Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe hoofredakteur en uitvoerende direkteur vir die WAT
Outeur: WAT/ Corporate Communication
Gepubliseer: 06/10/2022
​Dr Phillip Louw is met ingang 1 Januarie 2023 aangestel as die nuwe hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Die WAT is die grootste verklarende Afrikaanse woordeboek. As 'n omvattende verklarende woordeboek strewe dit daarna om die Afrikaanse taal as 'n geheel te weerspieël.

Prof Hester Klopper, voorsitter van die WAT-direksie en Viserektor: Strategie, Globale en Korporatiewe Sake aan die Universiteit Stellenbosch (US), het gesê: “Die direksie van die WAT is vol vertroue dat Louw se aanstelling die Buro van die WAT tot groot voordeel sal strek. Hy is 'n kundige met uitgebreide ondervinding. Ons glo dat Louw by die WAT sal floreer en die Buro as 'n toekomsgerigte organisasie op strategiese en innoverende wyse sal lei.

“Vir 'n veeltalige universiteit soos die Universiteit Stellenbosch is die WAT inderdaad 'n groot bate. Ek sien uit daarna om Louw op Stellenbosch te verwelkom," het sy gesê.

Louw is 'n alumnus van die Universiteit Stellenbosch​ en het 'n DLitt in Leksikografie (met 'n fokus op skoolwoordeboeke) aan die Universiteit verwerf. Hy het sy loopbaan as deeltydse dosent in die Departement Afrikaans en Nederlands aan die US begin, waarna hy na die Buro van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal getrek het. Ná sewe jaar as mederedakteur by die WAT, het hy in 2005 as senior redakteur by Oxford University Press Southern Africa (OUPSA) aangesluit. Sy eerste projek as redakteur vir OUP, die Oxford Afrikaans-Engels English-Afrikaans Skoolwoordeboek School Dictionary, het die ATKV-Woordwystoekenning in 2008 ontvang. Hy was ook die hoofredakteur van die eentalige Oxford Afrikaanse Skoolwoordeboek wat in 2012 verskyn het. Tot Desember 2022 dien hy as uitgewersbestuurder: woordeboeke en letterkunde by OUPSA, met 'n bykomende ondersteuningsrol vir die res van Afrika en Australië.

Vanaf 2013 tot 2019 was hy lid van die Afrikaanse Taalkommissie van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en hy het meegewerk aan die 11de uitgawe van die Afrikaanse Woordelys en Spelreëls. Sedert 2019 dien hy as bestuurslid van die African Association for Lexicography (AFRILEX) en ook op die wetenskaplike komitee van die European Association for Lexicography (EURALEX) vir 2020–21. In 2022 was hy die medevoorsitter van die Oxford English Dictionary se Oxford World English Symposium.