Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Herlewing van uitgestorwe spesies onder soeklig in Stellenbosch Forum-lesing
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 06/10/2022

Wat is die punt daarvan om uitgestorwe spesies soos die kwagga te laat herleef?

Dit was een van die vrae wat prof Sandra Swart van die Universiteit Stellenbosch se Departement Geskiedenis ondersoek het in 'n onlangse Stellenbosch Forum-lesing. Die lesing, die sewende in die reeks vir 2022, se tema was 'Zombie-soölogie: die einde van uitsterwing?'

Die Stellenbosch Forum-lesingreeks word sedert 1990 aangebied en bied gereelde geleenthede vir US-personeel en -studente, asook lede van die publiek, om meer te wete te kom oor die navorsing van wêreldgehalte wat by die Universiteit gedoen word. Die lesings, wat op 'n toeganklike en verstaanbare manier aangebied word, bied aan beide akademici en nie-akademici 'n platform vir kritiese debat wat oor die grense van vakgebiede strek.

Swart het in haar lesing gesê om uitgestorwe spesies soos die kwagga – wat aan die sebra verwant is – te laat herleef, kan 'n vorm van verstandelike herstel vir mense wees.

“Om die uitgestorwe kwagga te laat herleef, is 'n doelbewuste handeling van berou en skadeherstelling. Dit het beslis die vermoë om 'n baie wyer gehoor bereik as wat die meeste bewaringstories kan doen. Die kwagga stel ons in staat om die skaarsste dier van almal in bewaringskringe weer te kan teëkom.

“Die restourasie van die kwagga kan as 'n teenmiddel dien vir die diepgaande pessimistiese narratief van afwendbare, onkeerbare vernietiging van spesies weens menslike aktiwiteite," het Swart bygevoeg.

Sy het gesê die kwaggaprojek kan baie maklik as 'n romantiese fantasie afgemaak word wat op die naïwiteit of selfbevrediging of arrogansie of neoliberale ambisie dui.

“Hierdie projek is egter nie 'n bombastiese wetenskaplike bewering van kloning nie, maar eerder iets wat ons as 'n spesie al vir 10 000 jaar doen sedert ons diere begin mak maak het, en die diere begin teel het wat ons vir ons lande, tafels, ons mae, ons oorloë of vir ons siele nodig het."

Volgens Swart was die kwagga een van die heel eerste diere waaraan die Suid-Afrikaanse regering formele beskerming verleen het. Die laaste kwaggas wat wild in die natuur voorgekom het, het teen 1878 uitgesterf. Hulle is soms vir hul velle en hul vleis gejag.

Swart het die verhaal vertel van hoe die Duits-gebore taksidermis Reinhold Rau in 1986 'n program begin het om die kwagga terug te bring van uitsterwing. Rau het in 1969 'n kwaggavul in die Suid-Afrikaanse Museum in Kaapstad (nou bekend as die Iziko Museum) heropgestop. Danksy sy pogings om die kwagga te laat herleef, kon genetici bepaal dat die kwagga baie na aan die sebra verwant was en nie 'n aparte spesie was nie.

Swart noem dat daar teen 2004, 21 vulletjies in Suid-Afrika gebore is met sommige wat merkbaar minder strepe gehad het. “'n Mylpaal is bereik toe 'n skynbeeld van die oorspronklike kwagga in 2005 gebore is. Hy is Henry genoem en was 'n dubbelganger van die vul wat Rau 1969 heropgestop het."

Volgens Swart was die regering van die begin af nie ten gunste van die projek nie.

“Plaaslike boere en kapitaliste en 'n paar akademici wat die geduld gehad het om vir baie nageslagte te beplan, het die projek geborg. Die regering het die projek eers in 2000 amptelik erken."

Die kwagga was nie die enigste spesie wat wetenskaplikes laat probeer herleef het nie, het Swart gesê. Hulle het ook probeer om spesies soos die Huia-voël, die Pirenese ibeks (Europese steenbok), die Tasmaanse wolf en die trekduif te laat herleef. 

“Elke keer wanneer wetenskaplikes sê hulle gaan een van hierdie verlore diere laat herleef, is die publiek gaande daaroor. Hoewel daar beperkte sukses is, maak hierdie projekte gewoonlik verwaande, aanmatigende aansprake wat dít wat tans wetenskaplik moontlik is, vooruitloop. Hierdie aanmatigende retoriek word volgehou in die populêre sfeer en in sommige wetenskaplike kringe."

Volgens Swart is restourasieprojekte nie polities neutraal nie. “Sulke projekte is produkte van die historiese konteks ten opsigte van tegnologie wat dit moontlik maak én die Zeitgeist (tydsgees) wat dit gewens maak."

Sy het ter afsluiting gesê die alliansie tussen ryk weldoeners, wetenskaplikes en die korporatiewe wêreld is in herlewingsprojekte sigbaar.

  • Foto: Die kwagga, Huia-voël en die Pirenese ibeks.