Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe navorsingsleerstoel in geometallurgie by die US geborg deur African Rainbow Minerals
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 11/10/2022

Die Universiteit Stellenbosch (US) en African Rainbow Minerals (ARM) gaan saamwerk aan 'n inisiatief om die volhoubaarheid van mynbou te verseker deur innoverende navorsing en opleiding in geometallurgie.

Die nuwe African Rainbow Minerals (ARM) Navorsingsleerstoel by die US sal interdissiplinêre navorsing en opleiding in die ontluikende veld van geometallurgie in  die Suid-Afrikaanse minerale hulpbronindustrie dryf.

Geometallurgie is die integrasie van geologiese, mineralogiese en metallurgiese data in 'n drie- dimensionele ruimte ten einde 'n ruimtelik-bewuste prosesseringsmodel te skep wat die lewensiklus van 'n myn-/ontginningsaanleg in baie fyner besonderhede kan voorspel – letterlik van die wieg tot die graf.   

As gevolg van die interdissiplinêre aard van die navorsingsleerstoel, word die amp gedeel tussen Dr Bjorn von der Heyden van die Departement Aardwetenskappe en Dr Margreth Tadie van die Departement Prosesingenieurswese. Dr Von der Heyden se spesialisveld is ekonomiese geologie, geometallurgie en geochemie, met flotasiechemie, geometallurgie, en prosesoptimering en -modellering as dié van Dr Tadi. 

Dr Von der Heyden sê hulle glo dat 'n ertsbron se volle waarde eers werklik ontsluit kan word deur middel van interdissiplinêre en samewerkende begrip: “Deur die ertsliggaameienskappe in driedimensionele ruimte beter te begryp, kan ons werksvloeie en modelle skep in die konteks van die volle mynwaardeketting".  

Met die wêreld wat al hoe nader aan skoner-energie alternatiewe beweeg, sê Dr Tadie is die uiteindelike doel om die lewensiklus van 'n myn op so 'n wyse te modelleer dat dit 'n nul-impak op die omgewing sal hê: “Daar is 'n groeiende mark vir hernubare energie vir die sogenaamde groen en batterymetale soos koper, kobalt, mangaan en litium. Maar sonder 'n holistiese benadering in die ontwerp van mynbedryfsaanlegte, kan hierdie metale nie as volhoubaar beskou word nie." 

André Joubert, uitvoerende hoof van ARM: Yster, het na afloop van die aankondiging gesê verantwoordelike omgewings, sosiale en bestuurspraktyke is integraal tot ARM se strategiese prioriteite om veilig, verantwoordelik en doeltreffend te funksioneer: “Ons glo dat hierdie interdissiplinêre samewerking die Suid-Afrikaanse mynbou-industrie as 'n globaal-mededingende rolspeler sal posisioneer".

Die twee medebekleërs van die navorsingsleerstoel werk alreeds sedert 2017 saam, en sluit ook die gesamentlike studieleiding aan vier nagraadse studente in, en hulle was ook mede-outeurs van drie navorsingsartikels oor dié onderwerp wat in internasionale eweknie-beoordeelde vaktydskrifte verskyn het. Hulle albei sal ook voortgaan om op voorgraadse, sowel as honneursvlak betrokke te wees by die onderrig van, en opleiding in minerale bronne- en geometallurgie-verwante onderwerpe. 

Hulle beplan om 'n betekenisvolle bydrae te lewer tot hierdie ontluikende veld in suider-Afrika en ook op globale vlak, asook om aanpasbare gegradueerdes te lewer met veelvuldige vaardighede wat mekaar aanvul, en wat in staat is tot breë stelselvlakdenke. Dít alles wil hulle bereik deur 'n benadering wat “buite silo's" dink.   

  • African Rainbow Minerals het onlangs 'n oorkoepelende memorandum van ooreenkoms met die Universiteit Stellenbosch aangegaan met die doel om 'n werksverhouding te vestig om volhoubare waarde te skep en geleenthede vir samewerking in areas van gemeenskaplike belang te identifiseer. Die African Rainbow Minerals (ARM) Navorsingsleerstoel in Geometallurgie is as een so 'n geleentheid geïdentifiseer. Vanaf Januarie 2023 sal die navorsingsleerstoel vir vyf jaar geborg word.  

 

Foto's geneem deur Wiida Fourie-Basson, SU