Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Beleggings in IKT kernbelangrik vir inklusiewe ekonomiese groei, ontwikkeling in Afrika
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 27/09/2022

Beleggings in inligting-, kommunikasie- en tegnologie-infrastruktuur (IKT) is die sleutel tot volgehoue inklusiewe ekonomiese groei en ontwikkeling in Afrika.  

Dít is volgens ʼn studie deur dr Mamello Nchake van die Departement Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch en dr Mohammed Shuaibu van die Departement Ekonomie aan die Universiteit van Abuja in Nigerië.

Die studie is onlangs in die eweknie-beoordeelde tydskrif Scientific African gepubliseer. Daarvolgens is daar toenemende konsensus dat beleggings in IKT-infrastruktuur armoede en ongelykheid kan help verminder, ekonomiese geleenthede kan skep, inligtingsongelykmatighede kan aanspreek om doeltreffendheid te bevorder en geïsoleerde gemeenskappe kan help om by handel betrokke te raak en ʼn hoër inkomste te genereer.

“'n Doeltreffende en verbeterde IKT-infrastruktuur verminder transaksiekoste en verhoog maatskappye se produktiwiteit, wat positiewe groeisurplusse op ʼn makro- én mikro-ekonomiese vlak meebring," sê die navorsers.  

“Die 2020-Africa Economic Outlook-verslag toon dat slegs ʼn derde van die lande inklusiewe groei behaal het wat armoede en ongelykheid verminder het. Die verslag benadruk die behoefte aan werkskepping en die ontwikkeling van meer geleenthede om toegang tot onderrig van gehalte te bekom, byvoorbeeld deur toegang tot skole in afgeleë skole uit te brei en die gebruik van ITK-infrastruktuur in skole te verhoog."

Die navorsers het verskeie IKT-gebaseerde infrastruktuurmaatreëls gebruik om die impak van beleggings in IKT-infrastruktuur op inklusiewe groei in Afrika te ondersoek – groei wat arm mense bevoordeel en mense in staat stel om tot groei by te dra en daarby baat te vind. Hulle het data van 46 lande in Afrika tussen 2000 en 2019 ontleed.

Hul bevindings toon dat beleggings in IKT-infrastruktuur ʼn positiewe uitwerking op inklusiewe groei in Afrika het.

“'n Toename in IKT-infrastruktuurbeleggings stimuleer groei met gemiddeld 0.4% tot 0.7%," sê hulle. “Ons resultate toon sterk gronde vir ʼn toename in IKT-beleggings, veral in landelike gebiede, om inklusiewe groei op die vasteland te genereer en volle voordeel te trek uit geleenthede wat uit die Afrika-vryehandelsooreenkoms spruit."

Volgens Nchake en Shuaibu kan IKT-infrastruktuurbeleggings deur digitisering inklusiewe groei help bevorder in die sin dat marktekortkominge soos inligtingsongelykmatighede in verskillende sektore aangepak kan word.

“Digitale identiteite kan banke byvoorbeeld help om geloofwaardige leners op te spoor of kan die soeke na werk en die vind van gepaste kandidate in die arbeidsmark verkort. Dit kan gekombineer word om markeffektiwiteit te verbeter, onsekerhede oor belangrike beleggingsbesluite te verminder en sekuriteit in Afrika, waar inligtingsvloei deurslaggewend vir inklusiewe groei is, te verbeter.

“Boere kan voorts deur middel van ditgitale tegnologieë beter toegang tot markte verkry, asook tot geleenthede om inligting oor die toevoeging van waarde tot hul produkte te bekom," sê die navorsers.

“In die lig daarvan dat die Afrika-jeug tegnies vaardig is, asook veerkragtig en aanpasbaar by die vinnig ontwikkelende globale digitale ekonomie, kan digitisering en beleggings in IKT-infrastruktuur ʼn nuttige instrument wees om armoede, ongelykheid en werkloosheid op die vasteland te verminder en inklusitiwiteit te bevorder."

Die navorsers benadruk die potensiaal vir verhoogde digitale konnektiwiteit deur te wys op ʼn 2021-verslag van die GSM-vereniging (Global System for Mobile Communications), wat raam dat 615 miljoen mense in Afrika suid van die Sahara teen 2025 op mobiele dienste ingeteken sal wees – dit is rofweg gelykstaande aan 50% van die streek se bevolking. Daar word voorts geraam dat US$155 miljard teen 2025 deur mobiele tegnologieë en dienste gegenereer kan word.  

Hul studie toon dat bestaande IKT-toegangsgapings oorbrug kan word deur werk van die ontoereikende streekskonnektiwiteit tussen lande en substreke te maak.

Wat die pad vorentoe betref, het die studie die behoefte onderstreep om die inwerkingstelling van ITK-streeksinisiatiewe te bespoedig, soos die Digitale Transformasiestrategie vir Afrika (2020–2030) deur die Afrika-Unie en Ekonomiese Kommissie vir Afrika se Sentrum vir Uitnemendheid vir Digitale Identiteit, Handel en Ekonomie, wat sedert 2018 steun aan Afrika-lande verleen om hul IKT-ontwikkelingspogings te verskerp om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te bereik.

“Die versterking van streeksbeleid en reguleringsraamwerke wat aandring op meer ondersteuning en mededingendheid van die IKT-sektor, soos laer lisensiëringskostes en minder aansoek- en registrasieprosedures, asook die bevordering van nie-diskriminerende toegang tot kritiese IKT-infrastruktuur, kan oorweeg word," aldus Nchake en Shuaibu.

Hulle sê beter toegang tot elektrisiteit in Afrika is van deurslaggewende belang om die doelwitte van verhoogde tele-densiteit, toegang tot internetdienste en breëband-penetrasie te bereik.

“DIt is van deurslaggewende belang dat die voordele van digitisering oor lande en substreke heen versprei word as ons ruimtelike ongelykhede wil aanpak."