼn hoogtepunt geëindig met die aankondiging van die beste aanbiedings. Die volgende referate is as die beste in verskillende kategorieë aangewys:

  • Navorsingsbaan: “Na ʼn raamwerk vir die ontwikkeling van spanwerkvaardighede by rekeningkundestudente" – deur Riana Goosen en Gretha Steenkamp (Skool vir Rekeningkunde)
  • Innovasiebaan: “Die onderrig van identiteitskonstruksie in akademiese tekste deur middel van modaliteit en visuele hulpmiddels" – deur Taryn Bernard (FLSW)
  • Afgevaardigdes se keuse: “Om Afrika in die klaskamer in te bring" – deur Patricia Zweig (FLSW – Navorsingsalliansie vir Ramp- en Risikovermindering)
  • Beste PRONTAK-plakkaat (soos deur die afgevaardigdes gestem): “Van uitstel, kom afstel" deur Melissa Botha, Kerotse Kekana en Sabrina Matthee (EBW) 

Al die konferensie-sessies en -aanbiedings is opgeneem en is beskikbaar in die AvOL 2022 Konferensie Team. Besoek ook die webwerf van die konferensie by https://www0.sun.ac.za/sotl/ vir meer inligting oor die konferensieprogram en toegang tot opsommings van al die aanbiedings.