Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
SA plantkundige ontdek nuwe iris-spesie in die Langeberg
Outeur: Wiida Fourie-Basson (Faculty of Science)
Gepubliseer: 03/10/2022

​Suid-Afrikaanse plantkundige Brian du Preez (29) het 'n pragtige nuwe spesie van die Iridaceae-familie teen die hange van die Langeberg van die Wes-Kaap, Suid-Afrika ontdek.

Die naam van die nuwe spesie, Geissorhiza seracina (algemene naam: Kersiesatynblom), is ontleen aan die diep kersiepienk kleur van die blare  − met seracus wat kersie beteken.

Brian sê hy en prof Peter Linder, 'n vriend en mentor, was vroeg in Desember 2021 besig met 'n twee dag lange staproete van 40 km op die Boosmansbos Wildernisroete tot by Grootberg, toe hy hierdie plante vir die eerste keer raakgeloop het.

“Ek het foto's geneem, maar nie 'n voorbeeld versamel nie. Eers later nadat ek die foto's vir dr John Manning, 'n deskundige op die gebied van die Iris-familie gestuur het, het ons besef dat dit moontlik 'n nuwe spesie is," verduidelik hy. Manning werk by die Compton Herbarium van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI).

'n Week later het Brian weer die berg aangedurf en 34 km in nege ure afgelê  ten einde 'n herbariummonster te versamel sodat dit bestudeer kan word en die morfologie van die spesie beskryf kan word. 'n Paar bolle is versamel vir ex situ-bewaring in die Universiteit Stellenbosch se Botaniese Tuin.  

Saam met nog 'n voorpuntdeskundige op die gebied van die Iris-familie, Prof Peter Goldblatt, senior kurator by die Missouri Botaniese Tuine in St Louis in die VSA, het hulle onlangs 'n beskrywing van die nuwe spesie in die South African Journal of Botany gepubliseer.

Brian sê dit is een van sy opwindendste vondste van die afgelope tien jaar: “Nuwe Iridaceae-spesies word selde gevind en ek kry meestal nuwe peulgewasspesies. Dis nie dikwels dat 'n nuwe spesie so mooi is nie".

Brian is tans besig met sy PhD-studies in plantkunde aan die Universiteit van Kaapstad (UK) onder die studieleiding van prof Muthama Muasya (UK) en medestudieleier Prof Léanne Dreyer van die Universiteit Stellenbosch (US).  

Met die nuutste ontdekking staan die getal Geissorhiza-spesies  in Suid-Afrika nou op 106, waarvan 24 sedert 1986 ontdek is. Terwyl die genus taksonomies relatief goed verstaan word, word nuwe spesies steeds in afgeleë of minder toeganklike dele van die Groter-Kaapse Blommestreek ontdek.

Tans is ons net bewus van hierdie een spesifieke plek waar hierdie pragtige spesie voorkom. 

Op die foto's bo: Brian du Preez en die nuutontdekte Kersiesatynblom.