Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Prof Lize van Robbroeck ondersoek koloniale nalatenskap en ras in die visuele kunste
Outeur: Corporate Communication & Marketing / Korporatiewe Kommunikasie & Bemarking [Alec Basson]
Gepubliseer: 16/09/2022

Prof Lize van Robbroeck van die Departement Visuele Kunste het onlangs haar professorale intreerede, getiteld ' Kuns en die Nalatenskap van Witheid by die Universiteit Stellenbosch se Departement Visuele Kunste', gelewer. Sy het met die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gesels oor hoe haar werk kwessies van koloniale nalatenskap en ras in die visuele kunste ondersoek.

Vertel ons meer van jou navorsing en hoe jy in hierdie spesifieke vakgebied begin belangstel het.

Ek werk reeds sedert my PhD – wat oor wit kunshistorici en -kritikusse se kritieke ontvangs van swart artistiese modernisme in Suid-Afrika gehandel het – met ras-kritiese teorie en diskoersanalise. Ek het sedertdien in settelaarskolonialismestudie en psigoanalitiese teorie begin belangstel. Ek pas albei toe op die vraag van hoe Suid-Afrikaanse visuele kunstenaars koloniale erfenis en ras in hul werk hanteer. Ek het onlangs met feministiese nuwe materialisme ('n vakgebied wat op die materiaal fokus en binêre teenstellings soos verstand-liggaam, natuur-kultuur en menslik-niemenslik vermy) en ander ekokritiese teorieë begin werk om oor kunstenaars te skryf wie se werk die langtermyngevolge van 'n Westerse episteem (dit is 'n Westers-gebaseerde stelsel van kennis, idees en veronderstellings) bestudeer wat tot hierdie huidige krisis van die Antroposeen (die huidige geologiese tydperk waar menslike aktiwiteite die natuurlike wêreld diepgaande verander) gelei het.

Beskryf die relevansie van jou werk.

My werk is relevant omdat ons 'n dekoloniale oomblik in die wêreldgeskiedenis beleef wat baie selfrefleksie deur kunstenaars en vakkundiges verg.

Vertel ons meer oor die impak van jou navorsing.

My werk word hoofsaaklik deur vakkundiges aangehaal wat navorsing doen oor die nalatenskap van kolonialisme in Suid-Afrikaanse kuns, maar ook wyer deur skrywers wat oor ras, nasionalisme en visuele kultuur in die voormalige settelaarskolonies skryf. 

Vertel ons watter aspekte van jou werk jy die meeste geniet.

Ek is baie lief vir onderrig en skryf, maar bowenal vir lees.

Die pandemie het die manier waarop ons werk en leef verander. Hoe het jy gemotiveerd gebly in hierdie tye?

Die afgelope paar jaar was vir my weens persoonlike redes baie moeilik, maar ook baie Ionend wat betref die stryd wat ons almal beleef, want dit het my op ryk en belonende maniere laat nuut dink oor ons verhouding tot ander planetêre kragte en lewensvorm.

Vertel ons iets opwindends oor jouself wat mense nie sal verwag nie.

My gunstelingtydverdryf is om met my honde te gaan stap. Ek kan vir ure aaneen stap en geniet elke oomblik. Ander mag dalk nie dink dit is baie opwindend nie, maar vir my is dit!

Vertel ons hoe jy jou vrye tyd weg van lesings en navorsing spandeer.

Ek is lief vir lees, kamp en stap. ​